Читать книгу Een glas dooswit - Linette Retief - Страница 11

20-40: Die spandabel-miserabel-jare

Оглавление

‘Anyone who lives within his means suffers from a lack of imagination.’

Oscar Wilde

So het ek deur my twintigs, my dertigs en ’n goeie deel van my veertigs gewals – nie altyd geldloos nie, maar, besef ek nou, clueless. En clueless uit eie keuse – die soort keuse wat jy doen deur nié ’n keuse te doen nie. Ek was ’n oop teiken vir alles van kommissiegedrewe kosmetiekverkwanselaars en verveelde boetiekpoppies tot gewetenlose versekeringsverkopers. En, man, het hulle my sien kom.

’n Aansienlike deel van my vroeë twintigs is boonop daaraan bestee om vir busse te wag, op busse te sit en van busse af te klim. Ek onthou met skande, skaamte en ongebreidelde vrees vir wat kon gebeur het, selfs ’n paar keer dat ek duimgegooi het. Want ek het nie ’n rybewys gehad nie, nog minder ’n motor. Wat my bring by een van my meer goue geldherinneringe: Toe die pennie uiteindelik drop dat my pa nie vir my ’n motor gaan koop nie, het ek begin spaar vir ’n deposito. En toe ek my eerste motortjie koop – ’n rooi-en-wit Citi Golf – het ek letterlik die klein skooltassie wat ek in daardie stadium vir ’n handsak gebruik het, vol note gepak en die verkoopsman in Sandton City vir koffie gaan kry.

Ek dink ook met ’n wrange glimlaggie aan hoe ek gesukkel het om my eerste winkelrekening oop te maak. Daar was ’n paar Dior-skoene vir R86,99 op Edgars se halfprysuitverkoping wat ek met ’n seer hart wou hê, maar nie kon bekostig nie. En Edgars wou nie vir my ’n rekening oopmaak nie omdat ek nie ’n kredietrekord gehad het nie.

Maar toe gee Edgars vir my ’n rekening, en toe is daar geen keer nie. Die bank gee vir my ’n oortrokke fasiliteit en ’n kredietkaart. Kort daarna gee Truworths en Stuttafords vir my rekeninge. Elke dan en wan gaan koop ek ’n TV of hoëtroustel – ja, dit was nog die dae – by die Hyperama en betaal 12 of 24 maande daaraan af. En so het dit aangegaan – van klere en meubels tot TV’s en ingevoerde velsorg, en feitlik elke dag scones en tee by Taylor’s Coffee Shop, waar McDonald’s nou staan.

Ná 15 jaar as kopieskrywer by verskeie reklame-agentskappe in Sandton en omgewing het ek besluit om ’n vryskut te word, en daar spring ek van die pan tot in die vlam. ’n Vinnige terugflits: Soos die meeste reklamemense het ek altyd ’n bietjie vryskutwerk gedoen. En die ekstra kontant was wonderlik. Die nadeel is dat jy nooit leer om te sien kom klaar nie, want daar’s altyd daai ekstra R500 of R1 000 of R2 000.

Om na my groot sprong terug te kom: Dit is een ding om lustig oor die verskil tussen jou netto en bruto salaris te kla; dit is ’n ander ding om die geld eers in jou warm klein handjies te hê en dit dán vir die belastinggaarder te gee. En dit is nóg ’n ander ding om skielik self te moet voorsiening maak vir alles van boekhouers en rekenmeesters tot ’n mediese fonds, pensioen en skryfbehoeftes. En dis veral ’n ding om dit alles te doen – én jou werk – as jy ’n regterbrein-creative is vir wie die woord “begroting” so vreemd is soos ’n VVV en so aanloklik klink soos ’n aambei-operasie.

Van welkom gepraat, daarmee saam het ook ander onwelkome werklikhede gekom wat ek nou eers besef my geleidelik al hoe dieper in die sop gekry het. Byvoorbeeld, wat ek maandeliks gefaktureer het, was dikwels ’n droom. Wat ek ingekry het, was nader aan ’n nagmerrie. En om geld te jaag, of ander mense te betaal om dit namens my te doen, het ’n groot deel van my lewe en energie in beslag geneem.

In die proses het ek ’n paar dinge leer vrees. Ek het geleer as ’n kliënt jou meer as twee maande nie betaal nie, begin die werk jóú geld kos. Want dit is geld wat jy nodig het om jou oorhoofse koste te dek.

As dit nie daar is nie, begin jy in jou krediet delf – hetsy die kaart, die oortrokke fasiliteit of die verband. En ek het geleer om deurgrondelik bang te wees vir die woorde: “We’ll pay you when the client pays us.” Wat natuurlik presies is wat ek sê as die bank wil weet wanneer ek my verband en my motor gaan betaal.

Een glas dooswit

Подняться наверх