Читать книгу Die Skyn van tuiskoms - Lina Spies - Страница 28
Ritueel
ОглавлениеHoe weet mens as jy ja sê vir die tweede keer
dat dié liefde meer is as gebare:
tafelgebed van die vrygesel wat alleen eet in kafees,
hoofbuig van die gereelde kerkganger?
Jou heerskappy en my onderworpenheid maak ’n leuen
van die gesegde Once bitten, twice shy.
Ek wil opnuut dat jy my seer moet maak
as ek jou dien met opgetrekte knieë
om dan in jou bedek te wees –
deur jou ontferming toegesluit, verseël.
Onvermydelik ’n tweede maal jou voorbehoud en my verweer
maar daardeur juis: ons liefde by die grasie Gods.