Читать книгу Die Skyn van tuiskoms - Lina Spies - Страница 34
Veldwerker
ОглавлениеEk wil jou naam noem as ’n towerspreuk
want dit is nuut aan my gegee
wanneer om my die ou verdriet hom uitstrek
soos ’n stadsplein in die winter:
alles wat ek voorheen liefgehad het
ver soos die huise, steenkoud, vensterblind,
sonder die latere genade van die sneeu.
Maar kyk, ek benoem jou tot beswering van die swygsame aarde
dat ’n entjie bo die grond
jou naam die krokusse verleërig laat kop uitsteek.
Hul vreugdespel is kort maar vol geduld
waarmee hul wag op die seker opvolgbeurt
van die goudgeel affodille
wat die kopsku Noordelike son uitknikker
onder die gryslug met hul skaterlag.
So sal van kop tot toon
jou naam my warm maak
as jy die ou liefde en verdriet
uiteindelik uitvang vir ’n nul.