Читать книгу Onse Vaders - Karin Brynard - Страница 21

Оглавление

Hoofstuk 17

17

Dis kort na tien toe Gerda se selfoon lui.

“Pa?”

Sy herken haar huisnommer. Sy hoor haar pa asemhaal, maar hy praat nie. Hy is deesdae ’n spook. Van iemand ánders. Praat nie meer nie, staar met leë dwaaloë. Die dokter meen dis tyd dat hy opgeneem word. Maar sy kan nie. Nie nou al nie.

“Hallo! Pa! Sit neer, Pa, en roep vir Becca.” Hy gee haar die piep as hy dit doen. Dis ’n nuwe ding, die gebellery. Dalk is daar ’n deel van sy brein wat nog nie toegespin is deur die alzheimers nie. Wat probeer kontak maak met haar.

Sy druk dood en beur orent, loop ’n ent weg van die ander vroue met wie sy die kantoor deel. Sy bel die huishulp, Rebecca, wat nie optel nie. Gefrustreer draai sy om en gaan terug na haar lessenaar, vryf oor haar buik. Versigtig oor ’n jeukkol. Dit word ’n brandjeuk. Sy vryf vinniger, vir die bloedsomloop. Haar buik staan soos ’n styfgepompte kangaroebal. Hierdie kleinding is gróót. Sy wat Gerda is, gaan soos ’n uitgesuigde grenadella lyk as die baba eers daar is.

“Hoe lank nog, Gerda?” Dis Jordaan, die skoolhoof.

“Week of wat,” antwoord sy en glimlag dapper.

“Gannit met jou pa vandag?” Hy kom staan voor haar lessenaar – gebruiklike grys pak, ligblou hemp met wit strepe en ’n maroen strikdas. Laasgenoemde ’n onverwagse uitspattigheid by ’n andersins vaal voorkoms. En persoonlikheid. Maar hy het ’n hart van goud en ’n passie vir die onderwys. Sy skool se waglyste is nie verniet so lank nie.

“Darem nog orraait,” sê sy. “Die nuwe medikasie lyk of dit hom bietjie rustiger hou.”

“Jy gaan jou hande vol hê, die komende maande. Jy moet sê as jy hulp nodig het, hoor?”

Sodra hy uit is, bel sy weer huis toe.

Die tuinman antwoord.

“What’s going on, Xolani? Where’s Rebecca?”

“She’s helping Oupa. He’s crying.”

“Did something happen?”

“No, mevrou. He’s outside by the front gate. And he’s crying!”

Daar’s paniek in sy stem. Dan snap sy – “cry” soos in “skree”. Haar bloed raak koud. Dis die siekte. Die dokters het gewaarsku. Hy kan begin hallusineer, selfs aggressief word. Tot onlangs het dit gelyk of hy die sagter pad van breinaftakeling sou vat. Dof word, ’n kers wat uitflonker. Maar hy’t al onverwags na haar geklap. Rebecca gestamp.

Die skreëry is ’n nuwe ding.

“Xolani, go fetch Stoffelina, the cat. Take it there. When he sees the cat, he calms down. Give him the cat and help Rebecca bring him inside. Tell Rebecca she must give him one of the blue pills. She knows which ones. And then she must call me. Try not to speak loudly. Be soft. Just be... ”

“I know, mevrou. I will help him. I know the pills.”

Gerda sit die foon neer. Pa moenie nou sukkel nie. Laat sy net eers die bevalling agter die rug kry. Sy sal genoeg tyd hê in haar kraamverlof.

“Alles reg, ngwanaka?”

Gerda kyk op na die vraagsteller. Alison Ntonyane, ’n gryskop Sotho-vroutjie met ’n voorliefde vir African Violets. Die hele kantoor se vensterbanke staan vol van die plantjies, wat sy al om die ander dag liefderik water gee uit ’n koperketeltjie. Sy het Gerda van die eerste dag onder haar vlerk geneem. Sy is die oudste onder die klompie van hulle wat die hoof, die twee adjunkte en die departementshoofde se admin behartig. ’n Warm, meelewende mens met ’n fyn intuïsie. Sy sal soms Gerda se voete vir haar vryf as hulle so dik geswel is. Ander kere dra sy tradisionele kruiebrousels en salwe aan om die swangerskap se las te verlig. Self het sy nooit kinders gehad nie, maar sy’t baie grootgemaak. Namate haar vier broers en een suster deur die Groot Siek kom haal is, het sy hulle kinders versorg.

Gerda kon dit nog nooit regkry om selfs die liewe Alison te vertrou met haar lewensverhaal nie. Hennie Jordaan weet uiteraard, maar hy hou dit tussen hulle. Want simpatie, het sy geleer, het ’n angel. Dit ketting jou vas aan jou ellende. Sodra mense weet, raak hulle anders, genope om te simpatiseer, te vra hoe hou jy dit. Jou van voor af herinner. Agterna bly jy hulpeloos rondflop terwyl hulle vroom en deugdelik verder wals!

“Ai, mangwane.” Gerda gebruik die respekvolle Sothowoord vir “tante” – uit erkenning vir die vertederende ngwanaka: my meisie. “Dis my ntate. Ek dink hy’s vandag bietjie erger.”

“Au, sorrie-sorrie.” Alison klap haar tong simpatiek. “Gee vir my daai werk van jou. Ek maak dit vinnig klaar.”

“Is orraait, Alison. Dankie. Die werk lei my gedagtes af.” Sy roer die rekenaarmuis om haar skerm te verfris, sien dan sy het e-pos. Dis van Baz.

Sorrie, Pops. Moet deurskiet Durbs toe. Staking op die hawe (what’s new)! My merchandise sit vas. Vliegtuie vol – scheme ek ry gou deur. Wou vamnaad lamsbredie kook om jou laaaaste dagt te voer. Moet wafg naweek! Lus jou! Net so. Nie eens die moeite gedoen om haar uit die kar te bel nie. Of om die spelfoute reg te maak nie. So... min gespin, soos hyself sou sê.

Die trane kom voor sy kan keer. Verbrands! Sy probeer so onopsigtelik as moontlik afvee. Maar in ’n kantoor met vyf vroue...

Alison reageer eerste: “Auwe!” Sy staan op en kom slaan haar arms om Gerda. “Miskien moet jy maar huis toe gaan. Gaan kyk agter jou ntate. Ons kan mos ander dag brunch.”

Gerda skud haar kop, probeer haar bes om die trane te keer, maar sonder sukses. Haar hormoondeurspoelde lyf maak soos hy lus kry. En hy’s nou lus vir ’n groot ween!

Toe sy na ’n minuut of wat bedaar, het die hele tikpoel om haar lessenaar vergader. “Dis haar pa,” hoor sy Alison fluister. “Hy’s baie siek.”

Sy vee met ’n tissue onder haar oë, probeer haar beste glimlag: “Vader weet, hierdie swangerskap werk darem nou régtig nie meer vir my nie.” Hoe meer sy praat, hoe sterker voel sy. “Dis die koei in my wat wakker word!”

Die vroue glimlag onseker.

“En hierdie koei is honger. Aanhoudend. Wat sê julle van vonkelwyn by die brunch? Ek koop, maar ek drink nie saam nie. So julle drink namens die pregnant fairy! Ek sal hoor of my pa oukei is, dan gaan ons.”

Onse Vaders

Подняться наверх