Читать книгу Onse Vaders - Karin Brynard - Страница 20
ОглавлениеHoofstuk 16
16
Beeslaar glip die selfoon terug in sy sak. Hy voel snaaks, asof hy sy vinger in ’n kragprop gedruk het: Pyn kronkel oor sy hele kop, laat sy hart hamer. Nie noodwendig ’n lekker gevoel nie. Dalk babelleer hy net. Dalk is dit dié dorp. Die krullige vroomheid van die argitektuur. Selfs die blerrie akkerbome lyk of hulle deur die Liewe Here self hier ingespit is. Sommige, sien hy, word met kabels en pale regop gehou. Soos die sterwende adel van ’n ou orde.
“Nou toe!” breek Quebeka sy babelas gedagtes oop. “Jy kan saam met my ry.” Sy begin ook sommer aanstap. Haar ferm agterstewe span oor die sitvlak van haar broek. Gesónde agterlyf... as jy hou van vroue met vleis aan die bene.
Beeslaar kom tot verhaal: “Die Du Toits verwag my,” roep hy agter haar aan. “Ek moet dalk maar gaan groet.”
“So jy ry saam met my!” Sy draai om en wink hom met haar kop. Sy maak nie vinnige bewegings nie, dié vrou. Ook niks aarselend of onseker nie.
Sy staan op ’n geel streep reg oorkant die restaurant geparkeer. Dis ’n ou polisiebakkie waarin sy ry, sien hy verbaas.
“Die kar is lekker groot en die vangwa agterin is handig,” antwoord sy ongevraag. “Intimidasiewaarde kan jy nie koop nie. Véél beter as so ’n pisserige ou Golfie.”
Hy loer onderlangs na haar. Sy dra haar hare kort. Nié in die vlegselrye waarvoor Suid-Afrikaanse swart vroue so lief is nie. Maar uitgekam en in ’n kort, moderne Afro-styl gesny. Beklemtoon die lyne van haar nek.
Hiérdie vrou, besluit hy. Hy sal moet ligtrap. Speel hom soos ’n blikkitaar.
Quebeka swaai regs op in die druk verkeer van Merrimanlaan. Oos, vermoed hy. Sy kompas is wankelrig in hierdie plek. Al die berge wat die son vashou. Hulle lyk vir hom almal eenders.
Studente drentel weerskante van die pad en Beeslaar sien witgeverfde twee- en drieverdiepinggeboue, terracotta-dakke. Beleë geboue, besluit hy. Geboue hier word nie oud nie, maar beleë, soos wyn. Dik wit mure, gekrulde houtwerk by die antieke deure. De Beers-gebou, sien hy op een. Sal seker ’n gatkruip-skenking wees, nog uit apartheid se tyd – van die Engelse diamantmaatskappy aan die Boere se universiteit, vroeër bekend as die Broederbond se kleuterskool.
Hulle swaai na ’n hele ent regs uit die besige pad, verby skole. Hy kyk vir straatname, maar besef hy sal ’n deeglike kaart van hierdie deurmekaar dorp moet kry. Tot hy sy rigting terugkry.
Hulle ry ’n woonbuurt binne. Hy sien leivore blink, ’n boomsambreel oor die pad, goue herfsblare wat grond toe fladder. Die erwe is groot, huise deftig. Ou geld, hier rond, vermoed hy. Etlike tuine staan oop straatkant toe. Die vreesneurose van Johannesburg se ryk mense het nog nie hééltemal hier ingeslaan nie. Maar dit sal kom, weet hy. Veral na ’n ding soos gister.
Dan is hulle skielik daar. Beeslaar herken die stil doodloopstraat met die berg op die agtergrond. Quebeka stop en is dadelik uit, begin aanstap na die buurman se huis. “Sluit jy nie?” roep hy vir haar.
Haar antwoord is ’n verveelde blik.
Agter haar word die deur oopgemaak deur ’n lang, maer kêrel met yl blonde hare. Brilglase wat lig weerkaats.
Sodra Beeslaar by is, stel Quebeka die man voor as “Willem Bester, meneer Du Toit se prokureur”.
“Ek het eintlik vir kaptein Beeslaar verwag.” Sy oë wip onseker van Quebeka na Beeslaar agter haar.
“En u’s baie gelukkig, meneer Willemse. Nou kry u twee vir die prys van een,” sê sy sonder enige sweem van humor. Sy kyk die man uit haar pad uit.
Willem Bester staan vinnig opsy, laat haar deurkom en steek sy hand uit na Beeslaar. Hy’t ’n vergruisende handdruk, regte knaterkrimper. Dit ruk Beeslaar skielik terug uit sy babelas-waas. Wat, in godsnaam, is hy mee besig? Hy’t niks met hierdie saak uit te waai nie. Hy moet huis toe, eerder as om soos Quebeka se agterryer saamgesleep te word. Hy kan sweer sy draai Willem Bester se naam en van opsetlik om – net om vir albei die manne hier te wys wie’s eintlik die baas.
Beeslaar volg hulle in stilte. Hy’s al weer die mak gans, voel hy. Maar een ding is seker: nie meer vir lank nie.
In ’n groot eetkamer sit Malan du Toit en sy twee kinders by ’n brekfistafel.
Hulle gaan weer ’n keer deur die groet-en-voorstelseremonie. Die eetkamer is ruim, lig wat inval deur twee groot skuifdeure wat op ’n agterstoep uitloop. Buite glim ’n swembad. Ook die struike skitter in die vroeë son, maak sterre in die loof, wat nog nat is van die nag se sproeiers.
Du Toit staan nie op vir die handskud nie. Hy knik net, sy arms gaan outomaties na die twee kinders weerskante van hom. Hy dra ’n kortmou-gholfhemp, sy hare nog nat van sy oggendablusies. Maar hy lyk of hy oornag ’n honderd jaar ouer geword het. Donker sakke onder sy diepblou oë, verbluf.
Die dogter, Ellie, is in ’n los langmou-T-hemp wat myle te groot is vir haar. Beeslaar onthou hoe lig sy gister in sy arms was. Haar lang heuningblonde hare is ook effe nat, hang in aapstertjies oor twee knopperige skouers. Die hand waarmee sy ’n haarsliert delikaat agter haar oor indruk, is wit soos begrafnislelies. Die arm is naalddun, ’n porseleinpop. Daar’s ’n wit verband net-net sigbaar om haar linkerpols. Sy doen moeite om dit met die T-hemp se mou te verberg.
En waar sy die feetjie is, is haar broer, Dawid-Pieter, die onfraaie padda. Hy sit krom, roer onbelangstellend met sy lepel in ’n ongeëete bord graanvlokkies.
“Ek is bly om te sien jy het niks oorgekom nie,” sê Quebeka vir die meisie toe sy gaan sit. “En ek is baie jammer oor jou mamma. Ons gaan hard werk om die skuldige te vang. Sal jy my help?”
Die meisie antwoord nie. Sy skuif nader aan haar pa, bly vroetel met ’n ligpers selfoon in haar hande. Sy draai dit om en om, raak dan bewus van iedereen se oë op haar en vou die foon in albei hande toe. Dan sien sy die verband wat uitsteek onder die mou. Sy los die foon en trek die mou tot oor haar hand.
“Ellie is nog nie sterk genoeg hiervoor nie, kaptein,” sê Willem Bester namens haar.
Quebeka kyk nie eens na hom nie. Haar oë is op die kind.
“Die ding is, Ellie,” haar stem is sag, “hoe vinniger ons al die moontlike inligting bymekaar kan kry, hoe vinniger kry... ”
“Met respek, kaptein, maar my kliënt het mos al ’n verklaring afgelê. Gisteraand al.” Die prokureur se brilglase flits in die helder vertrek.
Quebeka gee hom ’n koninklike kyk. Die man sluk.
Sy draai terug na die meisie. “Ellie, toe jy gister van die skool af gekom het, het jy enigiets gesien... dalk iemand opgemerk? Of iets wat anders was?”
Stilte.
“Ellie?” Quebeka steek ’n hand uit na die meisie, wat verder wegkrimp in haar stoel.
Die pa se blik verhard: “Ons is gister... ons as gesin... Dis vir ons geweldig traumaties. Net om... net om daaroor te praat... ”
“Ek weet. Ek verstaan,” sê Quebeka.
“Ek weet nie of u regtig verstaan nie, kaptein. Ek weet nie of jy ’n gesin het nie, maar om... ” Sy stem breek af en hy haal diep asem. Daar’s ’n bewing in sy ken. Hy probeer weer: “Ons was gisteroggend hierdie tyd nog... Ons was sáám. ’n Gesín.”
Quebeka vang Beeslaar se oog, gee die leisels oor aan hom.
Du Toit se blik skuif na hom, takserend. Beeslaar kan die vraag in sy oë lees: En ek dag jy’s aan óns kant?
“Wie van julle het laaste kontak gehad met die oorledene?” vra Beeslaar.
“Watse vraag is dít?” Daar is skielik drif in Du Toit se stem. “Ons het mekaar die oggend laas gesien. Ek sou die kinders skool toe vat. Want dit was koelerig. Elmana het gesê nee, dan moet sy hulle weer gaan haal. Ons het dit bespreek. En toe’s die kinders weg op hul fietse. Ek is weg werk toe. Niemand het op sy horlosie sit en kyk wie gaan eerste of laaste weg nie!”
“Het sy afsprake vir die dag gehad? Weet u wat haar bewegings sou wees? Vriendinne dalk?”
Du Toit kyk vlugtig na die twee kinders, waaksaamheid op sy gesig. “Dit was... ’n gewone dag, sover ek weet. Sy is... Sy sou tuis wees. Ons huishulp is vir die week na haar mense in die platteland. ’n Begrafnis, dink ek. Sy’s van die Oos-Kaap. En... Elmana is baie... privaat. Sy... e... sou gewoon... tuis wees. Daar was niks.”
“Geen nutsmense, ’n tuinier. Vriendinne?”
“Sy... e... was baie besig. Ek dink sy het ’n Bybelstudiegroep gehad... ”
Die dogter frons. Liggies, maar haar oë bly neergeslaan. Beeslaar kan dit nie lees nie.
“... maar nie gister nie. Maar wat het dít nou te doen... ”
“U het nie dalk gebel nie, die oggend? U, of een van die kinders?”
“Man, nie een van ons het met Mana gepraat nie. Regtig! Kaptein Quebeka!” Hy wend hom tot haar, laat Beeslaar goed verstaan hy weet wie van hulle twee die broek dra.
“Het enigeen van u aan die oorledene geraak?” beur Beeslaar voort.
“Wát?”
“U wou dalk kyk of sy nog asemhaal.”
Geen reaksie, maar hy sien Du Toit se kaakspiere spring. Dan fluister hy iets in sy dogter se oor, plant ’n stil soen op haar nat hare. “Gaan jy saam, boeta,” sê hy vir sy seun en die twee skarrel haastig uit.
“Sy kan in elk geval niks onthou nie,” sê hy toe hulle uit is. “Sy’s op medikasie. Die dokter wou haar eintlik nie gisteraand uit die hospitaal ontslaan nie. Ons is almal maar baie bekommerd oor haar. En dieselfde geld vir my seun.” Hy frons vir Beeslaar: “En ek kan wragtag nie glo jy sit óns en terroriseer nie. Wat van... Terwyl die huisrowers... Hulle hol die blerrie wêreld vol! Régtig!”
Beeslaar sê niks, vou sy arms oor sy bors.
“Die kinders se skool kom smiddae halftwee uit,” hervat Du Toit. “Maar hulle het meestal naskoolse aktiwiteite. Gister was Ellie se klavierles. Sy was ’n minuut of wat vroeër tuis as Dawid-Pieter. Sy was dus eerste daar. Moes dit... daarop afgekom het.”
Beeslaar: “En waar was haar ma se liggaam toe sy haar sien?”
Die man staar na Beeslaar.
“Op die vloer of op die bank?”
“Net daar, man! My seun het my gebel. Ek het gesê hy moet die paniekalarm by die voordeur druk en buite wag; ek kom dadelik. Ek was naby genoeg, maar die middagverkeer... Ek het soos ’n maniak gejaag. Dit het my seker ’n goeie tien minute gevat van die Volkskombuis af. Dis aan die ander kant van die sakekern.” Hy skep asem, sy neusvleuels wat sper. “En toe ek hier aankom, was ADT al hier. Dis ons private sekuriteit se manne,” voeg hy by om Beeslaar se onthalwe. “En julle het minute later hier aangekom. En dis ál! Dink jy nou wragtag ek sou hiér gesit en blerrie brekfis eet het as ek méér geweet het? Regtig!”
Beeslaar staan op. “Meneer Du Toit, u het ons innige simpatie. Maar as daar enigiets is wat u byval, iets wat u onthou... Maak nie saak hoe onbenullig dit is nie, bel vir kaptein Quebeka.”
“Daar’s niks,” antwoord hy vererg. Frons dan: “Ek is onder verdenking?” Meer stelling as vraag. “Ek weet julle kyk altyd eerste na die man.” Daar’s ’n sweem van uitdaging in sy moeë blou oë. “Maar Wim... meneer Bester sal kan bevestig dat ek saam met hom en twee kliënte in ’n middagete was, gister.”
“So laat in die middag?”
“So laat, ja.”
“Het u gedrink?”
“Wat ís hierdie? Wat is éintlik jou posisie hier, kaptein Beeslaar? Werk jy saam met die dame, hier? Ek dag my ma sê jy’s ’n speurder uit die noorde van die land. En dat jy ons in jou privaat hoedanigheid sou bystaan.”
“’n Polisieman is nooit privaat nie, meneer Du Toit. Tot hy die dag sy kop neerlê,” sê Beeslaar met nadruk.
Du Toit leun ineens vorentoe, sy elmboë op die tafel, hande liggies inmekaargevleg. “Ons is ’n baie... ’n geweldig hegte gesin. My vrou... Mana was... Sy was uitstekend in alles wat sy aangepak het. By verre ’n beter ouer en versorger as ek. Ek kan my ou skoene agterna gooi. As vader dink ek dat ek my gesin... Ek was nie altyd dáár nie. My werk verg baie aandag.”
Beeslaar sug innerlik. As hy ’n sent gehad het vir elke keer dat hy al dié kakstorie moes aanhoor...
“Ek werk baie hard. En Elmana het my verskriklik goed ondersteun. Ons was ’n goeie span, elkeen wat sy bes doen op sy gebied. Haar... ” Sy ken bewe en Beeslaar kan sien hy byt hard op sy tande. Die sinikus in Beeslaar vermoed dis ’n bekende toespraak, word gereeld uitgeruk by goed soos herdenkings, verjaardae.
“Sy wás ook sterk,” sê Du Toit na ’n rukkie. “Sy het ons huishouding, die tuin, die kinders. My ma. Die sopkombuis.” Hy skud sy kop lig, oënskynlik self verbyster met die werklas van sy vrou. “So baie liefdadigheidsgoed. Ek wonder of hierdie regering van ons régtig ’n benul het van hoeveel miljoene rande daar jaarliks... ag, dáágliks, in hierdie land van ons vir minderbevoorregtes... Deur mense soos Elmana. Daar word so maklik vinger gewys na gegoede wit mense. Asof... ” Hy verloor stoom.
“Elmana was betrokke by die skool, op die skoolraad en die ouervereniging. Sy was op die beheerraad van my ma se ouetehuis én by ’n tehuis vir minder gegoede bejaardes in die bruin buurt. Sy het die dorp se sopkombuis bestuur, geld ingesamel vir... ” Sy stem gly en hy kyk weg, na buite, waar ’n rooivlerkspreeu uitbundig kerjakker in die voëlbad.
Daar’s ’n nattigheid by sy groot ronde uiloë en ’n geskopte-hond-uitdrukking oor sy gelaat. “Ek blameer myself,” sê hy. “Ek was nie daar nie.” ’n Traan rol oor sy wang, hang ’n oomblik aan sy ken. “Dis ’n man se eerste plig. Die allereerste. Hy moet sy gesin beskerm.”