Читать книгу Aanspreeklikheid - Jaco Fouché - Страница 17
14
ОглавлениеMy selfoon lui waar dit op die toonbank lê. Ek is besig om frikkadelle te maak. Dis ’n eenvoudige resep wat ek op Tjailatyd gehoor het: 500 g maalvleis, ’n bakkie ongegeurde jogurt, twee groot lepels van Ina Paarman se hoenderaftreksel. Ek gebruik volstruisvleis omdat dit ’n maer vleis is. Ek was my hande voor ek die foon antwoord, wat met elke lui ’n paar millimeter oor die wit blad skuif.
“Dis Jansen hier,” sê die stem aan die ander kant. “Luister, jou Theo was die aand van die moord in die backpackers. Hy was in ’n woordestryd gewikkel met drie Australiërs, wat hom heelnag besig gehou het. Hulle is so die hel in vir hom, hulle sê hulle sal hom nooit vergeet nie. Dus was hy nie op die moordtoneel nie.”
“Dit moet tog hy wees …” Maar ’n mens wil nie geesdriftig klink nie. “Is dit nie?”
“Ek dink jy oorskat sy kriminaliteit. Hy’s net ’n bedrywige jong man.”
“Maar wie anders kan dit wees?”
“Ek dink ek gaan verder terug kyk. Vertel my van die man wat homself geskiet het.”
“Soraya het gesê dat hy ontsteld was die dag van sy dood, maar hy was gedurig moeilik. Sy het van hom gepraat as ’n moeilike ou man, iesegrimmig.” Ek is bereid om te praat. ’n Mens moet monnike van hulp wees. Buitendien is daar soveel onderwerpe wat óf taboe óf onbenullig is dat ’n mens een moet aangryp wanneer dit noemenswaardig is.
“Wat weet jy van hom?” vra Jansen.
“Iemand het gesê hy is ’n oudsoldaat. Dis miskien waar die wapens vandaan kom wat hulle in die woonstel gekry het.”
“Ja, bymekaargemaak aan die grens. Opgegaar soos ’n eekhoring met akkers maak. En vir wat? Die winter? Die oorlog wat nooit kom nie? Jy sal nie glo met hoeveel paranoia die Mag te kampe het nie.”
“Sjoe. Arme mensdom.”
“Laat weet as iets jou byval.”
“Soos wat?” vra ek verdedigend.
Jansen het doodgedruk.
Dis moeilik om dit buite te waag wanneer ’n mens ’n paar dae alleen in ’n paar vierkante meter was. Gewoonlik haas ek my na die motorhuis, ry, doen wat ek moet en niks meer nie, kom terug en gaan my woonstel met groot verligting binne. Nou staan ek egter in die binnehof van die blok en wag. Iemand kom weldra verby, ’n maer vrou sonder voortande wat my vra of ek vir haar ’n sigaret het. Ek het nie. Sy bly staan, ’n vreemde glimlag op haar gesig, begin praat oor die Mag wat snags kom. ’n Minuut of wat luister ek belangstellend; hier kan ’n onverwagte brokkie insig in die aard van dinge wees.
Die opsigter kom aangestap en groet, nie sonder dat sy ondersoekend na die vrou kyk nie. Die maer vrou het ophou praat en slaan ’n rigting in. Die opsigter sê: “Sy is weer hoog. Maar die korporatiewe liggaam pas druk toe op die eienaar van haar woonstel. Haar kontrak gaan nie hernu word nie. Dan is sy uit, ek gee nie eens om waar sy dan beland nie. Dis wat met jou gebeur as jy nie jou kant bring nie.”
Sal die vrou op straat beland? Sal sy haar kan regruk? Die raaisel is te veel vir my. Woonstelpolitiek. Ek gaan eerder terug na my eie plek toe.