Читать книгу Aanspreeklikheid - Jaco Fouché - Страница 19
16
ОглавлениеNiemand weet wie Soraya se woonstel se sleutels het nie. Die dier is al dae lank alleen. ’n Waterbak is leeg. Op die ou end gaan ek by haar bure in en klim oor die muur en kry met geduld die hondjie gevang. Die bure stem in om na die dier te kyk solank hulle kat nie te ontsteld raak nie. Hulle het ook ’n tuin. Ek gaan terug na my woonstel toe, tevrede dat ek ’n goeie daad verrig het.
Dan bel ek vir Jansen. Hy antwoord en ek hoor ’n gelag en musiek op die agtergrond. Hy is in ’n joviale stemming en praat voor ek kan sê wat ek wil hê.
“Meneer Diehl, jy moet meer uitkom. Daar was nou die aand ’n aangename byeenkoms by die Nuwe Hawe. Jy kon rustig daar gaan sit en musiek luister het.”
“Was jy daar?” vra ek vinnig.
“Nee. Nou ja, meneer die skrywer. Watse wysheid kan jy vandag aan my oordra?” vra hy. Miskien het hy ’n gehoor aan daardie kant van die verbinding, iemand wat al ’n boek gelees het. Dis seker onwaarskynlik in hierdie troebel tye.
“Ek wou net hoor of daar al nuus is? Oor die moord?” vra ek so terloops moontlik.
“Ek het uitgevind ons vriend John was ’n soldaat, maar teen my verwagtinge in nie die supermenssoort nie. Geen recce nie, geen valskermsoldaat nie. Nie eens ’n korporaal met ’n repertoire beledigings nie. Hy was ’n seiner met ’n oog vir ’n geleentheid. Tydens sy grensdiens dekades gelede het hy sy wapens bekom en dit self afgery Suid-Afrika toe, met ’n Unimog wat hy by ’n depot vasgelê het. Dis wat hy gedoen het, hy het die Unimog by die kamp uitgery, daarmee Kaap toe gekom, sy wapens by sy ouerhuis versteek en met die Unimog al die pad teruggery sonder dat iemand hom voorkeer. Dit het hom vier dae geneem en heelwat diesel. Natuurlik moes hy die diesel self koop, by die gewone motorhawens. By die militêre depots sou hulle ’n logboek wou sien.”
“En hoe het hy en Soraya mekaar geken?” vra ek. Ek en sy het toe nooit uitgekom by die uitruil van romantiese oorlogstories nie.
“Mekaar in ’n gebedsgroep ontmoet. Ek vermoed albei het by die kerk aangesluit in die hoop om iemand ordentlik te ontmoet. En daar sit hulle toe met mekaar, en kyk wat gebeur.”
“Jy klink sinies.”
“Ek is ’n poliesman. Kon jy iets uitvind?”
“Ek het hier en daar gesels, maar ek het net gehoor die man wat by haar gebly het, is van tyd tot tyd deur die polisie huis toe vergesel, smoordronk.”
“Bespeur ek oordeel in jou stem? Die Mag kan nie by allerhande beuselagtighede betrokke raak nie. Hulpbronne is beperk.”
“Is die bier dan amper op?” mompel ek, want op die agtergrond roep mans blykbaar na ’n kroegman.
“Wat?”
“Niks. Dan gesels ons weer, Jansen.”
“Joune ok,” sê die man vrolik.