Читать книгу Die Skyn van tuiskoms - Lina Spies - Страница 35
Twee verse vir Marileen
Оглавлениеi Slaaptyd
Nou kan die slaaphaas naas die speelteddie
reken op ’n bietjie aandag
en ek self vergoed word
vir die kere wat ek gesmelt het en verdamp
in die sonskynure van suigstokkies en ballonne.
Dis die ou spel waaraan ek toegee
vir my eie stil plesier
om jou klein verset dig teen my hart te voel:
ek-wil-jou-hê, ek-sal-nie-slaap-nie.
Die deur uiteindelik toe wens ek
dat ek jou weer daar uit mag haal.
Jou rebellie bons in my oor,
my arms boots jou verlangend na
en jou kleiner afmetings lê in my
meteens soos ’n swaar pyn:
eendag sal jy jou self insluit,
die donker welkom heet
en jou trane demp teen my gehoor.
ii Troos
Jy sal altyd wees
van hulle wat jou die lewe gegee het:
liewe kind, buitebeentjie van my,
koudgelaat deur my bloed
maak jy my die nooit-vanselfsprekende altyd-bevoorregte.
Maar jy besit jou oë
met soveel eiesinnigheid
dat ek my met my enkelheid opnuut versoen
want daardie blou –
geen mens herlei dit ooit tot bruin en groen.