Читать книгу Onse Vaders - Karin Brynard - Страница 6
ОглавлениеHoofstuk 2
2
Ghaap draf ligvoets langs die soom van ’n lae duin. Hy stop vir ’n oomblik en skep ’n hand vol van die rooi, droë sand, gooi dit versigtig ’n ent voor hom uit. Sy oë volg die vae pluim van die fynstof. Hy knik tevrede. Hy’s nog goed onder die wind.
Om hom strek die blonde savannaveld oneindig ver. Dit word hier en daar onderbreek deur ’n rooi sandduin, die donkergroen hekelwerk van ’n haak-en-steek, ’n kameeldoring se sambreel.
In die rooi sand soek hy ’n spoor. ’n Bloedspoor. Dié van ’n gekweste dier.
’n Gemsbok.
Daar is wrewel in sersant Johannes Ghaap se hart.
Hy het só berekend aangelê. Dooierus. Die dertig-nul-ses in die mik van ’n jong soetdoring. Tweehonderd meter, het hy die afstand geskat. Windop. Naby genoeg. Dit moes die perfekte skoot gewees het. Die dier was duidelik, sy volle profiel sigbaar. Die swart-wit masker, kragtige nek. Die reusebrug van skof en bors na ’n stert só vorstelik, hy trek ’n sleepspoor in die sand. En horings. Meer as ’n meter lank, twee dodelike assegaaie bo die abstrakte verfwerk van sy gesig.
Ghaap kon op sy gemak korrel, beplan. Die wind was daar, maar nie só dat dit sou pla nie. ’n Netjiese skoot agter die blad. In die ou grote se enjinkas. Effense speling toegelaat vir die val van die lood.
Hy het aangelê, die Musgrave-kolf koel en glad teen sy wang, die K98 Mauser-aksieslot oorgehaal. Gelaai met net die beste: drie 180-greinpunte. Patrone wat hy self gelaai het – in Norma-doppe. Gevul met ordentlike slaankrag: Sonchem se S365-poeier agter die peperduur Nosler Partition-punte. Punte wat nie gaan splinter teen die been en senings in so ’n reus van ’n bok se blad nie. Die Rolls-Royce van patroonpunte. Hy’t dit spesiaal gespaar...
Hy moet aanstryk. Die son begin rooioog gooi.
Maar hiérdie dag, weet hy, maak nie klaar nie. Nié voor daar bloed op die sand is nie. Dit sal óf hy wees, flenters gekerf deur die ram se lang lemme, óf dit sal die prins van die woestyn wees.
Hy loop lig, hy wat Ghaap is.
Soos sy voormense. Nét die nodige. Sy velskoene gedra hulle goed in die los, droë sand en sluit stewig oor sy enkel sonder om sand of gras of duwwels in te laat. ’n Kort kakiebroek, aan sy gordel ’n mes en ’n bottel water. Vir die res is dit hy, sy geweer en hierdie koningsbok.
Dis ’n kwessie van eer. Van die ou manne se respekte.
Sy naakte bolyf is taai gebrei teen die siedende son. Sy hart versterk deur die bloed van ’n spierwit hoenderhaan wat vroe’môre oor sy kop leeggeloop het. Uit die polsende hart van die dier. Die reuk sit steeds in sy neus en die smaak lê in die taai speekselskiwwe agter op sy tong.
Hy hurk by ’n volgende duinheuwel. Die bok se spoor sleep hier. Daar lê ’n modderkoekseltjie eenkant van die spoor. Hy tel dit versigtig uit die sand uit op en vryf dit plat. Hy glimlag, voel hoe die harde korse van die bloed langs sy mondhoeke en wange breek. Die voorvaders is gelukkig, weet hy. Hulle wys hom die...
“Hei, Dushy! Dis jou béúrt!”
Sersant Ghaap se kop ruk regop en hy skrik met ’n snorkgeluid wakker. Vir ’n oomblik weet hy nie waar hy is nie. Dan onthou hy. Die misnoeë kom sit op hom soos ’n swerm vlieë op vars mensmis. Fokkit, hy’s dik vir hierdie skiewie-besigheid. En om Dushy genoem te word deur hierdie swartnerwe. Hy klap sy tong vererg.
“Basop! Maye wena! Mens toon respekte vir jou adjudant-offisiere. Onthou, ons los vir jou net hier! Lat die jackrollers jou kom ukuhlaba!”
Aan die woord is Sibusiso “S’bu” Mthethwa, wat met sy voorvinger ’n mes maak oor sy keel. Hy’s die grapjas onder die twee senior offisiere saam met wie Ghaap ry. Die ander is Bandile Mabusela, bietjie ouer, bietjie minder van ’n grapgat. Ghaap het die “voorreg” om deur dié twee seniors van die Orlando-Oos-polisiekantoor “touwys” gemaak te word in Soweto. Maar hulle “wys” hom niks, behalwe dat hy nooit lewend en in een stuk uit hierdie plek gaan kom nie.
Mabusela begin al grys raak. Ghaap skat hom in sy laat veertigs. Breë bakkies, bitter klein ore en wye neusvleuels. Zoeloe van oorsprong, skat Ghaap.
S’bu is jonger. Heelwat jonger. Daar’s meer energie in hom, veral droogmaak-energie. Hy’s venynig en agterdogtig van enigiets wat hy nie ken nie. Hy’s ligter van kleur as Mabusela, maar sy hart is pure Model D – in die lokasie gebore en getoë. En die moer in daaroor. Hy weier om gewone Engels met Ghaap te praat. Kyk eerder hoe hy hom kan dom maak met sy lokasie-sleng. Ghaap is nie eens presies seker wat noem jy dit nie. Al wat hy weet, is dat hy dit nooit sal verstaan nie.
S’bu is ook die dryfveer agter Projek Ghaap: Breek hom in, brei hom, dat die skebengas van die kasi hom nie sal injini – die skobbejakke van die lokasie hom nie vir ’n ride gaan vat nie.
Mabusela is orraait. Maar hy tree nie tussenbeide met die ge-ghwara met Ghaap nie.
En groen soos hy is, het dit hulle nie lank gevat om agter te kom waar sy swakpunte lê nie. Vorige dag wou hulle hom s’kop laat eet – skaapkoppe. En opgekookte beesenkels, die senings en hoewe waarmee die mense in die township rondloop in plastiekemmers en dit een-een in Jiffy-sakkies verkoop. Vorige aand het hulle gesê hulle gaan hom vat vir ’n chisa nyama. Dis die township se braai. Maar hý moet die vleis koop. Toe stuur hulle hom na so ’n ou met ’n emmer. Hy gril hom vrek.
En as dit nie die kos is nie, is dit die taal - ’n mengsel van omtrent al elf amptelike tale. Ghaap weet darem al “basop” staan vir “pasop”. En “ukuhlaba” staan vir “messteek”. Verder het hy nog nie ’n blou idee van wat ’n “jackroller” is nie. Maar hy vermoed dis die klas van misdadiger wat hy nie eens helder oordag wil teëkom nie. Een wat hom gaan rol. En hy soek nie om gerol te word nie. Nie in hiérdie lokasie nie!
Ghaap wikkel sy lang lyf uit die Toyota Corolla uit. Hy voel onmiddellik die koue van die Hoëveldse laatmiddaglug en buk weer terug om sy parka te gryp. Verloor amper sy balans, want hy’t vergeet hy dra die koeëlvaste baadjie. Twee en twintig kilogram ekstra gewig op sy lang, maer raamwerk.
Hy kan nie gló hoe suig hierdie plek nie. Met sy meerderes wat hom soos ’n blougat behandel, vars af’ie plaas. Al die poefsak-werk doen, soos om die min’ral te gaan koop, wat beteken koeldrank. En sê hy moet ’n kôta saambring – ’n kwart witbrood, gestop met slaptjips en French polony. Jirre! En hy moet alewig die koeëlvas dra.
Hy voel of hy op ’n vreemde planeet geland het, soos in die moewies – Denzel Washington in The Book of Eli, die DVD wat Beeslaar hom vir Krismis gegee het. Behalwe dat Ghaap nie regtig die hero in hierdie verhaal is nie. Maar hy voel nes ou Denzel, vasgevang in die hel vanself. Dis ’n wêreld waar die skeidslyn tussen kinderlag en waansin vaag, onpeilbaar is. Hy ril en laat sak sy hand na die Z88 op sy heup, sy vingers op die veiligheidsknip. Daar’s altyd ’n rondte in die loop. Hier waarsku jy nie. Jy trek eers vyftien skote af. Waarsku dán. Terwyl jy herlaai.
Hy begin aanstap. Dis hulle derde middag hier, geparkeer op die koppie. Die locals praat van die koppie as Motor Mountain – ’n hoogte van klip en vullis. Papiere, dooie honde, blikke en glas – huisvuil. En sy twee seniors love die plek, hy kan nog nie uitmaak vir wat nie. Dalk oor hulle rustig hier kan sit en bolle rol. Met hul selfone speel, Mxit, kakpraat. Dis Ghaap se derde dagskof in Soweto. Saam met die Big M’s, soos hulle na hulself verwys: Mabusela en Mthethwa. Dis die derde dag dat hy gestuur word om die kos te koop. En hy met ’n hol rug van die koppie afstap na die spaza-shoppie in die laagte.
Verder weg lê die groot oneindigheid van Soweto. Miljoene krotjies en huisies en paaie en kragdrade. Dynserig in die vaaloranje steenkoolrook. Soos ’n onheilswolk hang dit. Net hier en daar steek die hoë Apollo-ligte bokant die newel uit. Gooi ’n wye straal lig uit oor etlike straatblokke op ’n slag. Dis glo ’n oorblyfsel uit die apartheidsjare – toe daar oorlog was hier.
Die rook kom van miljoene vure, mense wat kosmaak. Of hitte soek. Laasgenoemde in leë petroldromme en konkas, wat op straathoeke en by taxi-staanplekke brand. Met letterlik enige ding wat kan brand – steenkool, plank, papier, plastiek. Solank dit hitte maak. Die rook word deur die koue aandlug teen die grond vasgedruk, gloei onheilspellend in die vuilgeel skyn van die laatmiddagson en die Apollo-reuse. Alles ruik na antrasiet en roet, ’n droë, bytende reuk wat in jou hare en klere en neus intrek.
So, dís nou Soweto, dink Ghaap namate hy sy treë rek oor die ruwe rug van die pad. Die plek waarvan hy so baie gehoor het. S.O.W.E.T.O – kort vir South Western Townships. Gevaarlikste stad in die wêreld. Gevaarliker as Bagdad. Ghaap het ’n hele lesing oor die plek gekry voor hy gekom het. Die geskiedenis, alles. En een ding is hy oor en oor vertel: Hierdie plek vréét cops. Vir brekfis, lunch, poering, enige ding. Dis net die ysters wat hier uithou. Blougatte soos hy... hulle vrek soos vlieë, hoeka die rede vir die koeëlvas wat hy alewig moet dra.
Agter hom hoor hy die Corolla lewe kry en hy vlieg om. As daai twee swernote nou wéér ’n slap triek trek en hom hier los, gee hy sy aanstellingspapiere in.
Maar hierdie keer is daar nie grappies nie.
“Karroof in Dube!” roep Mabusela toe Ghaap haastig op die agtersitplek inval. Hy vroetel vergeefs vir die veiligheidsgordel, sy oë vasgenael op die muur van rook wat hulle tegemoetgaan.
Die paadjie ondertoe is sleg. Mabusela ry screen saver – die locals se benaming vir passasier voor. Mthethwa bestuur. Hy vat nie kanse met die rowwe pad nie. Maar sodra hulle die teerpad slaan, gee hy vet. Ghaap voel hoe die swaartekrag sy bors, met koeëlvas en al, teen die rugleuning vasdruk. Hy loer benoud na die instrumentepaneel voor. Die naald skiet op na tagtig, dan honderd en tien kilometer per uur. Voorkant toe doem daar ’n rooi verkeerslig uit die dynserigheid op, maar Mthethwa se voet bly plat op die pedaal. Mabusela het intussen die blou lig uit en plak dit op die dak vas. Ghaap skat hulle sig is beperk tot vyftig meter tops, die rook soos dik, gestolde mosterd. Weerskante van die pad sit die huisies en pondokkies ingeryg, pitte op ’n mieliestronk. Hoë, flenters vibracrete- en draadheinings, lemmetjiesdraad bo-op. Alles vlieg verby in ’n dowwe waas. Ghaap se linkerhand is stewig op die deurhandvatsel; sy gat eet so te sê die sitplek op van die senuwees.
Die polisieradio raas. Hy kan glad nie uitmaak wat gesê word nie.
Mabusela hang vir ’n oomblik aan die plafon-handgreep terwyl die Toyotatjie skerp swenk vir ’n slaggat. Dan tel hy die radiomik op en roep iets in Zoeloe, rond dit af met die herhaling van ’n registrasienommer: “Citi Golf, white! Victor, Pappa, Bravo! Six, zero, eight, seven!”
Mthethwa briek skerp toe die reflektorligte van ’n voertuig voor hulle sigbaar word. Ghaap verloor sy greep op die deurhandvatsel en sy swaarbelaste torso skiet vorentoe sodat sy voorkop pynlik kontak maak met die nekstut van Mabusela se sitplek. “Haai, man!” skree hy voor hy kan keer.
Die twee manne lag vir hom met hoë stemme. Spulse hingste, uitgetrip op die adrenalien-high.
Voor hulle lê ’n donkiekar oor die pad uitgesaai, sy as gebreek. Die een wiel lê in die middel van die pad. Mthethwa gee twee kort trompetters met sy sirene, lê op sy toeter. Dan skiet hy verby die waentjie en Ghaap se lyf ruk weer agtertoe, teen die sitplek vas. Hy voel die naarheid in hom opstoot, nie seker of dit vrees, adrenalien of die dag se baie Coke is nie. Kan hom ook g’n moer skeel nie. Hy wil huis toe. Vir hierdie kak sien hy wragtag nie meer kans nie.
“Whaoe!” roep Mabusela skielik uit en die kar kom met skreeuende bande tot stilstand. Ghaap sien die rooi oog van die verkeerslig vorentoe in die pad – en ’n swart blerts met antennas agter op sy dak wat oor hulle gesigsveld heen skeer. “Die trackers!” roep Mabusela weer. “Volg!”
Mthethwa swaai links en sit sy voet hard neer op die petrolpedaal. Ghaap knyp sy oë toe, maar hulle vlieg weer oop toe Mthethwa skerp swenk vir ’n vaal gedaante. “Jissus, S’bu,” skree hy vir die man agter die stuur, “hoe weet jy dis nie ’n kind nie!” Al antwoord wat hy kry, is die waansinnige lig wat in Mthethwa se oë in die truspieëltjie dans.
Sy selfoon kry dit reg om bo die geraas uit te lui. In sy hempsak. Onder die koeëlvas. G’n fok gaan hy nou antwoord nie. “Jou phone lui, sersant!” skree die man agter die stuur. “Dis djou mamie!” Groot grap. Ghaap kyk weg, maar kort-kort vang hy Mthethwa se koggel-oë in die truspieëltjie.
Here, hy’s gatvol vir hierdie spul. Hy het eenvoudig nie die knaters om hier te oorleef nie. Beeslaar het hom gewaarsku.
Fok hom ook!
Die kar skuur skielik tot stilstand. Ghaap laat nie op hom wag nie en gooi sy deur oop. Hy moet in godsnaam net hier uit.
Dan ruk die deur uit sy hande uit en hy voel hoe iets hom teen hoë spoed tref.
Dis ’n mens!
Ghaap skree en probeer terugtrek in die kar in, maar sy bene word vasgeklem. Hy voel hoe sy boude hul vashou op die gladde sitplek verloor. Hy spartel, probeer die figuur van hom wegskop, sien ’n pistool in die gewoel van arms en bene. Te laat. Dit tref hom teen die kaak. Hy proe dadelik bloed en slaan blindweg met sy vuiste, tref die man in die ribbes, hoor die uitroep van pyn. Die figuur val weg van hom, maar Ghaap gryp met albei hande en kry die man aan sy klere beet. Alles gebeur so vinnig, hy’t nie kans vir dink nie.
Hy klou met elke sening en spier in sy lyf, wonder waar die pistool is. Dan kry hy sy antwoord: ’n skerp pyn wat teen sy voorkop oopbars en sy liggaam agtertoe ruk. Vir ’n sekonde word dit swart voor hom. En toe hy bykom, sien hy twee figure in die raam van die oop motordeur. Daar’s ’n koorsige gewoel van ledemate.
Dan klap daar ’n skoot en alles raak stil...