Читать книгу Onse Vaders - Karin Brynard - Страница 23
ОглавлениеHoofstuk 19
19
Dis warm. Die wit Hoëveldson skitter op die teer. Die verkeer staan.
Gerda vee sweet af. Die middagete was ’n vrolike affêre, met al die vroue ewe broeis oor die klein meisietjie wat kom. Sy het Baz gebel. Sommer vir net. Omdat sy goed voel. Wou hom vertel van haar dag. Maar Baz was nie ontvanklik vir babbel nie. Hy’t haar met ’n “I’m busy, babes,” kortgeknip.
Die skaduwee van die oggend was weer terug.
Dis seker maar hoe dit sal wees. Vir die res van haar lewe. Op die oppervlak gee jy voor jy’s ook ’n normale mens. Met kinders en ’n huis en ’n werk, saans 7de Laan, Riaan Cruywagen. Maar net onder die oppervlak lyk dit anders. Soos die storie van die eend: lyk so kalm soos hy oor die water gly. Maar onder roei hy dat dit bars.
Roei om te oorleef. Teen wil en dank. Bo bly. Soms wil sy net toegee. Oorgee. Om op te hou roei. Die reddingstoue af te skud, te versink in die koel skemerte van die rus.
Ander dae, weer, moet sy baklei. Voel dit of die lang tentakels van ’n honger monster uit die onderwêreld haar wil gryp. Die Swart Seekat, het sy dit begin noem. Wat haar wil straf. Op dae dat sy durf vergeet.
Vandag is seker maar so ’n dag, waarop die ou seemonster weer doenig is.
Dis Baz, meer as Pa, weet sy. Hy is anders, die laaste tyd. Sy kan nie haar vinger daarop lê nie. Asof daar ’n ratwisseling by hom is. Hy’s meer gespanne, blafferig. Sê die ekonomie is entrepreneur-onvriendelik. Hy’s so ’n lewendige mens, mal oor kook en kos en mense. En risiko. “Business, babes, should be one long adrenalin rush.” Sy vermoed hy verwys na meer as net die kosbesigheid. Hy’s slim, ’n geniale blackjack-speler, wat die meeste casino’s se bank kan breek. “Ons gaan groot,” spot hy altyd as sy kriewelrig raak.
Dis juis sy lewendigheid wat haar so aantrek. Sy lewenslus, die elektriese veld om hom – van praat en lag en speel. Hy maak jou outomaties vrolik as jy in sy omgewing is. En met daardie oë, dié van ’n speelse klein hondjie.
En dan is daar die ander man in haar lewe: Pa. Sy weet hoe hy gaan lyk as sy nou by die huis kom. Soos ’n zombie. Sit en staar voor hom uit, sy regterhand wat onbedaarlik bewe, sy mond hol en droog. Weg vir die wêreld. Hy kon netsowel dood gewees het. Soos Ma. Soos... soos alles wat nog altyd vir haar kosbaar was.
Sy voel die trane in haar keel opstoot, maar sy sluk dit weg. Daai dinge is nou klaar. Dis verby. Sy het nuut begin. Sy doen dit vir hulle. En vir hulle boetie. En die nuwe sussie.
’n Nuwe toekoms. Veiligheid. ’n Man wat nié drink nie. Wat uitsien na die ongebore kind, al is dit iemand anders...
Sy skud haar kop. Nee, besluit sy en haal diep asem. Ons gaan beslis nie dáár nie. Sy kyk in die truspieëltjie na haar seun wat agter haar in sy karstoeltjie sit.
Kleinpiet is vandag g’n huppelkindjie nie. Hy maak sulke lang, ongelukkige aaaaaa’s wat klink of hulle enige oomblik in ’n huiltjie kan oorslaan. Hy voel tien teen een haar “gevoelentheid” aan, soos die oumense gesê het. Die beendere wat roer, die swart seekat se een oog wat loer.
Sy sit die radio aan en harde popmusiek vul skielik die kar. Kleinpiet skrik, begin huil. Sy sit af.
“O, gallies!” roep sy oor haar skouer. “Die bobbejaantjie sing verkeerd! Stoute bobbejaan.” Sy hou aan babbel oor die mal bobbejaan. “Kyk daar, Pietman, dáááár’s hy! In die boompie!” Sy druk ’n kinderplaat in die CD-gleuf – altyd haar laaste uitweg tussen die dagmoeder en die huis.
“Kyk daar, Pieda, kyk!” Sy wys na die smouse met hul bont negosieware wat doodsveragtend tussen die ongeduldige karre deurbeweeg. “Kyk’ie ooms, Pietie, kyk hoe lekker lag hulle. Waai vir die ooms! Ta-ta! Waai vir die ooms!” Hy lig ’n tentatiewe handjie, sy onderlippie nat en onseker. Maar dan’s die “ooms” verby en begin hy weer met die kla-huiltjie.
Gerda se vinger vind die CD-skakelaar en hulle val in die middel van ’n liedjie in: “Eendjies, eendjies, daar in ’n ry.” Gerda sing uit volle bors saam. “Saamsing, grootman. Kom! Eendjies, eendjies... ” ’n Smous met ’n bos rose buk by haar venster, maar sy skud haar kop. Kyk anderpad. Die smous tik teen die venster en probeer homself hoorbaar maak bo-oor die blêrende eendemars binne-in die kar.
Gelukkig begin vloei die verkeer en kan sy lepel neerlê teen die steil bult van die Melville-koppies op. Sy grawe solank op die passasiersitplek rond vir die outomatiese hek se afstandbeheer. En die selfoon. Om Rebecca te laat weet sy moet kom help met die omgekrapte kleintjie.
Toe die hek oopgeskuif het, draai sy in en skakel die kar af. Sy moet nou net die kind in die huis kry. Dit was ’n fout om hom so vroeg te gaan haal. Hierdie tyd is normaalweg sy slaaptyd by die dagmoeder. Maar dit spaar haar ’n ekstra rit later, in die spitsverkeer.
Sy druk weer die hek se knop en hark die inhoud van haar handsak van die passasiersitplek op. Uit die hoek van haar oog sien sy ’n beweging by die hek. Rebecca, goddank.
Daar’s ’n tik aan haar vensterruit. Wat de hel?
Dan sien sy die pistool.
“Quiet, bitch,” sis ’n man deur die oop gleuf van die venster en ruk haar deur oop.