Читать книгу Onse Vaders - Karin Brynard - Страница 15
ОглавлениеHoofstuk 11
11
“Albertus, dis Rea du Toit. Van Groot Gewels. Ek hoop nie ek bel jou wakker nie.”
Haar stem skeur soos ’n vleissaag deur sy babelas skedel. Wat ís dit met oumense dat hulle so hard oor ’n foon moet praat?
Hy leun terug in die bed en probeer in die skemerdonker van die vertrek kyk hoe laat dit is.
“Kan ek maar praat?”
Beeslaar maak keel skoon. “Praat maar,” kry hy uitgewurg.
“Dis oor... Ons is... Dit was ’n verskriklike skok. Ek kan jou nie... ” Sy blaas haar asem hard uit in sy oor. Probeer weer: “Dis... Mens dink dit kan nie met jou gebeur nie. Ek weet nie hoekom nie. Maar jy dink dit net nie. Ons... Ek was gister nie myself nie.”
“Ek begryp, mevrou.”
“Ek wou net nie hê jy moet dink... Ek was so bietjie skerp met die ou swart vroutjie. Dis die skok. Malan is my enigste seun.”
Beeslaar vee slaap uit sy oë, onderdruk ’n gaap. Ou swart vroutjie. Hy wonder hoe kaptein Quebeka dáárop sou reageer.
“Maar dis hoekom ek jou bel. Ou Balthie is nou nie meer daar... dat ons na hom toe kan gaan nie, jy weet?”
Sy aarsel. Beeslaar wag, probeer saggies gaap. Hy’t soos ’n drieton-os geslaap.
“Die ding is net, ons... ons weet nie of die mense hier plaaslik... Hoe sal ek nou sê. Dat hulle... ”
“’n Mens voel maar so, mevrou.”
“Ek is nie ’n rassis nie, Albertus. Maar ek het nie veel vertroue in die mense hier nie. Jy sou nou dink hierdie dorp is ordentlik. Maar net die ander dag nog is ’n man ín die polisieselle dood. ’n Gesinsman, ordentlik. Wat aangehou is vir... vir. Ag, hy’t gedrink. Maar hulle sluit hom toe met ’n beroepsmisdadiger. Dis eenvoudig ’n nes van korrupsie hier en ’n mens ys! Wat maak ons as hulle nou vir Malan opsluit? Wat? En as Balthie nog hier was... Hy sou vir ons kon raad gee. Wat ons kan doen. My seun, Malan. Hy’s... ” Haar stem loop vol.
Beeslaar wag dat sy weer haar woorde vind.
“Hy wil... Hy praat van privaat speurders. Want... ”
“Mevrou, dis seker sy reg om privaat speurders aan te stel. Maar julle moet dalk net... ”
Sy gee hom nie kans nie: “Ek weet nie of jy weet van die student wat hier vermoor is nie – so ’n paar jaar gelede. Mooi jong meisiekind. Ek vergeet haar naam. Maar dit was in die nuus. Sy’s net soos Elmana... soos die ding wat Elmana oorgekom het. Die polisie hier het dadelik besluit dis haar kêrel. En... e... dit wás nooit hy nie. Dit het in die hof uitgekom. Hulle het getuienis verváls om die kêrel skuldig te laat lyk!
“En nou sit ons ook... met iets soortgelyks. En ek is bekommerd. Want daai twee kleinkinders van my... Hulle kan nie nog hulle pá ook verloor nie!”
Beeslaar sug innerlik. Hy’t iewers in die nag self gewonder wanneer iemand die konneksie gaan maak met die opspraakwekkende moord op die student. Dit sal nie net Rea du Toit wees nie. Sy klink uitasem, gespanne. Het moontlik die hele nag gelê en spook met die ding, reken Beeslaar. Haar seun al in ’n plas bloed in die polisieselle sien lê.
“Mevrou... ” Beeslaar se kop wil bars. En hy’s naar. Proe kort-kort die cane en limonade van die vorige nag. Wat het hom besiél? Dan kom dit, sy maag wat opruk.
“Ek bel nou terug,” sê hy vinnig.
En vlug badkamer toe.
Dis eers toe hy ’n paar minute later onder die stort staan dat hy besef wat die ou vroutjie hom nou juis gevra het. As mens dit vra kan noem. Dit was meer afpersing as iets anders. En sy klink nie of sy dikwels nee vir ’n antwoord vat nie.
Hy smeer sy hele lyf met seep. Dan skiet die middernagtelike voordeurpetalje met kaptein Quebeka hom te binne. Goeie fok, hy’t ’n absolute gat van homself gemaak.
Hy klim uit en draai die groot handdoek om sy lyf, vee met die plat hand oor die toegewasemde spieël. Sy moet besig gewees het, Quebeka. Tussen haar en die naaldekokers en die vingermense. Hy wonder of daar al ’n leidraad is. Malan du Toit is seker een van die dorp se bekende miljoenêrs. Die saak sal mos baie aandag trek.
Teen die tyd dat die foon lui, is hy skoongeskeer en in ’n gekreukelde paar jeans.
“Mevrou Du Toit,” antwoord hy so beskaaf moontlik, sonder die haas wat in hom jeuk. Want buite het dit nou lig geword. En hy wil wikkel. Om in die langpad te val.
“Quebeka,” kom die antwoord egter. “Jy reg vir brekfis?”
Hy hap nog vir woorde, maar sy ploeg voort: “Oor ’n halfuur by Julian’s. By die Eikestad Mall. Jou gasvrou sal jou kan verduidelik.” Dan gaan die lyn dood.
Beeslaar staar na die foon in sy hand, sit dit dan stadig neer. Dís nou die laaste ding...
Maar die foon gee hom nie kans vir mymer nie. Dit lui onmiddellik weer. Hierdie keer antwoord hy met ’n versigtige “hallo”. Sal nie verbaas wees as dit die hoofkommissaris self is nie. Want skielik soek almal hom...
“Albertus, dis tannie Rea.” Sy val sommer meteens weg: “Wat ek nog wou gevra het, sal jy nie asseblief ’n ogie kan hou nie?”
“Mevrou... ”
“Noem my sommer op my naam, jong. Of tannie. Ek is nie vol nonsies nie.”
“Tannie, met groot respek. Ek moet regtig vandag in die pad spring.”
“Wat dan van ons, Albertus? Moet ons nou maar... ” Sy haal diep asem. “Ons moet nou maar opsnork. Balthie sou ons gehelp het. Ek wéét hy sou. Want hy’t gewéét hoe dit voel. Hy’t dit aan sy eie bas gehad. Die... die... magteloosheid! Jy weet nie hoe dit voel nie. Om so... uitgelewer. En die mense wat jou moet beskerm, is on-... on-... met een woord, onbevoeg! En dit kan hulle nie skeel nie, want ons is wit!” Sy begin huil.
Hy wag tot hy hoor sy bedaar. Dat sy hom kan hoor.
“Tannie Rea, ek kán nie doen wat tannie vra nie. Ek mag nie privaat werk doen nie. Ek kan geskors word... ”
“Malan sal jou betáál!”
“Laat hy liewer dan ’n professionele privaat speurder kry wat hom kan bystaan. Iemand soos... Piet Byleveld. Hy’s mos nou afgetree en doen privaat werk, dan nie? Dis wat ek... ”
“Dit het nie tóé gewerk nie, Albertus. Met die student. En dit sal nou ook nie. Met haar moord was daar privaat speurders vir Afrika, mense skoon uit Amerika. Maar die polisie het steeds die boyfriend in die tronk probeer stop. En... en... die wáre moordenaar, dié loop nóú nog rond. En nou het hy... Nou’t hy wéér toegeslaan!”
“Tannie Rea, eerlikwaar: As ek by magte was, het ek regtig gehelp. Maar ek mag nie betrokke raak nie.”
“Nie eens as vriend van die familie nie?”
“Maar tannie, ek ís nie juis... ” Sy gee hom nie kans nie.
“Ék beskou jou as ’n vriend van die familie, Albertus. Balthie het baie van jou gepraat. Hy’t altyd vir my gesê jy was vir hom soos die seun wat hy nooit gehad het nie.”
Beeslaar vóél hoe sy hart vuis maak, teen sy ribbes aan stamp.
Hy sug, en sê hy sal ’n draai kom maak by haar voor hy waai.
“Onthou dat jy by Willem Bester se huis aanklop, direk links van my seun se huis. Hy huisves ons tydelik. Willem is beide gesinsvriend en my seun se prokureur.”
Dis ’n mooi oggend en Beeslaar besluit hy stap sommer Julian’s toe. Volgens sy gasvrou is dit naby genoeg.
Sy foon lui. Tertia: “Albertus, goeiemôre. Jammer... e... Jammer ek pla so vroeg.” Sy klink verwese. “Mynhardt en ek... Ons het gewonder of jy nie wil saamkom vir die... Om my pa se as te strooi nie?”
Mynhardt. Dit sal die skoonseun wees.
“Ek was eintlik vandag op pad terug huis toe,” antwoord hy versigtig, maar sy hart krimp. Blikkies het net die een kind gehad. Wat in haar grootwordjare tien teen een veel minder van hom te siene gekry het as Beeslaar en die res. Want die oukêrel was net altyd dáár: “Noem my maar die straatveër,” het hy dikwels vir blougatte gesê. “Want ek is op aarde gesit nét vir een ding: om die robbiesj uit die strate te vee. Ek en my bybie: Miss Darling Deadly.” Dan het hy sy hand op sy Z88 gesit, wat hy altyd onder die regteroksel gebêre het. Want hy was links.
“Ek dink... Ek dink dit sou... ”
Beeslaar gaan staan om beter te hoor. Haar aarselende stem raak al hoe sagter en om hom raas die verkeer. Sy kop voel of dit onder ’n padroller beland het. Hy kyk op sy horlosie. Dis nog te vroeg vir apteke. Maar miskien sal daar in die Mall ’n plek wees wat Panado’s aanhou.
“Mynhardt dink ook... ook dit sou vir my pa baie beteken het. Ons het nie eintlik gister kans gekry om bietjie... bietjie te gesels nie. Hy was so geheg aan jou, my pa.”
Kom dit weer: die skop van sy hart.
“Nou wanneer het julle gedink om dit te doen?”
“Sondag?”
Hy sug. Wat maak hy dan tussen vandag en Sondag?
“Kyk,” sê hy. “Ek wil baie graag, maar... Kan ek jou dalk terugbel? Ek het soort van... Ek moet eintlik teruggaan noorde toe. En... e... ek sal kom groet voor ek ry.”
Hy begin weer aanstryk. Dalk help die brekfis vir sy babbie. Sy laaste vastigheid gister was ’n koeksister by die begrafnis. Die nagkos by die drinkplek tel nie. Dis klaar weer uit. En die restaurantkos van vroeër gisteraand tel nie. Hy’t skaars geëet.
Die oggendlug is koelerig en hy rek sy treë om hitte op te bou. Hy is heeltyd bewus van die berge rondom die dorp. Seker oor daar nie werklike hoë geboue is nie, reken hy. In Merriman draai hy regs af, soos die gastehuis hom beduie het. Dis ’n besige straat, vol karre en taxi’s. Mense op pad werk toe. Hier en daar sien hy mense wat kinders wegbring skool toe: mooigemaakte mammies in groot viertrekwaens, die verpligte selfoon teen die oor. Nuuskierige voorkoppie van ’n kleuter wat eensaam agter uit ’n karstoeltjie opdobber.
Hy loop tot by ’n besige kruising met Andringa, draai links af.
Quebeka sit al, sien hy van buite af. Hy haas hom deur die klein tafeltjies buite op die sypaadjie – vir die rokers.
“Ek het solank vir jou bestel,” sê sy toe hy oorkant haar inskuif. “Fullhouse-brekfis. En ’n jumbo-koffie. En ’n paar Panado’s.”
Hy sit.
“En? Hoe voel jy?” Haar gesig is ernstig. Hy kan dit nie lees nie.
Hy haal sy skouers op. “Sorrie oor gisteraand,” mompel hy skaapagtig. Hy moes moer dronk gewees het, want hy onthou net sy was daar. Het hy dalk die een of ander stommiteit aangejaag? Of erger nog, het hy haar probeer opchat?
Sy kyk oor haar neus na hom, gooi suiker by haar cappuccino en begin roer. Sy’t slanke hande, die naels lank en bloedrooi geverf. Geen ring aan die trouvinger nie.
“Ek weet nie wat presies jou rol by die Du Toit-familie is nie,” sê sy en proe aan die koffie, “maar ek wil jou vroegtydig waarsku: Ek duld geen loslappies op my ondersoeke nie. Veral nie as jy die familie teen my gaan opklits nie.”
“Wát? Ek?” Hy onthou die uitbarsting van die ouma gister. “Ek is op pad huis toe, kaptein. Ek moet nog net ’n paar mense groet, dan skedaddle ek.”
Sy sê niks, kyk hom uit. Dan lig sy die koppie stadig na haar mond, neem ’n klein slukkie en vee die fyn wit streep op haar bolip weg.
“Kaptein, regtig. Ek meng wragtag nie in nie. Want ek weet hoe voel dit.”
“Ek wonder of jy werklik weet,” sê sy, vat nog ’n sluk.
Sy sit die koppie stadig neer. “Jy dink nie ek gaan die pyp rook nie, nè?” Daar’s ’n fyn glimlag om haar mondhoeke, maar haar oë glinster gevaarlik.
“En as jy wil weet, ek het klaar vanoggend se koerante gesien,” gooi sy agterna.
“Die familie met die media gepraat?”
Sy knik.
“En gesê hulle glo nie hulle sal goeie behandeling kry nie?”
Nog ’n knik.
“Sy’t my gebel, vanoggend. Die gôgô. Sy wil hê ek moet ’n onafhanklike ondersoek lei.”
“En jy’t wat gesê.”
“Ek sal daarlangs kom, voor ek huis toe ry.”
Sy knik, skynbaar tevrede, maar dan verras sy hom: “Ek sal nie so haastig wees nie... ”
“Hoe bedoel mevrou nou?”
“Jy is tóg op verlof, nie waar nie?”
“Ek werk weer môre.”
Sy lig ’n wenkbrou. “Ek sou nie ry nie. Jy’s vir alle praktiese doeleindes nog nie nugter nie, nommer een.”
Beeslaar kyk vir ’n bondel studente wat, sigarette klaar oorgehaal, buitentoe loop om te gaan rook. “En nommer twee?”
“Jy kan dalk handig raak.”
“Hándig raak.”
“Bruikbaar.”
“Bruikbaar.”
“Is daar ’n eggo hier, kaptein Beeslaar?”
“Hier’s iéts, kaptein Tsjoebeka.”
Sy lag skielik, die koggel wat in haar oë se spikkels dans. Die lag is warm en diep. Sy laat dink hom aan iets koninkliks, die nek van ’n impala. Maar haar oë is ene tierkat.
“Quebeka,” maak sy die sagte plonsklank van die “Q”. “Dis hoe my kollegas my aanspreek. En ek wil met jou ’n deal aangaan. Dat jy my ingelig hou.”
“Ingelig van wát?”
Maar hy weet goed waarvan sy praat. En hy gaan nie die hoek vat nie, dís vir seker. “My kar is klaar gepak. En ek het uitgeteken daar by my gastehuis.”
Sy reageer nie, haar fokus op die twee vol borde kos wat opgedaag het: gebakte eiers, diepgebraaide Weense worsies, spek en bone. En ’n hele mandjie wit roosterbrood.
Dan verbaas sy hom weer: Sy laat sak haar kop in wat hy vermoed ’n stil gebed is.
“Eet voor dit koud is,” sê sy toe sy hom in sy staar uitvang. En begin dan hartlik weglê.