Читать книгу Die Skyn van tuiskoms - Lina Spies - Страница 23

’n Paternoster vir Suid-Afrika

Оглавление

Here, laat die name geheilig word

van al die kinders van die land –

van hulle

wat modderkoekies gebak het uit sy aarde,

dassies skrikgemaak het in sy klowe,

wol getrap het in sy krale.

Ek het asemloos toegekyk:

swart bolywe geboë oor magtelose diere

en skerp skêre wat my laat wag het,

bang vir die glip-slag, die bloed, die pyn.

Maar die swart versigtige hande

het selde dieper as die wit geknip

en ek kon die lootjies uitdeel

want die arbeider was sy loon waardig

volgens die aantal wat hy vrygemaak het

om ligvoets teen die somerheuwels uit te wei.

Maar die bale is lankal toegewerk en weggestuur,

die wololie van my voete afgewas,

my bene nie meer lam getrap nie.

Vergewe ons, die vergeetagtiges, die uitgerustes,

soos ons hulle vergewe, die luidrugtiges

wat nooit binne die kraal was nie,

wat nooit rietperd gery

en kaalvoet geloop het nie,

en Here, sien ons hande aan:

Kyk, om my wit pols is ’n armband van gras;

my donker speelmaat het dit kunstig gevleg

soos ek nooit kon nie …

Aan U behoort die land

en die son

en die skape van sy weiding

Gee ons liefdevolle hande, Heer,

en sny U self versigtig aan die belemmerende kleed

dat daar nie onnodig bloed verspil nie

en deel U self die lootjies uit

Die Skyn van tuiskoms

Подняться наверх