Читать книгу Die Skyn van tuiskoms - Lina Spies - Страница 30
Studie
ОглавлениеVerspot dat dit my nou moet pla,
Picasso se pienk periode:
dogtertjie met haar hand op ’n hond se kop,
vrou met ’n kind aan haar bors.
Ek gaan my daarop draai
in die blou stilswye
waarin sy naakte vrou haar keer
sodat mens knop vir knop die rugstring langs
alleen haar skoonheid en haar hartseer raai.
My bors druk teen my opgetrekte knie:
die enigste bekentenis waar voorheen
bo die skaars gedulde leegheid van my buik
gretig en teer sy mond en hande was.
En skuins oor my skouer
moet ek nog een maal terugkyk
na ons wegstap-kind,
reeds halfpad uitgedeel aan die pienk skemerte.