Читать книгу Onse Vaders - Karin Brynard - Страница 9

Оглавление

Hoofstuk 5

5

Die pyn in Ghaap se maermerrie slaan sy asem weg.

Dis van die worsteling met die motorkaper. Die een wat Ghaap per ongeluk vasgetrek het toe hy sy kardeur oopsmyt – nog in die ry. Kêrel het hom disnis gehardloop teen die deur. En in die gestoei agterna is daar lekker op Ghaap se voete en sy maermerries gedans.

Tot die skoot afgegaan het.

Dit was die kaper wat geskiet het, blindelings. En een van die trekkie-outjies wat uiteindelik sy tjank vir hom afgetrap het. Net daar, op Ghaap se maermerries. Ghaap self was salig onbewus, want hy’t uitgepaas, dalk van skrik. Eers bygekom toe iemand ’n flits in sy oë skyn om te kyk of hy dood is. Hy’t nog steeds op die agtersitplek van die kar gelê, bene na buite. Hy was bewus van ’n klomp deurmekaar stemme en uitroepe. In Afrikaans, Engels en wat hy vermoed Zoeloe is. Daar’s nie Zoeloes in die Kalahari nie. So hy kan nie die taal so maklik van ander swart tale onderskei nie.

Hy’t soos die doos van die eeu gevoel.

“Kry hom uit die kar uit,” het iemand geroep. “Hy’t daai bullet gevang. En kry die medics!”

Ghaap het regop gebeur. “Ek’s cool,” het hy gepiep. Toe harder: “Los my uit. Ek makeer ga’n niks!”

En dis nou amper sesuur in die aand. En hulle is nog steeds net hier. Sit en wag dat die toneel klaar opgeskryf word. Wag vir die vingers om klaar te kry in die gesteelde Golf. Sodat almal kan aangaan.

Dis Mthethwa wat moet skryf. Hy’s die senior in rang, ver verby sy jare en vermoëns bevorder. Kom glo uit die regte families, diep ANC-bande wat teruggaan na die vryheidstryd. Dis ’n oop geheim dat hy dink hý moes stasiebevelvoerder gewees het. Nie die Indiër-ou wat blykbaar nóg nouer familiebande het nie.

Mthethwa skuif die skryfwerk af op Mabusela. Dié doen dit in die helder kajuitlig van ’n kollega se bakkie. Sigaret in die een hand, sel tussen die skouer en oor vasgeknyp. Ghaap wonder hoeveel hy geskryf kry. En intussen is dit maar wag, hier in ’n klein doodloopstraatjie in Mofolo, halfpad tussen Motor Mountain-heuwel en Dube. Mthethwa self staan eenkant en klets met ’n groepie ysterbaadjies, soos Ghaap hoor die manne hier van die uniform-outjies praat. Aan Mthethwa se handgebare lei Ghaap af hy vertel die storie van die car chase. Met homself natuurlik in die hoofrol. ’n Darkie-Vin Diesel, Soweto se eie Fast & Furious.

Ghaap verstaan niks van die iKasi-sleng nie. Dis dié dat hy homself maar eenkant hou – op die agtersitplek van die Toyota, skuinsgedraai, met sy voete op die grond langs die kar. Hy rus die regterbeen veral, oor die pyn so erg is.

Nou en dan, sien hy, wys Mthethwa in Ghaap se rigting. Sy platpoot-gehoor lag met wit tande.

Ghaap steek sy hande dieper in sy parkasakke in, laat sak sy kop. Dis nou nét wat hy nodig het: van zero na hero... na zero – slaan flou neer as daar ’n skoot naby hom klap. Soos ’n ou vrou.

Hy sluk die bitter spoeg wat in sy mond vorm. Wens vir die honderdste keer vandag hy was by die huis. Wonder of hy nie vir Beeslaar moet bel nie. Maar dié’s met vakansie. En sal hom tien teen een nog uitkak ook. Hy’t hoeka nie gekop wat Ghaap se skielike lus vir Soweto was nie. “Plek’s deesdae so vol bullshitters wat rang jaag. Spandeer meer tyd om die stats te kook as boewe te vang,” het hy gebrom. Ghaap het ewe gesê hy wil “ware misdaad” gaan leer. “Misdaad is oral dieselfde. Dit vat net een poephol om sy moer op ’n stok te steek en sy vrou of sy gabba te lem. Al verskil is, daar’s meer poepholle in Soweto.”

Ghaap sug. Probeer die pyn in sy been ignoreer en sien tot sy misnoeë hoe een van die trekkies nader loop.

“Wat skud, ou grote?” Dis die trekkie wat die kaper uiteindelik platgetrek het. Hulle lyk op die oog af na bruikbare ouens. Mens sien hulle oral, het Ghaap nou al agtergekom in sy paar dae hier. Wilde klonge wat in opgezoepte Golfies en Subaru’s die blou hel uit die plek uit losjaag. Hulle dra hulle eie uniform: gelaaide Glocks op die heupe met oorgenoeg ekstra clips, stywe jeans en vaartbelynde jagstewels. Net soveel deel van die landskap van Johannesburg soos die mynhope en die SABC-toring. En nie sommer hierjys nie. Dis ’n belangrike subspesie in die groter net van wetstoepassing. En omtrent almal oudpoliesmanne. Ouskool. Harde manne. Hare militaristies kort, gejel, box cut of heeltemal skoongeskeer. Dagoud baarde. Rook soos diesellorries. Vat nie kak van kabouters nie.

Die outjie wat die vraag gestel het, is kort. Maar taai – te oordeel na die paar voorarms wat oor die kardeur hang.

“Wat sal mens nou sê?” kom dit floutjies van Ghaap.

“Jy’t hom da’em dik gewiks, my ou!” Die man se oë is onleesbaar in die donker. “Hy sit nou nog en tjank daar agter in daai wên.” Hy verwys na die polisiebakkie waarin Mabusela sy vorms sit en volskryf. Die konstabel wie se bakkie dit is, sit agter die stuur, besig met sy eie logboek-gekrabbel.

“Ons soek daai meerkat al baie lankal.” Hy praat rustig. Asof hy ’n ouderling is, Ghaap sy gekwelde wykslid. “Hy’s ’n specialist, mos. Vat eintlik net Lexus SUV’s. Het sy eie starter pack en slang. Peena enige Lexus daarmee. Woep, is hy oop! Wat hom besiel het om vandag ’n le vora te loop haal... Maar één ding kan ek jou sê... Hy’t ’n fokken fabulous flater begaan. Hy’s ’n rakker, hy. Twee jaar gelede ’n ou antie se kop inmekaar getimmer en haar Lexus gevat. Sedertdien is hy in die wind. Tot nou toe.” Hy’t ’n pakkie sigarette uit, steek een aan en hou dan die pakkie uit na Ghaap, wat sy kop skud.

“Wat’s ’n ‘le vora’?” vra Ghaap. Hy wens die ouens wil hom uitlos, want hy wil in rus en vrede kyk na die skade aan sy maermerries. Hy sweer iets is gekraak of gesplinter, want die pyn maak hom mal.

Die trekkie lag. “Golf VR6. Dis maar wat hulle hom hier in die wyk noem.” Hy bly ’n oomblik stil, bekyk vir Ghaap, wat hoop hy gaan skoert. “Hoe lyk dit dan vir my jy’s nie lekker nie, my ou?” Die man haal nie die sigaret uit sy mond vir praat nie – gooi sy woorde so uit die een hoek van sy mond. Soos Popeye.

“Ek’s cool,” lieg Ghaap kordaat en beur orent. Maar die pyn in sy been sluk sy wind in.

“Woza!” roep die trekkie en tree om die oop kardeur. “Sit, my ou. Sit. Lyk my jy’t seergekry. Jy tune dan niks!” Hy druk Ghaap se lyf liggies terug in die sitplek in en sak op sy hurke, tas versigtig langs Ghaap se kuite af. Eers links. Dis toe hy aan die regterkuit vat dat Ghaap deur die dak wil spring.

“Heiii, ou grote, hier’s bloed, jong. Wag. Ons moet lig kry!” Hy lig Ghaap se been versigtig op, tot dit liggies op sy bobene rus. “Mauritius!” roep hy oor sy skouer na die bondel mans wat by die gekaapte kar staan. “Bring bietjie ’n torch hiernatoe! Ek dink hierdie laaitie het daai bullet gevang!” Ghaap wil flou word van die pyn; sy tande begin onbeheersd klapper.

“Moet ons die medics laat kom?” Die flitslig skyn vir ’n oomblik in Ghaap se oë en hy keer met sy hand.

“Jissie, my ou. Jy’t wragtag daai bullet gevang. Dit moes die ricochet gewees het. Lig! Mo, man! Skyn die fokken torch hiér, dat ek kan sien wat ek doen!”

Ghaap voel hoe die man die veters van sy uniformstewels versigtig losmaak. Hy hoor ’n skeurgeluid en besef te laat die ou is besig om sy broekspyp oop te sny. Maar hy’s verby traak, hy baklei nou net teen die uitpaas. Hy lê plat op sy rug op die kar se agtersitplek, sy kake opmekaar geklem.

Dan is daar skielik ’n siedende brandpyn. “Au! Fokkit, man, wat de fok maak djy!”

“Toemaar, my ou, hy’s uit!”

Ghaap kom regop en sien hoe die trekkie iets triomfantlik omhoog hou, asof hy pas ’n baba gevang het. “Dis’ie bullet, my ou. Hy’s uit,” roep hy uit die hoek van sy mond, sigaret in die bek. Dit maak ’n rooi golfpatroon in die nag as hy praat. Mo, wat gebukkend die flitslig vasgehou het, vat die 9 mm-koeëlpunt by die sittende kêrel. Agter hom het die hele spulletjie trekkies en polisiemanne nuuskierig kom saamkoek.

“Hy’s blerrie gelukkig,” saai Mo ingenome uit. Hy’t ’n hoë stem, half hees, herinner Ghaap aan die Godfather-flieks. “Dis net ’n ligte vleiswondjie. Die bullet was nie eens onder die vel nie!”

Ghaap kyk af na sy been, sien die plek net regs van sy skeenbeen waar die koeël vasgeslaan het – tussen die leer van sy stewel en die broek. Daar’s nie dramaties baie bloed nie, besef hy, half teleurgesteld. Hy buk af om die storie van nader te bekyk en die sittende trekkie hou die broekspyp oop dat hy kan sien.

“Shit, my ou, jy’s gelukkig, hoor. As daai bullet annerkant opgespring het, was jy dalk die mouter kwyt!” Vir ’n oomblik weet Ghaap nie waarvan die man praat nie. Dan snap hy. Maar die verligting wat hy dink hy behóórt te voel, wil nie met volle oorgawe kom nie. Tog, hy was nog altyd van plan om vrou te vat en kiddies te maak.

Ghaap haal sy sakdoek uit en vee die bloedstreep af wat uit die oop wondjie loop. Hy vermoed daar sal die volgende dag ’n moerse blou kol sit. Maar ja, hy was seker gelukkig.

“Daai meerkat se kak het pas verdriedubbel,” sê Mo vir die omstanders. “Poging tot moord op ’n poliesman!” Sy aankondiging word begroet met die nodige applous. Net een ou sug: Mabusela, wie se papierwerk pas verdubbel het.

“Nou hoe kom daai bullet in die man se been?” vra hy onthuts. Hy beur deur die klomp tot by die sittende Ghaap. “Wys my jou been. Ek wil sien!” Hy staan só naby, Ghaap kan sy plaak-asem ruik. Agter hom skud die trekkies hulle koppe, kyk betekenisvol na mekaar. Dis soos dit deesdae is, sê die kyke op hul gesigte, die jop het net ’n werk geword. Eight to five. Niks meer nie.

Ghaap hou sy bek en trek sy broekspyp weg.

Mabusela kyk. “Haai man, dis’ie ’n koeëlwond daai nie. Dis ’n skraap! Waar was daai koeël?” Die trekkie wys hom die merk in die metaalraam van die deur waarteen die koeël afgekets het voor hy teen Ghaap se maermerrie te lande gekom het. Ghaap wys hom die gaatjie in die broek. “Shit!” sê Mabusela en klap sy tong. Dan draai hy om en staan kopskuddend terug.

“Kom ek help jou op,” sê die kortgat-trekkie en steek sy hand uit na Ghaap. “Ek’s Ghalla, by the way. Ghalla Kruger. Ek ry saam met dié snare.” Hy wys met sy kop skuins oor sy skouer na waar Mo en nog ’n man in kakie-jeans staan. “Ons ry algar vir Trackers.” Dis een van die grootste opsporingsorganisasies in die land, weet Ghaap. Spesialiseer in motorkaping en -diefstal. “Dis nou Mo van Schoor hier’ie,” sê hy en vuis-tik die grootste van die drie teen sy allemintige boarm. “Sy ma roep hom Mouwie. Maar jy moet liewer maar by ‘Mo’ hou, liefs ‘Dokta Mo’. En dié,” hy wys die derde man uit, “dié’s nou ou Dawid Vermeulen. Jy roep hom sommer Duif! Hy’s nie fyngevoelig nie.” Duif is ’n knewel. Lank en gespierd, maar lenig. Lyk soos ure in die gim. Sy kop is kaalgeskeer en so rond soos ’n kiewieteier – met spikkels en al.

Hy knik sy gladde sproetkop, maar sê niks. Steek ook nie hand uit of niks nie. Lig net ’n wenkbrou.

Met die koeël uitgedolwe, begin Ghaap al beter voel en hy stel homself voor.

“Jannes,” herhaal die grote Ghaap se naam en kyk hom takserend aan. “Hoor jy kom uit die Kalahari uit. Leeuwêreld, as ek dit reg verstaan. G’n wonder jy skrik nie vir die meerkatte van hierdie wyk nie!”

Ghaap lag verleë.

As die ou grote maar geweet het...

Onse Vaders

Подняться наверх