Читать книгу Onse Vaders - Karin Brynard - Страница 14
ОглавлениеHoofstuk 10
10
Dis amper twee-uur in die oggend toe Beeslaar uiteindelik by sy gastehuis aankom.
Na regte moes hy sy lift in hegtenis geneem het. Want dié’t hou vir hou die brannas saam met Beeslaar weggepak. Êrens het hulle oorgeslaan sambuca toe. Wat natuurlik ’n fout was. Want ná sambuca kom daar altyd tequila. En ná tequila is mens dors. Dan vat jy iets “ligs”, soos cane virrie pyn. En so aan.
Hy voel in sy broeksak vir die voordeursleutel. Sy hand vat die nat sakdoek raak. Iewers in die afgelope vier uur het hy en sy nuwe jong pêl sob-stories uitgeruil. Oor die lewe. En het albei van hulle ’n skelm traantjie gestort.
Hy kry nie mooi gesien waar presies die deur se sleutelgat is nie. Staan in sy eie skaduwee.
Hy wip van die skrik toe daar skielik ’n stem agter hom opklink: “Goeienaand, kaptein Beeslaar. Het jy hand nodig?”
Kaptein Quebeka.
Hy draai om, kyk reg in die helder straal van ’n flitslig in. “Bly jy dan ook hier?”
Sy klap haar tong. “Ek was op pad huis toe,” sê sy en laat sak die flits. “En het gedag ek ry langs, sien of jy wakker is. Maar jy was elders besig. Baie besig, lyk dit my.
“Gee.” Vir ’n oomblik is hy verward.
“Die sleutel!”
Hy probeer weer die sleutelgat raaksteek, maar laat val die sleutel uit sy hande.
Sy buk en tel dit op. “Lyk my jy’s een van daai ouens wat nie goed op ’n gat is nie. Toe, staan eenkant toe.” Daar’s lag in haar stem. ’n Mooi stem, besluit hy.
“Nou toe!” sê sy wanneer die deur oop is.
Hy hou aan die deurkosyn vas, bang hy lyk so dronk soos hy is. “Maar hoekom... e... hoekom soek jy mý? Is daar moeilikheid?”
Sy skud haar kop. “Nee. Ek... e... dag maar. Jy beter in die bed gaan klim,” sê sy.
“Sorrie, ek’s bietjie dronk,” mompel hy. Hy wil nog iets sê, maar sy het reeds omgedraai en weggestap. ’n Oomblik later hoor hy ’n V8-enjin grom.