Читать книгу Onse Vaders - Karin Brynard - Страница 8

Оглавление

Hoofstuk 4

4

Die seun sit in die hoek van ’n tweesitplekbank, weggetrek van die polisievrou wat by hom sit, met ’n beker, iets soos tee daarin. Sy staan op om vir Rea du Toit plek te maak langs haar kleinseun.

“Ag, my kind!” Rea du Toit trek hom teen haar vas. Hy laat haar begaan, staar verwese voor hom uit. Vir ’n rukkie sit die twee so, die ouer vrou se gesig vertrek in ’n stryd om beheer, die kind s’n uitdrukkingloos, sy mond wat oophang vir asem. Hy’s in die ongemaklike stadium tussen muis en man. Lang, dun ledemate en knobbels vir knieë en skouers. Die eerste skadu van ’n snor tussen puisies.

Beeslaar bly naby die deur huiwer en kaptein Quebeka sleep ’n regop stoel van gedraaide hout nader en gaan sit by die twee. Sy wag ’n oomblik voor sy iets sê, dan leun sy vorentoe, haar palms op haar knieë.

“Wil jy ons nie asseblief uitlos nie?” Rea du Toit se stem bewe, maar is vol vyandige drif. Daar is ’n trilling in haar gepoeierde wange, haar vlieserige oë wat skitter van die trane.

“Ek is jammer, mevrou, maar ons moet met die seun praat. Dit sal nie –”

Die seun het skielik lewe gekry. Hy beur regop uit sy ouma se greep. “Pappa het gesê ek hóéf nie te praat nie.”

Quebeka knik bedaard vir hom. “Jou pa is reg. Maar jy wil ons help om die oortreder vas te trek, of hoe?”

Die seun kyk soekend rond. Sy een been gaan aan die tik en daar is angs in sy oë. Hy kyk op na Beeslaar, dan na Quebeka wat reg voor hom sit.

“Ek weet nie... wat gebeur het nie.” Hy mompel. Kyk na sy lomp seunshande wat die beker tee vashou. Groot, onelegante hande, vratjies by die regterduim. Hy laat dink Beeslaar aan ’n pasgebroeide volstruiskuiken: ene pote.

“En hy hoef ook nie met jou te praat nie,” sê die ouma. “Hy sal praat as daar ’n régte polisieman opdaag.” Sy kyk uitdagend na Quebeka, haar mond platgetrek en die neusvleuels gesper. Sy’s nie ’n vreemdeling in die bokskryt nie, besluit Beeslaar.

“Mevrou, ek ís die regte polisie. Ek lei die ondersoek. En dit sal regtig... ”

“Dit gaan nie hélp om met jou... julle te praat nie,” kap Rea haar af. “Want dis nie júlle mense wat soos... soos vlieë doodge-... Dit kan julle nie skéél as die hele lot van ons afgeslag en uitgemoor word nie. Inteendeel, julle is blý as nog ’n wit mens vrek!”

Quebeka wil eers antwoord, maar besluit dan kennelik daarteen. Haar mond klap toe en sy sit terug, laat die bejaarde vrou se bitse woede op haar val.

Beeslaar tree nader. “Ek dink dit sal maar die beste wees as die seun vir ons kan vertel wat gebeur het, mevrou Du Toit.”

“Ja, ek weet, Albertus. Maar ek sal met jóú praat. Nie met ’n... met ’n... met een van húlle nie!” Sy kyk nie na Quebeka nie, haar blik op Beeslaar.

“Mevrou, ek kan goed verstaan... ” probeer Quebeka weer.

“Gaan weg! Ek praat nie met julle nie. Julle... julle... Weg, jý!”

Quebeka sit nog ’n oomblik, asof sy vir die k-woord wag om te val. Dan staan sy skielik op en die ou vrou trek die seun beskermend teen haar aan, iets wilds in haar oë.

“’n Woord,” sê Quebeka toe sy by Beeslaar verbyskuur.

Hulle tree na buite deur twee groot glasdeure, na ’n klein stoepie onder ’n elegante afdak van gestreepte seil. Twee groot gemakstoele kyk op die dorpsrivier uit. Só, besluit Beeslaar, lyk dit in die skoot van die rykes. Links van die stoep, tuin. Mooi tuin. Blommende herfsstruike in helder oranje en rooi. ’n Lang swembad, uitgeverf in modieuse loodgrys, sipresse in plantbakke op die twee verste hoeke, ’n dek van kiaathout wat dit omsoom.

“Wat presies doen jy hier?” Sy kyk klipoog na hom.

“Niks. Heeltemal niks. Ek was toevallig by dieselfde begrafnis as die ou tannie. Het haar net kom aflaai.”

“Nou dan’t jy niks hier geverloor nie.”

Hy knik. Wil omdraai, maar sy praat weer: “Ek dag ek sal mooi ordentlik wees vir die wit mense, maar... ” Sy kyk verwytend op na hom, dan verby hom na binne, waar Trula Momberg nou Quebeka se leë stoel ingeneem het.

Beeslaar rem die boonste knoop van die stywe hempboordjie los. Hy weet nie wat om daarop te antwoord nie. Hy wil eintlik net fokkof.

“Begrafnis, sê jy?” Die vraag vang hom onkant.

“Oudkollega. Hy’t hier kom aftree.”

“Oom Blikkies.”

“Jy’t hom geken?”

Sy knik: “Kry die sirkus op pad en moenie van die vlooie op die trampoliens vergeet nie.”

’n Blikkieïsme.

’n Warm golf staan op in Beeslaar se borskas. Druk die bloed tot in sy ore.

“So jy moet die Kwartel wees. Albertus Markus Aurelius Kwartel. Die vierde tot in die vyfde mag... tot in die oneindige.”

Beeslaar kyk weg, bang die pyn is sigbaar.

“Einste... ” Sy stem is skor. Hy maak keel skoon. “Het ek reg gehoor? Hierdie was ’n... wat? Inbraak was sleg skeefgeloop het? Huisroof?”

“Wie’t vir jou gesê?”

“Die man. Du Toit.” Hy kyk vlugtig terug na binne, waar Rea steeds die seun in haar arms het. “Ek was toevallig naby toe hy sy ma bel met die nuus. By die begrafnis. Sy’t die foon vir my gegee.”

“En hy het gesê dit was ’n huisroof.”

“So iets, ja. Was dit dan iets anders?”

“Fokweet. Maar dis nie nou so belangrik nie. Die belangrikste is, dis ’n ramp. Lyk of... ”

Sy huiwer ’n oomblik. Dan: “Kom kyk self.”

Vir die tweede keer vandag is hy ’n mak gans. Traak hom min, hierdie keer. Want in sy kop kom daar ’n stilte. Bekend. Asof al sy sintuie stil raak. Om van diep binne te luister, versigtig te tas na die skimme van die boosheid wat nog dralend hang. Ragfyn spinnedrade, vae eggo’s van geweld, onsigbaar en ontasbaar, tensy jy weet hoe om te luister. Dis asof sy hele lyf daarop ingestem raak, die snare tussen hart en kop en lyf saam begin vibreer.

Sy lei hom deur die deftige eetkamer. Hulle loop versigtig muurlangs, op hul tone. Die forensiese mense is klaar besig met uitmerk en afmeet. Naaldekokers, het ou Blikkies hulle altyd genoem. Kom sit net en kyk vir die kak. En styg dan weer op. En jy kan vergeet van iets bruikbaars uit hulle uit kry. Vat hulle weke. En Blikkies het van destyds se forensies gepraat – toe lees en skryf nog ’n voorvereiste was vir ’n jop in wetstoepassing.

Die eetkamer is met ’n boogmuur geskei van ’n groot, informele leefvertrek. Die muur het plek-plek openings waarin bottels wyn grasieus lê en verouder.

En dan tref die verwoesting van die moordtoneel: die vlekke bloed wat uit die leefarea op die wit eetkamermat ingedra is. Iemand met baie bloed aan sy klere het muurlangs om die eetkamertafel geloop. Daar’s strepe sigbaar. Heen-en-weer strepe. Ook op die mat. Baie spore.

Hy loop agter Quebeka aan tot by die ingang van die leefvertrek, waar die naaldekokers in hul plastiekpakkies rondskarrel. Daar’s ’n eethoek en kroeg links en ’n TV-ruimte regs. Die vloer lê besaai van plante. En stukke erdewerk – waarskynlik die houers waarin die plante was. Baie plante. Baie stukke porseleinskerwe.

Dan sien hy die slagoffer: ’n vrou. Haar agterkop. Só papgeslaan, die grysstof peul sigbaar deur splinters been en hare. Soos ’n oopgekloofde rysmierhoop. Sy’s op ’n breë sitkamerbank. Sittend. Hy sien haar van die rugkant af, skrik toe hy die haarkleur registreer: rooikop. Hy skud sy kop vinnig, om die wiele daarbo van die syspoor af te kry: Nié alle rooikoppe is Gerda nie.

“Daar’s gepeuter hier,” hoor Beeslaar homself sê. Hy word beloon met ’n glimlag van Quebeka. Hy hou van die lig in haar oë: soos ’n hond wat springhaas geruik het.

“Kom,” sê sy en draai om, “ons gaan kyk van anderkant af.”

Hulle stap weer terug voordeur toe en uit. Om die huis. Nóg ’n fontein en ’n dam. Hierdie keer ’n kruik wat kunstig omgeval het en ’n piepiestraaltjie water lek. Wewenaar se kruik in sy kanon in, sou Blikkies onmiddellik gesê het. Hy’t ’n ding gehad met uitdrukkings, ou Bliksem van Blerk. Veral vir onvanpastes.

Hulle loop tot op ’n groot stoep agter. Daar’s ’n sandput vir kampvuur maak, ’n gasbraaier in die hoek, groot genoeg om ’n missiel maan toe te lanseer.

Die rugkant van die huis, sien Beeslaar, is eintlik die voorkant. Waar die inwoners wérklik leef – die stoep, gedeeltelik onderdak, loop uit op nóg ’n swembad, maar kleiner. Meer ’n plonspoel met ’n spuitfontein. En daar’s die braai, ’n luukse sitstel van rottang en opgepofte lapkussings, die hout-en-chroom-eettafel... baie geld se goed.

En die duurste bonus van die lot: private uitsig op die rivier en berg. Voel of jy net jou hand hoef uit te steek. Pluk jy ’n hand vol heideblomme en proteas. Trossie laat-druiwe uit die rooi wingerde wat teen die berg uit hardloop.

’n Ry glasdeure verbind die leefkamer met die stoep. Twee van die deure staan oop. Quebeka gee vir hom handskoene en ’n stel oortjies – om oor sy skoene te trek. Oortjies. Nog ’n Blikkies-woord. Snaaks hoe ’n ander mens sy merke so diep op jou los.

Die reuk van rou vleis en iets chemies hang nog in die lug. Fresh kill. En onder dit, die klam grotreuk van grond. Uit die blombakke wat stukkend oor die marmervloer gestrooi lê.

Beeslaar se hart spring wéér toe hy die rooikop sien. Maar daar’s g’n sprake nie. Die vrou op die bank is lank en benerig. Anoreksies maer. Hy volg Quebeka tot by die bank. ’n Reuse-televisieskerm op die muur oorkant die bank is aan, die klank gedemp.

“Kyk,” sê sy en wys vir hom die bloedpatrone om die bank. Kolle, traanvormige spatsels, deurmekaar skoenspore. Tussen die bank en die TV is daar ’n lang koffietafel van glas. Die glas is gebreek. In die middel van die skerwe lê ’n bronsbeeld. Dis ’n brahmaanbul, sien hy, bloedbesmeerd. Daar’s ander merke ook, maar hy kan dit nie goed uitmaak nie. Die beeld lê half toe onder ’n aantal luukse fotoboeke. Kolle bloed oor die goue staar van ’n leeu op een van die buiteblaaie.

Aan die ander kant van die tafel lê daar nog bloed. Lyk soos Australië as mens vinnig kyk, dink Beeslaar. Baie bloed, Australië is groot.

“Sy’t nie op die bank gesterf nie, of hoe?” vra Beeslaar toe hulle weer buite staan.

“Ons het haar so gekry.”

“Hoe laat?”

“Die roep het kort na vier ingekom. Toe die kinders van die skool af gekom het. Die dogter, watsenaam... ” Sy rol haar oë. “Emmie, Evvie... ”

“Ellie.”

“Was glo eerste tuis. En toe die seun. Hý’t die pa gebel.”

“Wat waar was?”

“Laat sake-ete. Die Volkskombuis.”

“En hý’t jou gebel?”

“Nee, hy’t sy prokureur gebel, saam met wie hy by die restaurant was.”

Beeslaar sê niks. Kyk oor die werf uit, hande op die heupe. Na die grys rots van die berg. ’n Roofvoël wat daar bo in die warm lugstrome sweef. Dan kyk hy terug huis toe.

Besluit, sê hy vir homself. Voor jy die volgende vraag vra. Want dan’s jy vas. Hoek deur die wang. Jy spartel nog ewe, maar dis nag-Nella en verby-Doris-Day.

Maar sý maak die eerste skuif: “Hy was ’n vol kolonel, dan nié?” vra sy en tuur saam met hom na die berg. Sy verwys na Blikkies, weet hy, en hy knik.

“Jy was gelukkig.”

Hy kyk na haar. Sy’s eintlik bliksems mooi. Fyn vel. Egalig, die kleur van donkersjokolade. Prominente wangbene. Haar wenkbroue maak ’n boog, die vlerkspan van ’n grasieuse voël. Groot, uitdrukkingsvolle mond. Maar dis haar oë wat haar anders maak. Bruin met goudvlekke. Helder oë. Slim. Hy’t ’n swak vir slim oë. En gul monde. Gerda s’n. Die rooi massas hare wat haar fyn gesig omring. Die groot, uitdrukkingsvolle mond. Jy kan haar gemoed al van ver af opsom aan die trek van daardie mond.

“Om ’n man soos oom Blikkies in jou lewe te hê, bedoel ek.” Sy glimlag. Skitterwit tande. “Ek hoor jy’s deesdae nie meer in Jozi nie.”

Hy skud sy kop, kyk af na sy skoene. “Dank vader ook,” is al wat hy uit sy kop kan krap om te sê.

En dan doen hy dit: Hy tree oor die streep. Hy vra die vraag:

“Die toneel hier... dis bietjie té intiem vir ’n huisroof. Of hoe?”

Onse Vaders

Подняться наверх