Читать книгу Aanspreeklikheid - Jaco Fouché - Страница 7

4

Оглавление

By die woonstelblok gaan dit party nagte onrustig. Daar is uitroepe, van uitgelatenheid, ander kere van ongeduld, dronkenskap of moedeloos­heid. Of blote onnadenkendheid, want die mense wat langs my bly, besef nie hulle praat so hard voor my kamervenster wat op die binnehof oop­maak nie. Ek word in die nag wakker en lê in die donker en wag dat dit stil word. Af en toe sit ek die lig aan om te lees, maar dan voel ek soos ’n teiken. Asof iemand my lig gaan merk, nader gaan kom, op asiel gaan aandring, om hulp gaan smeek.

Ek kry besoek. Dis Peet. Ek sien hom die eerste keer in twaalf jaar. Ons het mekaar ontgroei, deels omdat ek meen hy is onbetroubaar wan­neer hy drink. ’n Listige karakter en ’n poetsbakker, hy. Daar was voorvalle in die verlede, ek wat by hom en sy vrou kuier en gelukkig is, so gelukkig en gekoester soos nog selde in my lewe.

Ek onthou ’n situasie waar ek dolgelukkig op die vloer lê en sê: “As ek julle net kan vertel van die lewe en hoe dit is.”

En die twee van hulle lag histeries en sy vrou sê: “Dis so lekker om jou hier te hê, Jaco.” En hulle lag weer.

Eendag sien ek in hulle kombuisie hy sprinkel iets oor die kos wat hy besig is om te maak. Hy sê dis neutmuskaat en vra of ek wil wyn hê. ’n Ander keer praat sy vrou van hoog raak en hou meteens haar hand voor haar mond. ’n Derde keer verklaar ’n ander vriend van hom ná ’n partytjie hy kan nie verstaan waarom hy vanoggend so goofed voel nie. Die rede was eenvoudig dat Peet sy gaste dagga voer: dít is die verklaring vir sy gewildheid en die toeloop van mense in hulle lang, smal woonstel met die skewe teëls in die gang. Dit is geensins die een of ander watwonder­se persoonlikheid wat hy het nie; dis weens dwelms dat hulle kuiers by hom betekenisvol is. Maar maak dit saak? Hy was eens ’n vriend. Is nou geselskap, min of meer.

Ek luister na dit waaraan hy hom verwonder – sy seuns wat hy slim verklaar, sy vrou wat hy lojaal noem, sy belangstelling in motorfietse, valskerms, ski in Europa, rugby, sokker, ou vriende wat roekelose, avon­tuurlike dinge doen.

’n Uur word twee uur. My gesels is op. Ek luister, kyk later na my vriend se foto’s op ’n groot selfoon, die een ná die ander: die seuns aan die seunsdinge doen, die vrou, laggend met ’n glas wyn, ’n verjaardag­koek, ’n hamburger, ’n groot motor, uitstappies na vermaaklikheidsparke met verspotte kreature en tydverdrywe wat vir my na tydmors lyk. Gly teen hierdie baan af, klim daardie muur, jaag met ’n motorfiets oor so ’n bult. Peet vertel my hoe hy met die motorfiets van ’n berg­paadjie teen ’n skuinste af is, ses meter ver, en hoe hy gedink het hy gaan dit nie maak nie.

Toe sê my goed aangepaste vriend, onder die indruk dat hy my guns het: “I’m gonna blow your mind.”

Hy het ’n sakkie saamgebring waaruit hy ’n virtuelewerklikheids­masker haal waarin hy sy selfoon glip. Hy laat my dit opsit. Ek sit my nie teë nie, hoewel ek voel ek moet. Daar is te veel geskiedenis: Peet wat op dertien my girlfriend afvry deur my te bly verkleineer sodat sy nie anders kan as om haar na die sterker seun te wend nie; Peet wat my matriek-date by die afterparty druk en daarna verklaar: “Ek weet nie eens saam met wie sy gegaan het nie”; Peet wat met ’n derde belangstelling van my lol en my by my huis kom vertel van die vryery. Al die vryery in die lewe, al die klein triomfies. Geen prestasie sonder dat iemand anders in die proses verneder word nie.

Gou “beleef” ek dinge: ’n vis wat na my swem, ’n slang wat na my pik, ’n vrou met Oosterse gelaatstrekke wat naderkom en uittrek en haar be­gin betas terwyl sy haar heupe wikkel.

“Ek het ongelukkig net porn om jou te wys,” vertel Peet, sy stem self­versekerd.

Ek sit na die beelde in die kopstuk en kyk. Oor en oor kom die vrou nader, trek uit, betas haar, glimlag. Daar is nie klank nie en ek weet nie wat sy sê wanneer haar lippe beweeg nie.

“Dis realisties, nè?” sê my vriend. “Die nuwe tegnologie. Sê wat jy wil, die wêreld verbeter heeltyd. Ek wil darem regtig nie, sê maar, ’n honderd jaar gelede geleef het nie.”

“Ek dink ek sou wou,” verskil ek. “Tweehonderd jaar gelede. In ’n groot baksteenhuis in Engeland, met honde en hoenders. Daardie groot ou huise … mainstay van die Britse samelewing … Dis tragies dat eras verbygaan.”

“Hoekom sou jy in so ’n plek wou leef? Rykmanskind?” Hy doen nooit moeite om sy minagting weg te steek nie. Peet neem gou aanstoot wan­neer hy ’n gesprek nie goed volg nie.

“Nee. As Jane Austen se geliefde.” Ek voeg by: “Iemand wat oor my kan skryf, my in ’n boek kan inwerk en …”

Peet lag dat sy oë kreukel. Ek bly stil.

Toe daar ’n klop aan my deur is, vlieg ek verlig op. Dis die vrou wat voor my deur staan, die oorlewende. “Hallo,” sê sy, arms gevou. Moet afkyk na my, sy met haar lengte. Haar hare val my weer op, die grys in die swart. Sy het ’n wit hemp aan met ’n koddige karaktertjie op die sak. Voor my staan ’n besoeker. Agter my sit ’n besoeker. Altyd hierdie verwarring wanneer een deel van ’n mens se lewe by ’n ander uitkom. “Kan ek met jou praat?” vra sy.

“Kom in, kom in,” sê ek, bewus van Peet.

Sy gaan staan toe sy hom sien. “Ek sal eerder terugkom.”

“Kom sit,” sê my vriend kalm, altyd een om leiding te neem. Hy het die virtuelewerklikheidsmasker weer gebêre in die sakkie wat langs hom lê. Een been is oor die ander gegooi en sy arm lê lankuit op die rugleuning van die rusbank. Dis nie ’n houding wat ek hom kan nadoen sonder om potsierlik te lyk nie: my ledemate is te kort en my eise van die lewe te beskeie.

“Nee,” sê die vrou kalm. Onwillekeurig bewonder ek haar vir haar fermheid. Nie almal staan my vriend teen nie; al van sy tienerdae af be­veg hy enigiemand wat dit doen. Sy kyk na my en draai na die deur, arms steeds gevou, en dan is sy weg.

“Love interest?” vra Peet droog, miskien geaffronteer omdat sy nie wou inkom en sy geselskap indrink, na die foto’s wou kyk, na die beelde in die masker nie. Wat sou sy van porn dink?

“Buurvrou. Ek dink ek is verskillende dinge vir verskillende mense,” sê ek.

Iets het met Peet se wenkbroue begin gebeur – hulle het ’n krul ont­wikkel wat hom hooghartig en komies laat lyk. Gaan hy lag? “Dit tref ons almal,” sê hy dan. “Jy kan nie vir een mens sê wat jy ewe casual vir die volgende kan sê nie. Maar die ding is, ’n mens moenie met mense pelle wees met wie jy nie casual kan wees nie, Jaco.”

Hy bly nog twintig minute, doen die praatwerk. Meestal gaan dit oor ’n gemeenskaplike vriend wat aan ’n internetkultus behoort en gelukkig is en Peet verraai eintlik die man deur iets so vertrouliks met soveel veroordeling aan my mee te deel. Ek sit en wonder hoe hy oor sy besoek hier verslag gaan doen: ek sonder my af in die woonstel? Ek wil niemand sien nie? Daar steek waarheid in. Toe is die gesprek verby en kan hy sy foon en sy masker neem en opstaan, met die verskoning dat hy nog ander draaie wil loop. Ek sien hom by die hek af.

“My ma sal jou wil sien,” sê hy. “Jy was omtrent soos ’n kind in die huis.”

“Ek is nogal besig op die oomblik.”

Peet sê: “Jy lyk kriewelrig in my teenwoordigheid.”

“Nee, nee,” stamel ek, sê iets oor ’n olikheid en ’n lang dag.

By die stopteken op die hoek wag hy om te draai. Ek peins oor die lewe sonder hom.

Ek gaan na die lang vrou se woonsteldeur. Laat rol met die volgende vriendskap. Nou is ek bly om die vrou te sien toe sy die deur oopmaak. Die karaktertjie op haar bors is iets tussen koddig en skrikwekkend.

“Kom in,” sê sy. Sy is iemand wat vinnig na ’n mens kyk, dan nie gou weer nie. “Jou vriend daar in jou woonstel. Jy het ongemaklik gelyk.”

“Nee, wat. Verhoudings … dis mos maar ’n plig. En jy word ouer en sosiale dinge kry so ’n formele lagie oor. Kon netsowel saam met die diaken gekuier het.” Dis nie heeltemal waar nie.

“Wens jy jy kan van mense vergeet? Altyd net in die oomblik leef?” vra sy. Sy het ’n melodieuse en geoefende stem soos dié van iemand wat les gee iewers.

“Vergeet? Ek het my geheue nodig. Selfs al is herinneringe pynlik.”

“Wat is dit wat jy onthou?”

“Dat als ingewikkeld was. En dat mense nie dieselfde gebly het nie. Elke mens wat by ’n geselskap bykom, verander daardie geselskap só dat jy die betrokke mense skaars herken. Ek kon dit nie verstaan nie. Dit was asof hulle my in die steek laat.”

“Ek raai jy hou van jou geheime,” sê sy met ’n laggie.

“Miskien.” Ek lag nie saam nie.

In uitleg is die woonstel soos myne, hoewel nie in meublement nie. Haar yskas is groter en daar is ’n skottelgoedwasser langs haar stoof. Die sitkamerdeel is deurmekaar. Op die rusbank en op ’n gemakstoel lê mans­klere. Die deur na die tuin staan oop. So dis hier, dink ek, dís waar hy haar geskiet het voor hy na die tuin is om daar te sterf. Dis iets om van kennis te neem, te stoor. Dis deel van die wêreld se geskiedenis.

“Ons sien jou nie eintlik nie,” sê sy. “Maar jou balkondeur staan baie oop.”

“Vir die luggie. Word bedompig in so ’n woonstel.”

“Ek weet wat jy bedoel. Wil jy iets drink?”

“Nee, nee,” sê ek. Die mansklere het my afgesit. Ek wil nie hier be­trokke raak nie. Die stemme uit hierdie woonstel en tuin is te hard, die sentimente te aggressief. Dwing ’n mens net om op te tree.

“Glo jy aan ’n doel?” vra sy. Dis asof sy my toets, my diepte peil. “Mense wat met ’n doel oor mekaar se pad kom.”

Ek vryf oor my ken. “Uh, nee, ek kan nie eintlik sê dat dit so werk nie.”

Of dit iets vir haar beteken, weet ek nie, want sy sê nou: “Die opsigter sê jy was hier toe John my geskiet het.”

Ek swig en gaan sit op die rusbank, op die punt, my bene uitmekaar, knieë op my elmboë. Ek het die opsigter vertel wat ek gehoor en gesien het. “Ons moet seker praat.”

“Dit was so onnodig. Ek wil hê jy moet weet dit was ’n ongeluk.”

“Ek het julle hoor stry voor die tyd.”

“Ons was vies vir mekaar. Het al hoe meer vasgesit. As ’n verbintenis net goor kon begin en van daar af beter word, maar dit werk andersom. Miskien begin ’n mens met te veel verwagtinge. Maar daardie middag … hy het sy skietgoed skoongemaak. Dit was sy stokperdjie, die arsenaal wat hy aangehou het, ’n ding oor jonk wees en ure op die skietbaan en in die bos en waar hy ook al oral was. Gesê as iets gebeur, as ons aangeval word, is hy reg. Kom hulle deur die tuindeur, gryp hy die haelgeweer. Is dit die slaapkamervenster, die Glock. Pistool in die kar onder die sitplek, een in die boot. Niks wettig nie. Ek moes aan die polisie verduidelik hoekom ons met al die skietgoed gesit het. Amper was ék die een in die moeilikheid.” Sy het langs my kom sit, op die mansdenim, in die wanorde van die vertrek. Ek ruik ’n deodorant of seep. Die reuk herinner my aan my ma. Ek asem diep in.

“Ek is jammer oor wat gebeur het,” sê ek terwyl ek uitblaas.

“Is jy?” vra sy.

“Hoekom stel jy dit so? Wil jy iets van my hê?”

“Soos wat?”

“Miskien voel jy ek moes iets gedoen het daardie middag?” vra ek, byna geïrriteerd. Miskien is ek te veel op my eie. ’n Mens vergeet gou hoe­veel draadwerk daar aan ’n gesprek kan wees.

“Wat kon jy gedoen het? As jy afgekom het na ons toe, het jy jou dalk net in ’n koeël vasgeloop. John was in ’n verskriklike bui. Hy het moeiliker en moeiliker geword.”

“So daar was nie juis rede vir sy gedrag nie?”

“Watter ouerige man is nie moeilik nie? Dit maak ’n saak uit vir liewer ’n vriendin kry. Ek was die oggend dorp toe en toe ek terugkom, is hy aan die wapens skoonmaak en grumpy. En toe vra ek hom wat presies sy probleem is terwyl hy die magnum optel, sommer net so as ’n reaksie. En daar gaan die ding af en tref my. Liewe gode. Ek kon nie glo daardie stampgevoel is ’n koeël wat my tref nie. En die pyn in die hospitaal! Dis mal, wat gebeur het.”

Ek sê liewer niks. Miskien moet ek verkas. Kyk of ek in die berg kan gaan stap.

“En die man wat gedurig hier braai?” vra ek. “Ek moet vensters en deure toehou.”

“Ek moet die huur inkry, dis al hoekom hy hier is,” sê Soraya. “Hy stel nie belang in my nie. Hou van my tuin en chat lekker met my. Maar ek het nie ’n band met hom nie. Hy is baie jonk, onthou. Daar is nie die ver­troue wat ’n mens as vanselfsprekend tussen ’n man en ’n vrou aanvaar nie.”

“Jy het ook nie met my so ’n band nie en ek is nie jonk nie.”

“Maar ek het tog so ’n band met jou. Jy was die mens naaste aan die ding toe dit gebeur het. Ek hoor jy was die eerste een om hom dood in die tuin te sien lê. Daardie soort van ding beteken iets.”

Ek staan op en skud my kop. “Jammer, kan nie help nie. Wat ek gesien het, was toevallig. Daar was niks wat ek gesien het wat ongewoon was nie.”

“Maar jy het tog gesien. En gehoor. Dis die situasie. Jy is betrokke, al wil jy nie wees nie. Jy het self gesê jy wil nie vergeet nie.”

Ek stap na die voordeur. Soraya bly sit op die rusbank. Sy sê agter my aan: “Jou gedrag.”

“Wat? Wat van my gedrag?”

“Dis selfsugtig. Sodra jy iets vir ander mense moet doen, verloor jy alle belangstelling in hulle.”

Aanspreeklikheid

Подняться наверх