Читать книгу Onse Vaders - Karin Brynard - Страница 18

Оглавление

Hoofstuk14

14

Beeslaar voel soos ’n kind wat ’n gebreekte speelding in sy Krismispakkie gekry het: opgewondenheid wat op misnoeë gestrand het.

Hy baklei teen die opgewonde gevoel, want hy weet dit beteken moeilikheid. As hy doen wat goed is vir hom, ry hy.

Terug na sy tuin toe. Wat hy besig is om in die rooi grond van sy agterplaas aan te lê. Na die lewe van ’n kleindorpse langarm, die gemaklike ritme wat sy lewe die afgelope tyd daar begin inneem het.

Hy staar vir ’n sekonde nog na die vreemde vrou oorkant hom wat afgemete haar bord leegrusper. Val dan self weg.

Kaptein Quebeka is eerste klaar. Sy breek behoorlik maar beleef wind agter ’n delikate vuis en trek die tandestokkies nader, waarmee sy fyntjies iets hinderliks uit ’n holte tussen haar tande loswoel. Dan sit sy behaaglik agteroor en drink haar koffie in stilte. Wag vir hom om klaar te eet.

“Drink eers jou koffie,” sê sy vir hom sodra hy sy mes en vurk neersit.

Hy grinnik, maar maak soos sy sê.

“Werk die Panado’s al?”

“Die kos werk.”

“Wat het jy gedink, gister?”

“Weet jy wat alles gesteel is?”

“Kontant uit die kluis – sowat tienduisend rand. Vra my nie hoekom mens soveel kontant wil aanhou nie. En haar trouring. Glo ’n knoets van ’n diamant gehad.”

“Daar’s genoeg sekuriteit in en om die huis, maar geen gebreekte ruit of so iets... ”

“En sy’s blykbaar ook geskiet.” Sy laat val die brok inligting soos ’n rots.

“Jeez.”

“Dis wat die naaldekokers gisteraand laat weet het. Maar dis ook al. Die res is useless.”

“Vingers?”

Sy skud kop, klap haar tong met ’n sweem van minagting. Daar’s beslis iets aan haar, besef Beeslaar opnuut. Arrogant? Dalk maar die gemaklike manier waarop sy in haar eie vel sit. Nie ’n front nie. Maar ook nie enigiets persoonlik nie – die uitdrukkingsvolle oë en mond ten spyt. Sy’s meester van die klipoog-staar. Kyk al die kak uit jou uit.

“So, die dogter het die liggaam ontdek?”

“Was die meisiekind, ja. Was glo eerste tuis. Sy wou voor die TV gaan neerflop. Maar toe tref sy haar ma daar aan, letterlik en figuurlik uitgesprei oor die hele vertrek.”

“En toe?”

“Weet nie. Sy sélf kan nie meer onthou nie, sê die pa. Sy’t haarself in haar kamer toegesluit. Dalk het sy gedink die oortreder is nog daar. Dis nou die pa se spekulasie. Hy sê ook die seun het hom gebel en ingelig.”

“So albei kinders was by die toneel?”

Sy beaam.“Maar die seun sê hy het net die bloed in die eetkamer gesien – die strepe teen die muur en die spore en so aan. Hy’t besef daar’s fout en uitgehardloop, sy pa gebel.”

Die kelner kom haal hulle borde en Quebeka bestel nog koffie. Sommer namens hom ook.

Hy laat haar begaan, sy gedagtes besig met die rooikopvrou, Elmana du Toit, die bloedplas langs die koffietafel wat lyk soos Australië.

“Wie sou haar liggaam verskuif het? En hoe het al drie van hulle bloed op hulle gekry?”

Sy reageer nie, staar net stip na hom. Haar gesig is oop, alle sintuie op hóm gefokus. Soos ’n wildsbok wat ’n leeu inskat.

“Ek het nou nie al die feite voor my nie, kaptein. Maar my kop staan weg van huisroof af. Daar’s heeltemal te veel woede. Ek... ék sou naderby rondkyk. Of hoe?”

Sy knip net haar oë. Hy wil wriemel onder haar blik. Maar hy kén die truuk – die ou hysbak-metodiek. Mense hou nie van stiltes nie. Hulle wil dit kompulsief invul. Met beweging. Of woorde.

“Die slagoffer se man, Malan du Toit, hoe kom hy aan sy geld?”

“Ou Kaapse adel, die Du Toits. Glo Franse herkoms.”

“Hugenote.”

Sy kyk hom onbegrypend aan.

“Klomp Protestantse hoëlui in Frankryk iewers in die agttienhonderds wat moes vlug toe hul Katolieke koningin hulle begin keelaf sny het.”

“Bietjie voor my tyd,” merk sy droogweg op. “Maar jy ken die rangorde onder die wittes hier in die Boland? Die Du Plessis’s praat net met die Le Rouxs en die Le Rouxs praat net met die Du Toits. En die Du Toits praat net met God.” Haar oë vonkel ondeund. “Onse meneer Du Toit het geërf. Maar hy’s ook goed in wat hy doen, ’n Midas van ouds met eiendom. Sit dit om in goud. Sy miljoene gemaak uit eiendom hier in die Kaap. In die boom-tyd, natuurlik.”

“En nou? Meeste mense in die eiendomswêreld krepeer deesdae, dan nie?”

“Ook nie almal nie. Du Toit blyk een van die kanniedoders te wees.”

“Weet ons al hoe laat?”

Sy skud haar kop. Net effe.

“Gister was ’n warm dag. Maar die bloed daar... Dit was nie ure oud nie. Wat sê haar mense?”

“Die kinders was rondom halfvier tuis. Die skool sluit halftwee, maar die seun... Pieter-watsenaam.”

“Dawid-Pieter, as ek dit reg gehoor het.”

“Ja. Hy was by die een of ander jeugaksie en die sussie neem glo klavierles.”

Beeslaar kou sy lip.“So, sy was nog warm. Hulle moes aan die liggaam geraak het.”

Quebeka bevestig. “Dis die meisie, Ellie, se smeermerke teen die eetkamermuur. Háár en die pa se spore teen die trap op.”

“Ek het gister haar tekkies gesien,”sê Beeslaar. “Vol bloed. Maar minder aan Dawid-Pieter. Hy was kaalvoet, maar sy voete was sonder bloed. Die bloed op sy lyf, dalk het hy dit van sy suster opgetel?”

Sy wikkel haar kop, bereid om dit te oorweeg.

“En die pa was ook vol bloed. Het hý die liggaam geskuif?”

Sy skud haar kop. “Ontken dit.”

“Hoe laat was júlle daar?”

“Binne minute. Ek was in die buurt.”

“Orraait. So waarop sou ék nou konsentreer – hipoteties gesproke?”

Sy lig ’n wenkbrou, maar sê niks, kyk uit die hoogte na hom. As hy nie soos ’n properse hangover-doos gevoel het nie, het hy nóú geloop. Sy behandel hom soos ’n onderdaan.

Hulle tweede rondte koffie kom. Gewone koffie, dié keer. Sy maak drie sakkies suiker leeg in hare. Hy keer toe sy klaar is met die melk en vir hom ook wil ingooi.

Sy glimlag. Mooi. Dit vee al die arrogansie uit haar gelaat.

“Ek,” sê Beeslaar en roer sy koffie, “sou dalk begin met die boek. Al die roetine-goed. Usual suspects, diewe wat onlangs losgelaat is. Die voor die hand liggende goed. Bure, bediendes, tuinman... dié soort van ding. Vreemdelinge in die buurt, om hulle uit te skakel. Want my neiging loop na die pa... ”

“Wat reeds vir die koerante laat verstaan het ek wil hóm die swartskaap maak. Wéér ’n fokop met forensies. Vingermerke fabriseer, die hele ou sous. Dat ons weer vir ses en veertigmiljoen rand gedagvaar kan word agterna. Is dit jy wat hom voorgesê het?”

“Kyk, kaptein Quebeka. Noem my ’n rassis. En ’n seksis en ’n buffel of wát ook al. Maar één ding gaan jy my wragtag nie noem nie. En dis dat ek ’n kollega se gat sal toestop... Sorrie vir my taal. Maar ek gaan nie ’n ander polisieman... óf -vrou se saak bedonner oor ek ’n ryk man se gat wil lek nie. Wit of swart of wat ook al.”

Sy antwoord nie, maar gee hom die sfinks-staar.

Hy neem ’n sluk koffie, sê dan: “Jy sê Malan du Toit is in die boubedryf?”

“Ontwikkelaar. Geld soos bossies.”

“En sý?”

“Weet nog nie. Maar Charmainetjie, my kollega, tjek die geldstories. Sy’s gekonfyt, werk saam met die bende-span. Hulle is gewoond aan grawe in mense se finansies. Sy’t vorige nag dwarsdeur gewerk. Dalk het sy iets as ek terug op kantoor is.”

“Maar kom ons neem aan hý is die ene met die geld. Hoe het die kredietkrisis hom geraak? Sink hy? Of swem hy? En wat was die stand van die huwelik? Ek sou ook die vriende uittjek. Familie. Jy al met die ouma gepraat?”

Sy glimlag. “Jy’t gesién gister, haar houding. Maar ou Prammie het haar reggesien. Na die moewiemense weg is, het hy lank met haar gesels.”

“Prammie?”

’n Glimlag breek oor haar gesig: “Ons noem hom maar so, die SB. Oor die hoë stemmetjie. Soos ’n kleintjie wat pram soek. En die naam, natuurlik. Prometius Baadjies.”

“Hoe’s hy?”

“Jy kry seker erger.”

“Waar’t jy jou goeie Afrikaans geleer?”

“Model C.”

Beeslaar wonder oor haar herkoms. Haar naam klink Xhosa. Sy’s dalk die dogter van die een of ander hoofman, vandaar die houdinkie.

Asof sy gedagtes lees, sê sy: “Is dit dan só vreemd vir ’n Xhosa om die Boeretaal te praat?” Sy lag vir sy verleentheid. Dis ’n mooi lag. Voor hy hom kom kry, lag hy saam.

“Tale?” vra hy.

“Xhosa, Afrikaans, Engels, Sotho, genoeg Zoeloe om soos ’n moegoe te klink. Maar ek het jou nie laat kom oor ek my taalvaardigheid wou uitstal nie. Ons praat besigheid. Niks anders nie.”

Laat kom, dink Beeslaar. Die blerrie vrou sit haarself nogal hoog neer. Maar hy byt sy tong.

Die rekening kom. Sy weier dat hy betaal. “Dis mý plek dié, so ék betaal,” glimlag sy. “Maar jy kan ’n volgende keer, as jy wil.”

Volgende keer. “Kaptein Tjoebêka... Koebê... ” Sy tong knoop boertig met die klik van haar naam. Hy laat vaar sy pogings, sê: “Ek twyfel of daar ’n volgende keer sal wees.”

Sy bly stil, maar haar oë vonkel. Want éintlik weet al twee van hulle wat vanoggend hier gebeur het: Sy’t die aas uitgehou. En hy het dit gevat.

“Laat ek dit só stel,” sê hy en hoop hy lyk so beslis soos hy voel. “Oom Blikkies se dogter het gevra ek moet aanbly tot Sondag. Om die as te strooi.”

Sy selfoon tril en hy raap dit dankbaar op.

“Sersant Ghaap! Hoe lê die beeste daar by jou in Soweto?” roep hy vrolik uit en glip onder haar oë uit.

Onse Vaders

Подняться наверх