Читать книгу Een glas dooswit - Linette Retief - Страница 7

My kinderjare

Оглавление

My eerste bewuste herinnering aan geld is van my pa wat sy hand in sy broeksak steek om geld uit te haal as hy vir my en my twee sussies ’n pakkie tjips of lekkers koop. Ek het altyd so jammer vir hom gevoel, want dit het so moeilik, so pynlik gelyk. En as hy dan die pakkies tjips vir ons gekoop het, het hy hulle eers oopgemaak en homself gehelp aan ’n ruim hand vol, wat ek vermoed ook diep letsels gelaat het, maar dit is ’n ander storie.

My volgende herinnering was van ons weeklikse besoeke aan my ouma en oupa in die Strand, waar ons ons knuppeldik geëet het aan ouma Lenie se voorslagkook- en bakkuns, en dan daarvoor beloon is met 20 sent wat Ouma uit die fassinerende skemernewels van haar kas en kamer gaan haal het. En onthou, in daardie dae was 20 sent amper ’n klein fortuin; met 50 sent kon jy al begin speelgoed koop.

Maar sulke luukses was ons nie beskore nie. Elke Maandagoggend moes ons by die Laerskool Totius in Bellville inklok met ons 20 sente vir ons skoolspaarrekening, waarvoor jy nog ’n seël gekry het vir elke 2½ sent, en as jy R1 gespaar het, was jou kaartjie vol, al het jou beker nou nie heeltemal oorgeloop nie.

Agterna beskou, was, en is, die probleem die boodskap wat ek daardeur gekry het, naamlik dat spaar vervelig is. In die afwesigheid van ’n breër konteks was dit ’n bepaald on-lonende proposisie vir ’n laerskoolkind wat eintlik net wou sweets en speelgoed koop – en te jonk was om te verstaan van eendag-gaan-jy-vir-my-dankie-sê, uitgestelde bevrediging en ander karakterbouende begrippe.

En toe was daar die doemryke dag toe my ma my jou wrintie toegelaat het om R1 van ouma Lenie se R5-verjaardaggeld saam te vat Kaapstad toe op die Retiefs se maandelikse epiese uittog – net om my ter plaatse te dwing om by die Bybelgenootskap ’n Bybel daarmee te koop. Die Bybel het 75 sent gekos en ek het my bes probeer – en dit in beperkte mate reggekry – om myself te oortuig dat dit ’n wenplan was. Maar ek kon net nie die verloklike speelgoedafeling van Adderleystraat se OK Bazaars (ja, dit was die dae toe winkels nog beskrywings soos “Bazaar(s)” gehad het) uit my agterkoppie kry nie.

Moet my nie verkeerd verstaan nie; ons het nog nooit gebrek aan enigiets gely nie. Maar my pa was meestal die enigste broodwinner, en ’n versigtige een wat ons gereeld daaraan herinner het dat “alles uit dieselfde kitty kom”.

Daarteenoor was daar gras wat vanuit my naïewe perspektief soveel groener aan die ander kant gelyk het; maatjies wat skynbaar soveel lekkers of klere kon kry as wat hulle wou hê, ’n tannie wie se ryk man elke jaar ’n splinternuwe Mercedes-Benz gekoop het – oënskynlike paradyse waarvoor, soos ek later eers sou vasstel, ander soorte pryse betaal is.

Intussen is ons drie orrelpypdogtertjies aangetrek met ’n kombinasie van hand-me-downs, die beste van Bellville se uitskotwinkel en duffel coats en denims van Bergers en Pep Stores in Durbanweg, Bellville. (My ma het die skynbaar onfeilbare vermoë gehad om vir ons bell bottoms te koop wanneer stovepipes in die mode was, en omgekeerd.) Elke dan en wan is ons egter bederf met ’n wenuitrusting, gewoonlik die soort wat van ’n kerkhoed vergesel is, en waarmee ons behoorlik gepronk het.

Tussendeur het ons geleer lees, geleer om veters vas te maak, geleer om op horlosies te kyk, geleer om nie lekkers by vreemde ooms te vat nie, selfs geleer om somme te maak, en dat dit nie regtig die ooievaar was wat ons gebring het nie. Maar nog nooit het ons geleer presies hoe om met geld te werk en/of wat die groter plan met spaargeld was nie.

As ek nou terugkyk, het ek seker dikwels soos die spreekwoordelike meisietjie met haar neusie teen die lekkergoedwinkel se venster gestaan en hoop en wens. Dit sou egter eers baie jare later wees dat die metaforiese lekkergoedwinkel in vele ander, minder metaforiese winkelvorms sou morf.

Een glas dooswit

Подняться наверх