Читать книгу Een glas dooswit - Linette Retief - Страница 6

1

Оглавление

Hoe het ek in die skuld beland?

‘When you open up a can of worms, the only way you get them back in again is by using a bigger can.’

Uit Never Play Leapfrog with a Unicorn: Bumper Stickers from the Information Highway, Arthur Goldstuck en William Ramwell

Êrens tussen die resessie en die sondeval moes ek die waarheid omtrent my eie finansiële toerekeningsvatbaarheid ontdek. Natuurlik was dit vertroostend om die wêreldwye resessie te blameer, of die stygende rentekoerse, die klimmende petrolprys of die katastrofiese kospryse.

Uiteraard het dit my laat beter voel om oor ’n glas wyn of drie te teem oor kliënte wat laat betaal. As ek regtig wou, kon ek dit seker tot by Eva en die appel terugvat. En dit sou alles waar en geldig wees.

Maar êrens in my was daar ’n stemmetjie wat nie wou stilbly nie … “En jy, wat het jy daarmee te doen gehad?” Was dit al die klere, die meubels, die Prada-boots en die vol Woolies-trollies wat my met ’n leë beursie uit die hart van Sandton City gekry het tot by die voordeur van Claudia Olivier, skuldberader extraordinaire?

Maar kom ons skuif effens terug na die begin. Skuldberading het die afgelope jaar vir my ’n reis op ’n klomp vlakke begin word. ’n Reis weg van die vergetelheid en gerief van kredietkaarte en oortrokke fasiliteite – na ’n enkele debietkaart gekoppel aan ’n spaarrekening … ’n Reis weg van geduldige plastiek na ’n hoop kontant wat vreesaanjaend vinnig ’n hopie kontant en uiteindelik ’n paar muntstukke word … ’n Reis weg van die cheap grace van retail therapy na die aangesig-tot-aangesig-kontak met my krisis.

En deur, en oor alles, ’n reis deur my kop en hart na my verlede om vas te stel presies hoe en waar alles begin het. Wat was die klein klippies wat ek as ’n klein verbruikersgrietjie in die woud laat lê het wat my kon weglei van al die gemmerbrood-malls en terug na ’n tyd van minder komplekse behoeftes en waarhede?

Een glas dooswit

Подняться наверх