Читать книгу Onse Vaders - Karin Brynard - Страница 13

Оглавление

Hoofstuk 9

9

Ghaap lê en rondrol.

Hy’s ongemaklik, kry nie sy lê met die seer been en die pap holtes van die afgeleefde matras nie. Hiérdie plek, dink hy wrokkig, gaan hom nog doodmaak. Newwermaaind Soweto, hy gaan dit nie hier in Riverlea maak nie. Want dit ráás. Lyk die mense gaan nooit slaap nie. Hy sweer hulle vat beurte om geraas te maak.

Hy het net na middernag ’n geleentheid terug huis toe kon kry – ’n konstabel wat hom in die polisiebakkie gebring het. Hy kan darem weer loop, al is sy been nog seer. Hy het dit goed kom bekyk toe hy by die huis gekom het. Die maermerrie was klaar blou rondom die brandstreep wat die 9 mm-koperpunt teen sy been af getrek het. Dit het letterlik teen die bopunt van sy stewel, tussen die broek en sy stewel, tot stilstand gekom. Hy sal oorleef. As hy kan slaap, want sy neef, Charlie, se partytjie begin nou pas op dreef kom. Die plek was klaar blou van die daggadampe toe Ghaap hier aankom. Bierbottels wat oral rondlê en die een of ander Amerikaanse gangsta rapper oor die luidsprekers, ou Charlie se maters wat vir mekaar skree “p’sop, hie’ kom’ie gattas!” Moerse snaaks.

Hy was skaars by die deur in, of Charlie probeer ’n verskrikking van ’n meisiemens aan hom afsmeer. Sy het ’n “passion gap” waar haar voortande moes gesit het. Dik gezol, haar oë glasig van die een of ander drek-drug wat die bruin mense van hierdie plek rook. Ghaap het na sy kamer gevlug, ’n stoel onder die deurknop ingedruk om seker te maak die tandelose teef los hom uit. Hy’s verby gatvol, lus om sommer nóú al in sy kar te klim en terug te fokkof huis toe.

Aan die ander kant... As hy na net tien dae huis toe gaan, sal hy nooit die einde daarvan hoor nie. En van bevordering kan hy dan vergeet.

Hy dink aan die trekkies wat hy die middag ontmoet het. Al drie van hulle is oudpoliesmanne. Mo, die reus met die hoë, hees stemmetjie, vertel dat hy vyf en twintig jaar agter die blad het. In hierdie einste Soweto, maar hy’t nie gesê by watter een van die nege stasies nie. Dis ’n moerse groot plek, het Ghaap die afgelope paar dae vasgestel. Meer as tweemiljoen inwoners, rofweg geskat. En daar kom elke dag nog by.

Ghalla, die klein outjie wat die bullet uit sy been gehaal het... Hel, streng gesproke het hy die bullet áfgehaal, nie uit nie! Ghalla is al langer weg uit die SAPD. Gebou soos ’n ratel, maar die slinkse smoel van ’n hiëna. En ’n gesig soos ’n bak roereier – growwe vel vol snymerke. Hy sê hy’t eers transit gery – menende hy het die voertuie opgepas wat geld tussen banke heen en weer ry. Lewensgevaarlike werk, want transitorowers doen die jop met AK’s. Hy’s weg by transito nadat hy die enigste oorlewende was van ’n mislukte roof. Die rowers het die swaar transitowa omgestamp. En toe hulle nie deur die versterkte staalplate van die dak of die onderstel kon sny nie, het hulle ’n kan petrol oor die trok uitgesmyt en dit aan die brand gesteek. Vier wagte binne-in het verkool. Ou Ghalla kon loskom, maar het sy bakkies verloor, onder meer.

Die jongste van die drie, Duif, is ook lankal uit. Hy’s die koel, stil Chuck Norris onder die lot. Sê minder, maar weet dalk die meeste. Hy’s die langste van die drie by die opsporingsmaatskappy. Netjiese ouens. Hy kon hoor aan hulle praat hulle is ouskool.

En toe hy vra hoekom hulle weg is uit die polisie, was hulle antwoorde maar vaag. Mo, met sy gansstem, het gesê hý’s uit oor dit vir hom tyd was. “Maar ek sal enige tyd teruggaan polisie toe,” het hy bygevoeg. “My bloed bly blou. Maar jy weet hoe dit is... ”

Ghaap het maar geknik. Hy weet wat die ou bedoel het. Daar’s min toekoms vir wit mans, die salaris bly pateties en die meerkatte is besig om die oorlog te wen.

Oor sy twee “mentors” – Mabusela en Mthethwa – sal Ghaap nie huis toe skryf nie. Mabusela is orraait, maar Mthethwa slaan die kitaar tussen hulle. En hy’s ’n lui donner. Behalwe as dit kom by die nuwe blougat “bietjie touwys te maak in die wyk”. Die blougat synde Ghaap te wees.

Die wyk. Die ouens hiér praat ’n ander taal, een wat hy dalk nooit gaan baasraak nie.

Van binne, uit die sitkamer, het sy neef se partytjie nou rat verwissel. Die musiek raas nou só hard, Ghaap voel hoe tril die ysterbed waarop hy lê.

Hy staan op en gaan pluk sy kamerdeur oop, loop met lang hale tot by die twee groot luidsprekers wat onder die TV staan. Hy ruk albei uit hulle toue, gooi hulle eenkant toe. In die verskrikte stilte wat volg, loop hy terug na sy slaapkamer, skuif die stoel weer onder die deurhandvatsel in en val op sy bed neer.

Onse Vaders

Подняться наверх