Читать книгу Onse Vaders - Karin Brynard - Страница 12
ОглавлениеHoofstuk 8
8
Beeslaar druk sy hande dieper in sy broeksakke in, spyt hy het nie sy nuwe, te klein baadjie aan nie. Dit was vroeër die aand windstil en warm. Hy gaan staan om sy neus te snuit, vererg met sy oë wat so water van die wind, sy neus laat loop.
Gewoonlik hou hy van wind. Maar hierdie ding hier... hierdie suidoos. Hy’s te wild. Nog ’n goeie rede vir hom om rooidag môre in die pad te val. Huis toe. Shit, huis toe. Snaaks dat hy deesdae nie meer aan Johannesburg dink as hy dit sê nie. Voel vir hom hy’s sy lewe lank nog in die Noord-Kaap.
Maar toe Ghaap netnou praat van Soweto...
Hy vóél die plek, eerder as wat hy hom onmiddellik sien. ’n Nare plek, op die beste van tye. Maar daar bly mense daar. Alle soorte. Skarminkels. Maar ook goeie, gewone mense. Die meerderheid. Mense wie se lewens ook maar woes opgeneuk is met apartheid. En nou se dae... Hulle vreet steeds die skerpkant van die land se misdaad.
Vir ’n lang ruk, toe hy nog in die honde-eenheid was, was hy daar. Dit op ’n manier liefgekry... die rye, rye, rye klein twee- en viervertrekhuisies. Omhein met enige ding wat sal regop staan – flentergat-walle teen die misdaad. En by die huise waar daar geld is, is daar die hemelhoë vibracrete-mure. Hy glimlag, onthou skielik die township-naam vir die mure: stop nonsense walls.
En die sinkplaatkrotte – mukuku’s soos hulle daar bekendstaan. Meer as wat daar hare op ’n hond se rug is. Elke agtertuin het een. Of drie, of vier. Aanmekaargetimmer van stukke optelhout, sinkplaat, swartsakke. Lyk soos kraaineste. En daar’s altyd ’n swetterjoel kaalgat-kleintjies. Met snot wat in twee vet slymstrepe uit die neus in die mond in loop. En hoenders. Wit leghornhoenders. Rocks, noem die locals dit, pothoenders.
Toe hy daar aangeland het in die laat tagtigs, was dit nog hoofsaaklik vir onlustebeheer. Hoe’t hulle nie daai plek deurkruis nie – snags as die sogenaamde comrades ontpop het in comtsotsi’s, ’n skrikbewind gevoer het. Die boendoehowe, waar snotkoppe van so jonk as veertien “ongehoorsames” verhoor en self gestraf het. Ouers, onderwysers, dominees – enigiemand wat die comrades geïrriteer het. Met strawwe wat wissel van lyfstraf tot necklacing.
Beeslaar ril en slaan sy hempskraag op. Hy’t op die hoek van ’n straat uitgekom wat vir hom vaagweg bekend lyk. Links af sien hy fakkelvure op die sypaadjie voor ’n restaurant. Vir die res is die strate stil. Negeuur op ’n Dinsdagaand. Waar sou die plek se krippe wees? Dorp met ’n universiteit, kollege – sal mos darem kroeë hê. Of is die plek te grênd, dalk?
Van iewers hoor hy doef-doef-klanke. Hy volg die klank. Links af, maar hy sien ’n bondel jongmense op die sypaadjie. Lyk vir hom na ’n klub of ’n ding. Hy besluit daarteen, steek die straat oor.
Hel, dié dorp moet baie geld hê, dink hy toe hy by die hoeveelste standbeeld op ’n sypaadjie verbyloop. Hierdie keer is dit ’n brons jagluiperd, van onder belig. Gooi ’n onheilspellende skaduwee teen die blanke gewelmuur van een van die dorp se ou geboue.
Dis die room van die volk wat hier bly, het Blikkies eenkeer gesê. Maar hy glo die ou het dit sarkasties bedoel. Ou Blikkies het geglo geld koop nie vir jou gaaf wees en goedheid nie. “Mens is so goed of so sleg soos jou ouers jou gelaat staan het – ryk of arm,” was sy leuse. In ’n stadium wou Beeslaar weet: “Nou wat dan van iemand soos ek, kolonel? Mý pa was nou nie juis ’n rolmodel nie.”
“Dis hoekom ék daar is,” het die ou na ’n lang stilte gesê. “Om jou in die bek te ruk elke keer as jy uit jou spoor trap.”
Beeslaar glimlag by die gedagte. Blikkies was reeds nie ’n groot man nie. Beeslaar, met sy twee meter lange lyf, het hy dikwels sy “seer vinger” genoem. Want hy’t die ou man verdwerg. Fisiek. En dit was ook al. Want daar was baie jare se harde ervaring en wysheid opgesluit in die ou man. En ja... medemenslikheid.
“Oubie!” Die stem klink skielik links van hom uit die donker op. Daar’s ’n reusestandbeeld, sien hy. ’n Naakte man wat op sy tone sluip, twee horings op die voorkop, sluwe lis wat uit hom spreek. ’n Verslete wese leun teen die beeld se massale boud aan, hou sy hand uit na Beeslaar, wat hom vererg. Hy weet nie wat dit aan hom is nie, maar hy trek dronklappe aan soos brommers na ’n bol mis. As hulle klaar met die heining gepraat het of met die ousie baklei het, dan soek hulle hóm op.
“Ja, ouboet. Gaan slaap jy maar weer, man,” antwoord hy en draai in sy spore om.
“Ek het mooi gekyk, oubie!” roep die stem agter hom aan. “Lyk ’n paar sentjies vir ’n broodjie! Dat ’n man daam oek kan ietsie eet!”
“Broodjie se moer,” mompel Beeslaar en begin spoed optel. Hy’s éintlik honger, besef hy nou. En hy soek ’n plek waar hy ’n paar gebakte eiers kan wegwerk... waar die studente sal uithang.
Hy stap in ’n lang straat af met ’n groot wit gebou regs. ’n Saal, reken hy, dalk die dorpsaal. Hy swenk regs, hou aan loop. Toe hy by ’n T-aansluiting kom, hoor hy musiek. Hy sien dis ’n ou woonhuis wat omskep is in ’n kuierplek. Mystic Boer staan daar op ’n uithangbord buite. ’n Studenteplek: jongmense wat dit van hoek tot kant volsit, shooterglase, bierbottels, wynbottels om hulle. Hy moet twee keer vra of hulle koffie bedien voor die snuiter agter die toonbank hom reg hoor. Dan verander hy van plan en vra ’n dubbel-brandewyn. Meer gepas om ’n lewe sonder Blikkies in te wy.
Hy sit ’n twintig en ’n tien op die toonbank neer, skink ’n spatsel water by en kyk rond vir ’n sitplek. Dan ontruim ’n kêreltjie met ’n baard en poniestert sy kroegstoeltjie. Hy wys Beeslaar kan maar sit. Hy sit, sluk die hele glas weg en beduie vir die knaap agter die toonbank hy’s reg vir volmaak.
Hierdie keer drink hy stadiger terwyl sy gedagtes maal oor die gebeure van die dag. Oor die gesprek met Ghaap vroeër vanaand. Hy hoop nou nie die klong loop staan en raak die kluts kwyt daar in Soweto nie. Hy wonder vlugtig of hy nie iemand kan bel, vir Ghaap terugkry by ’n plek soos Westbury nie. Tussen sy eie mense. Waar sy vuurdoop minder rou sou wees. Maar Ghaap sal hom nooit vergewe nie.
En dis later se worries. Vir eers drink hy ’n dop op Blikkies. Wat sy gedagtes onmiddellik terugvat na kaptein Quebeka. En die woede wat hy die middag aanskou het daar. En die feit dat dit nie sin maak nie. Die gevoel wat aan hom bly knaag – dat die misdaad van binne daai huis gekom het. Nie van buite nie.
Hy sluk en bestel nog een. Besluit dis nie sy worries nie.