Читать книгу Aanspreeklikheid - Jaco Fouché - Страница 16

13

Оглавление

Die herfsdae is stil en loom. Dag lank lê die lug roerloos tussen die huise. Ek is moeg vir die lewe in die dorp. Die wandelpaadjies in die berg lok my. By die kiosk waar veldblomme uitgestal word, hou ek stil, die enigste motor in die skuins parkeerplekke teen die teerhelling, oor­weeg ’n wandelstaf uit ’n houer en koes vir ’n doringtak, stamp in die proses hard teen ’n glasbottel wat met ’n geraas breek en vergeet dadelik van die staf. Uit ’n Wendy-huisie het twee mans in uniform vaak-vaak ver­skyn. Eers verwag ek ’n teregwysing, maar hulle voel ken­nelik skuldig, probeer paraat lyk, knik saaklik vir my. Die een snuif diep en verstel aan sy gordel waaraan daar ’n radio en nog iets hang wat moontlik ’n irriterende stof spuit. Die ander waarsku my op offisieuse wyse oor gerugte van aan­valle in die berg. Hy sê: “Meneer, in Suid-Afrika moet jy sorg dat jy die gevaarlikste man in jou blok is.” Ek ver­seker hom ek is.

Op die mooi dag stap ek deur water en teen ’n helling uit. Ná ’n ruk kyk ek terug, oor ’n handvol dorp en die eindelose see. Die klanke van die verkeer kom onduidelik na my toe wanneer ek my kop draai, op die wieke van ’n ligte wind wat oor die fynbos en my oorskulpe waai. In die baai dryf bote. Ek sien ’n paar van die heldergeel kajakke wat van die Ou Hawe uitgaan en die kus suidweswaarts volg, vrolike korrels rys teen die donker see. By die Nuwe Hawe strek die hawehoof die water in tot waar ’n toring ’n einde daaraan bring. Teen die kaai lê groot bote, waaronder ’n katamaran.

Ek kan die fynbos om my ruik, ’n geil reuk soos uit ’n wasgoedmandjie. Ek stap verder, vinnig. Die idee is om moeg te word, om als uit my te stap wat ek nie met wilsinspanning kan verban nie, al die ou gedagtes en ontevredenheid en die ewige gevoel van ontnugtering. Dis deesdae pal asof iemand my pas ingelig het my voorregte is verbeur en my leeftyd erg ingekort.

So volg ek die paadjies en draai af of op soos die gier my pak, draf­stap teen steiltes uit, gly-val teen steiltes af. By ’n strook water wat aan die onderkant van ’n skuinste blink, moet ek eenkant toe staan vir ’n groepie wat my met Amerikaanse stemme groet. Die vriendelikheid is oordrewe. Miskien is hulle bang. Miskien het hulle iets oor Suid-Afrikaners gehoor en wil sorg dat hulle welwillendheid uitlok voor enige ander impuls kan posvat. Dan gaan ek verder, dieper die berg in, uit die sonkolle, na waar die koue in my neus kriewel.

Onder ’n krans stort water in ’n koel holte sodat die klank van die gespat weergalm. Die grond om my is nat, my skoenpunte ook. Lank staan ek daar by die waterval. Toe ek loop, en om ’n draai in die paadjie gaan, skrik ek en ’n trop bobbejane ewe groot vir mekaar. Hulle spat uit­mekaar die bosse in en teen ’n aantal rotse uit. Ek gaan met kloppende hart verder. Daar is iets spesiaals aan die dag, die herinneringe, die skrik, die wonderlike manier waarop my hart in my borskas klop, my voete in my skoene brand.

Dan is ek ’n uur of wat alleen op die klipperige paadjie. Daar is bye wat om die plante gons en goue patrone in die lug weef. Die plante lyk mooi, op ’n manier duursaam én duur. Ek dink daaraan dat ek nie ’n inwoner is nie, maar ’n in­kommer, ’n toeris. Dít is ek oral op aarde, en so what? Dit word ’n baie goeie dag, so weg van alles in my woonstel af. Nou begin ek weer dink aan wat voorlê, in die res van my lewe. Ek kan nie vir ewig in Her­manus bly nie. Iets sal hom egter voordoen, ’n geleentheid, ’n plan, ’n rede.

Ek staan aan die rand van ’n damwal. Voor my strek bruin water, die boonste sowat dertig sentimeter deursigtig voor ’n donkerder skakering oorneem en die bodem verskans. Die oppervlak kabbel lig in die windjie, waarvan ek bewus word noudat my warm vel afkoel.

Dit is nie meer vroeg nie. Miskien moet ek teruggaan.

Bo ’n klein woud is die paadjie ’n ruk weer steil waar dit teen twee hange uit sigsag. Ek trek die lug diep in my longe in, stoot dit uit, trek dit in, tot my bors jeukerig begin voel en ek half duiselig moet gaan staan voor ek stadig verder ploeter. Dan word die kloof weer vlakker, die steilte neem af. Ek is amper bo en teen die laaste sagte glooiing gaan dit mak­lik. Ná die inspanning van loop tot hier voel ek sterk en rats. Dis ook warmer hier in die laatmiddagson. Om my groei blink, koel gras waar­deur ek die punte van my vingers vee, asof deur koringare. Van hier kan ek na weerskante oor die milddadige voorkop van die berg kyk, die kleur daarvan liggroen en bruin, die lug daarbo blou soos die see wat Walker­baai onder my vul, en daarduskant die lang, smal dorp wat so sereen lyk, ten spyte van optogte, moorde, aanrandings, verkragtings, ver­neuk­spulle, ongelukke, hartseer, ongeskiktheid, opportunisme, teenspoed, klein­amptenary, ambisie en diverse ander aspekte van die menslike aard wat op die oomblik in werklikheid niks met my te doen het nie, hier waar ek voel hoe die sweet om my oë afkoel.

Op die berg begin die wind erger waai. Die son sit laag. Die moegheid wat oor my gekom het, het my luim versteur; ek voel wrokkig. Ek kry ook koud: snuif, nies, sal weer moet begin loop, of koue vat.

Dus baan ek my weg deur die gras tot by ’n grondpad. Ek is op ’n gelykte bo-op die berg. ’n Mens kan hier mense verwag wat met die bergpad by Mount Pleasant opry om oor die baai uit te kyk wanneer hulle nie deur bendes beroof en bedreig word nie.

Tweehonderd meter van my af, aan die westekant, is mense in kleur­volle gewade besig om met helder valskerms van die berg af te sweef. Iemand hardloop, arms orent, die toue in sy hande, en agter hom lig die skerm uit die fynbos op, gaan oop en staan op, en hy verlaat saam met die wind die aarde en sweef na een kant toe in ’n lang, lui draai terwyl sy voete spore trek teen die verbyskuiwende bergwand. Nou sien ek daar is reeds verskeie valskermspringers aan daardie kant van die berg, waar hulle tydsaam wegsweef en afdaal en weldra op ’n sportveld by die hoërskool land. Ek is teleurgesteld om hulle te sien. Ek wil alleen op aarde wees.

Gaandeweg word ek kwater. Daar staan ek ongemerk, halflyf in ’n holte en boonop agter ’n klos groen bos waarvan die fynste blaartjies in die wind bewe, en ek staan daar tot ek besef die valskermspringers begin gaandeweg in daardie rigting skuif voor hulle spring, waarskynlik weens die een of ander gier van die wind wat ek nie bespeur nie, en ek moet gaan, ontstig soos ek is.

Na die noorde, weg van die see, sak die grond af in ’n vallei waar die skaduwees begin rus kry soos vee wat kraal toe kom. Die son sit net bo die hoë horison wes van my. Oor die see het slierte wolk kleur gekry. Die land anderkant die baai lyk donkerder, soos oogskadu. Daar is iets ongemakliks aan die toneel. Dis asof ’n gespanne vrou haar gereed maak om vir die aand uit te gaan, met goedkoop hoender in die vooruitsig, die onvaardige innuendo en dan, onvermydelik, die daad. Ek voel hart­seer, berouvol, stryk aan, weg van die uitsig oor die vallei, weg van die na­derende valskermspringers wat by my uitkykpunt van flussies kom en nou buk en beduie na die grond en verwonderd en verskrik onder me­kaar praat terwyl ek terugmik na die roete wat ek pas afgelê het teen die berg uit, die sweetvlekke koel onder my arms en in my kruis waar ek my lyfband afgestoot het, my voete warm in my skoene.

Aanspreeklikheid

Подняться наверх