Читать книгу Die Skyn van tuiskoms - Lina Spies - Страница 25
Swygende
Оглавлениеii
’n Mens kan dit weet van ’n stad
en ’n berg
en ’n taal
dat jy dit altyd lief sal hê:
vir my die verre, geliefde stad
met sy gewels en keistrate
en die berg waarheen ek teruggekom het
om aan te sit by die bekende tafel
en die taal van my eerste ek-wees
onvervreembaar tot die laaste helderte.
Maar o, hoe kan mens dit weet van ’n ander mens?
Want ’n mens is nie ’n stad
wat geen liefde ooit omsluit
’n berg
wat niemand roer
’n taal
wat in die tong se swye sterf nie.
’n Mens is jy wat ek in my arms toevou
wat beweeg teen my
wat my spraakloos laat lewe.
Laat ons tog nie vra nie, my liefste,
want mens praat net as jy dink:
dis hier ons Aankoms, ons Vergenoeg, ons Ewige Stad.