Читать книгу Die Skyn van tuiskoms - Lina Spies - Страница 29
Territorium
ОглавлениеGeef mij den tijd, geef mij den tijd
om u te behooren
aan deze zijde der zekerheid.
Gerrit Achterberg
Ek is oor alles wat ek het
vandag so byna volledig bly
dat ek verbaas oor dié nuwe sekerheid
binne my eie wêreld kom en gaan.
Dit was jou eis, my lief, nie waar?
Dat ek oor jou nie sou bly staar
en in ’n monoloog met jou die vrae stel
en self ook weer die antwoorde verskaf.
Dis dodelik, het jy gesê, dis moord,
jy sou daarmee nie saam kon leef
terwyl jy tog van my onvermydelik
meesal geskei of ver moet wees.
Maar nou, aan die kant van die wrede grens,
geluk dit my om kop te hou;
laat ek hul tel my seëninge, een-een,
totdat ek weer oortree op jou gebied,
dit ons s’n word opnuut tot ’n bewoonde heerlikheid
al staan daaroor die tyd geskryf
en daarmee saam die tydelikheid:
o, omdat ek jou
tot in die laaste vesel lief kon hê,
kan ek uiteindelik oor niks verleë
regop en stil my niemandsland betree.