Читать книгу Die Skyn van tuiskoms - Lina Spies - Страница 22
Woonplek
ОглавлениеEn Hy het hulle gelei op ’n regte pad
om te gaan na ’n stad om in te woon
Ps. 107:7
Sal ons in hierdie land uiteindelik
alleen maar met die liggaam woon
terwyl ons gees
’n skuit word op ’n Amsterdamse grag
’n duif op Trafalgar Square
’n grassprietjie in die Luxembourg-tuin
Die son is hier
felwit teen ’n gewel
sekelblink oor ’n mielieland
oneindig om ’n doringboom
nie ’n illusie nie:
haastige hoop op ’n misdag in Amsterdam
onmoontlike ontvangenis in die somber Londen
vlugtige vrolikheid oor die Seine van Parys
Maar o my land, het die groot son
jou mense klein en blind gemaak:
“Dankie, Here, dat ek nie soos die ander is nie,
die anargiste van Wes-Europa, die heidene,
die afgedwaaldes en die immoreles.”
In hierdie land het ons ’n ontugwet
opdat niemand die swart-wit ordelikheid versteur nie
ons het boonop ’n wet teen die homofilie
opdat ons bewaar mag bly van Sodom
en Sondag is ons almal in die kerk
opdat Gods guns oor ons, die uitverkorenes, sal bly.
En ek wat hierdie woorde skryf,
ek met my hoë waan en my poësie?
Ek is ook ’n fariseër:
ek is André wat verlief is op Parys
ek is Breyten wat daar woon
ek is Jan op Kreta
ek is Peter wat hom êrens in Engeland bevind
en in Amsterdam kan ek Elisabeth word
maar hier is ek uiteindelik myself
ek hoereer agter dié mooi stad aan
totdat ek voor hom neerkniel
met my wange nat om Kaapstad
en die vreemde god meteens sy vinger
verwytend suidwaarts rig