Читать книгу Aanspreeklikheid - Jaco Fouché - Страница 13
10
ОглавлениеSy kom uit die badkamer in ’n kort donkerrooi-en-swart kledingstuk met fyn werk aan die some. Sy lyk stylvol, sy is groot gebou, maar dra dit goed, beweeg grasieus en met beloftes van gesondheid en vreugde. Ek wag in haar bed, verleë oor my pap maag. Ek was onseker oor hoeveel klere ek moet aanhou en het besluit om nie dadelik my broek uit te trek nie.
Teen ’n muur is ’n reeks foto’s waarvan ’n paar beeltenisse van die ongelukkige John bevat, aan die visvang, aan die braai, aan die bier drink. Dalk moet ek dit aan Soraya noem dat ons tog nie onder sy valkoog durf vry nie. Maar ek sal dit nie doen nie; netnou bedink die vrou haar. Oor ’n bedlampie hang ’n serp om die lig te versag. Daar is wyn in glase en pepermente in ’n bakkie. Die kamer is ’n boudoir, tref dit my en ek skrik vir my snobisme, hierdie koel oordeel wat in die verlede alte maklik gemaak het dat iemand uit my lewe ’n boek binnestap.
Ek moet my dwing om nie in skrywersmodus te gaan en krities na als te kyk nie en tog is daar die behoefte om aantekeninge op my selfoon te maak soos een wat ’n aanval beplan, mortiervuur moet rig met behulp van ’n veldradio. Beter om net regop te sit, Soraya se hand te neem toe sy dit uitsteek, goedkeurend te kyk hoe sy haar knie op die bed laat rus en naderkom, haar bolyf op haar arms gestut sodat haar borsgleuf duidelik tussen die vol hompe vertoon. Sy soen my, lig haar hand, streel my dy. En so aan. ’n Ruk lank beoefen ons voorspel.
Musiek speel. “Mense van ons ouderdom speel altyd tagtigsmusiek wanneer hulle vryerig raak,” sê sy met haar lippe teen my mond. “Dis omdat seks toe uitgevind is.”
“Gaan jy my nou van jou eerste keer vertel?” vra ek. Voel ek jaloers? Is dit die gevoel? Ek dink eerder aan eindes, die toemaak van die deur op die toneel van die orgasme.
“Nie dadelik nie. Ons hou dit vir die outopsie van hierdie sessie. Jy laat my dink aan my boyfriend by UWC. Mal oor chat op die weirdste tye. Ek moet jou vra …”
“Wat my seksuele geskiedenis is?”
“Wat jy dink van ons? My mense.”
En dink moet ek eers dink. Die kans is daar dat ek die luim hewig gaan bederf. “Ek is bewus van skrywers uit die Kaapse Vlakte wat my as wit leser onomwonde vertel hulle verag my.”
“En jou gevoelens oor hulle?”
“Waarom sou ek iets ondersteun wat my uitsluit?”
“Uitsluit? Jy is ’n wit man met ’n wit geskiedenis en jy praat van uitsluit? Ai, daardie tunnel vision. Snow blindness. En jy weet nie eens waarvan ek praat nie. Jy begryp dit eenvoudig nie. As dit nie vir die seks was nie, het ek jou uitgesluit.”
Ons praat sag en verleidelik, soen en druk en streel. Miskien moet ek weer iets sê, dit voel na so ’n geleentheid. Maar genoeg van goeie maniere. Ek moet haar nou naak sien en my geslagsorgaan in hare indruk en teen haar stamp, stamp, stamp. Ek wil haar verstaanbare, verstandige woorde in primitiewe kreuntjies laat wegraak. Snow blindness? Wat de hel? Ek is nie van enige lae temperature bewus nie.
Die laaste kledingstukke word uitgetrek. Dan haak die CD vas en herhaal dieselfde halwe sin. Soraya spring op en vervang die CD. In naaktheid is sy wel selfbewus, dink ek goedkeurend, want een been knak voor die ander in soos dié van ’n meisie op ’n kerkfoto. Weer moet ek my bedwing of ek neem aantekeninge.
“Ek sit sommer hierdie een in,” sê sy nadat sy vinnig na my gekyk het. Gou speel ’n country-liedjie. “O nee,” sê sy, “wat is dit? Wag, hier is klassieke musiek.”
Sy wag dat die musiek begin speel, strelend en mooi, en kom weer na my toe, die gulhartige vrou wat die verlangende man in haar lewe begenadig en hom op ’n vry trakteer. Terwyl sy regop voor my staan in die sagte lig, merk ek die letsel aan haar skouer. Dis waar sy geopereer is: ’n pienk rivierloop deur ’n swartbruin vlakte. Sy sit op haar knieë voor my op die bed en wys dit aan my, vir oorweging en goedkeuring miskien. Ek kyk na die wond. Dis waar sy geskiet is, in daardie rivierloop in hierdie woonstel. Sy het iets beleef. ’n Vrou met ervaring. Aan die ander kant is ek ’n man met ervaring. Ons maak dus liefde, ons en ons vele ervarings.
Dit hou nie. Daar word inbreuk gemaak. Iemand hamer aan die voordeur. “Soraya!” roep ’n harde manstem wat ek dadelik herken. Dis die man wat hier gebly het. “Maak oop, ek weet jy’s hier, jou kar staan hier voor.”
Ek skud my kop vir Soraya. Sy trek ’n gesig. Ons probeer die liefde voortsit, maar die geklop kom weer en iemand voel-voel-voel aan die deurknip.
“Ek is nou hier,” sê sy, klim van my af en trek haar japon met die draak op die rug aan. Ek bly agter, meteens impotent. Voel ’n bietjie kwaad. Moet dit sluk.
Sy het die kamerdeur op ’n skreef getrek en ek kan hoor wat hulle by die voordeur vir mekaar sê.
“Wat wil jy hê, Theo?”
“Weet jy watse geneuk is dit om blyplek in hierdie dorp te kry? Ek sit in die backpackers’ lodge. Dis vol mense wat nie snags wil slaap nie en ek moet môre Kaap toe ry met ’n vrag.”
“Jy kan nie hier bly nie. Gaan nou.”
Teen hierdie tyd het ek my klere aan. Ek glip stadig my sandale aan, kan dan nie langer wag nie en gaan by die deur uit, die sitkamer binne.
“Soraya het jou gevra om te gaan,” sê ek vir hom. Hy kyk ongelowig na my. Die oor van sy sonbril is voor by sy hemp ingehaak. Die knope is oop tot laag op sy bors. Ek is bewus van die man se fisieke krag, die dik arms in die kort moue, die lang, maer lyf, in stand gehou deur perlemoen uitduik, swaar kiste drank smokkel, baklei tot die dood toe in die gate van die nag – wie sal weet? Hy is jonk, ten minste twintig jaar jonger as ek.
“Oom,” sê hy stadig, “is jy nie bang vir ’n hartaanval op die job nie? Jy lyk nie vir my gesond nie. Soraya, lyk hy nie vir jou bleek nie?”
“Cheers,” sê ek kortaf en tree nader.
Dit het geen uitwerking behalwe om die man te laat lag nie. “Oompie, jy moet maar weer dink.” Hy kom na my toe en druk sy vinger ferm teen my bolip vas, skuif dit eenkant toe sodat ek my kop moet draai of my lip word beseer. Ek sê liewer niks, maar staan my staan en hoop dis genoeg.
Dit is nie. Hy vat my gesig in ’n groot hand vas en skud my kop heen en weer. “Oompie, as jy nou net dertig jaar jonger was, het jy lankal in jou eie spoeg gelê.”
“Los hom uit,” sê Soraya en woel aan sy arm om sy hand los te maak. Ek self ruk en pluk ook.
Die man los my. Sy druk aan hom, in die rigting van die deur. “Uit, uit, uit! Ek wil niks meer met jou te doen hê nie.”
Die jong man laat hom in daardie rigting stuur. By die deur lig hy sy arm en wys na my. “Jy’s in tamatiestraat, ou ballie,” sê hy. “Ek sien jou in die dorp. Ek weet waar jy jou broodjie knibbel.”
“Loop!” skree Soraya.
Die man is weg. Ons hoor hom nog buite in die vierkant skel. Dan is dit stil.
Soraya gaan sit op die rusbank. “Jammer. Hy’s net kwaad, dié dat hy so met jou praat. Hy’s ongebalanseerd, is een oomblik nog vriendelik en as jy weer sien, is daar ’n scene wat heelnag duur. Ek raak onrustig wanneer hy dwelms gebruik. Dis asof hy gevaarlik kan wees.”
Ek gaan sit langs haar, onmagtig. “Dwing hy hom op jou af?” wil ek weet.
Dit lyk of die vraag haar skepties laat voel. Ek is spyt ek het dit gevra; dit was miskien skynheilig van my. Toe ek my hand na haar skouer uitsteek, leun sy weg van my. Ek staan op, miskien liggeraak, maar ek besef die aand is daarmee heen.
“Sit,” sê sy kortaf. Miskien dink sy sy is in beheer. Was ek tot dusver te lankmoedig? Take charge, young man. Change the world, young man.
“Dis nou verby,” sê ek.
“Jy kan ten minste die nag by my bly.” Sy lyk dikmond. Ek hou nie van wat ek sien nie.
“Nee, liewer nie.”
“Ek maak vir ons koffie.” Maar sy staan nie op nie; haar blik bly dwaal tussen my en iets in die hoek van die vertrek. Ek dink nie sy kan my lank in die oë kyk nie. Ek dink ek het haar teleurgestel. Dis iets wat mans aan vroue doen. Dis soos ’n grootse tema wat die grondslag vorm van al die ander moderne temas, daardie teleurstelling wat die magswanbalans in die wêreld reflekteer. Teleurstelling? ’n Mens word as kind toegerus met verwagtinge en die res van jou lewe moet jy cope met die teleurstelling. Die huis wat jy verlaat, vind jy nooit weer nie.
“Ek gaan nou maar eers,” sê ek.
Sy kyk met oënskynlike verontwaardiging na my, sê niks. Iewers skiet ek tekort. Die situasie is onmoontlik, ek kan nie uitpluis wat ek reg gedoen het en wat ek verkeerd gedoen het nie.
“Solipsisme,” sê sy. “Dis mos daardie filosofie wat jy genoem het, die een met die selfsug.”
Sy kyk nie weer op nie. Ek loop by die deur uit en gaan op na my eie woonstel. Hier loop ek op en af in die sitkamer, tussen my boekrak en die boeke op die vloer en die skootrekenaar met my verhaal van Joseph Fouché, wat nou so laf en oorbodig lyk. Dis verstommend hoe min die letterkunde soms kan beteken.