Читать книгу Een glas dooswit - Linette Retief - Страница 19

21.06.2009

Оглавление

‘It’s more important to have a steady income than to be fascinating.’

Oscar Wilde

My pa het altyd gesê hy gaan eendag vir ons elkeen ’n rol doringdraad nalaat om te kyk of ons dit ook deur ons agterente kan trek. Helaas het ek nou reeds in my leeftyd my paraatheid op dié spesifieke vlak gedemonstreer. Die probleem is, as jy genoeg draad deurtrek, is die uiteinde gewoonlik klippe kou.

En daarvan het ek ook my regmatige deel gehad die afgelope paar maande – van die opbou van my skuldkrisis en die konfrontasie met die onvermydelike tot my benoude aanklop by die skuldberader.

In die proses het ek darem nie net slapelose nagte en hol gevoelens leer ken nie, maar ook sonderlinge genietinge op onverwagte tye en plekke. So het ek byvoorbeeld onlangs vir die eerste keer in amper 12 jaar weer van 9 tot 5 begin werk.

Met ’n bevange hart het ek die eerste oggend in my motor geklim en die spitsverkeer Sandton toe aangedurf. Soos my goeie vriend Tobie tereg gespot het, dit was my eie persoonlike back-to-school.

Danksy my gainful employment was my dae van Club Duvet, oftewel lê en láát slaap as daar nie werk is nie, getel. Ook die rondslof in ’n sweetpak tot vyfuur die middag, die lekker lang middagete, die ingeboude Vrydagmiddag af en, helaas, die tweeuurfliek en die oggendmassering (hoewel laasgenoemde twee aktiwiteite, gegewe my omstandighede, besonder lanklaas op die agenda was).

Dit was weliswaar eienaardig om weer voor ’n personeelbestuurder te sit, ’n kontrak te teken, blad te skud met nuwe kollegas en ’n nuwe stelsel te leer ken. Maar dit was ook verrasssend lekker.

Aan die einde van die eerste dag het ek opnuut – en letterlik en figuurlik – besef hoe goed dit vir die liggaam, siel én banksaldo is om ’n eerlike dag se werk te doen – en om te weet op dag X gaan bedrag X in my bankrekening verskyn sonder dat ek hoef af te pers, op te foeter of my BTW-geld – of verband self – te gebruik om my verband te betaal.

Al beteken dit ek moet ’n uur of langer op pad huis toe in die verkeer sit en SMS’e stuur, my handsak by verkeersligte uitsorteer en diep gedagtes dink in die afwesigheid van ’n CD-speler, wat al ses maande lank ontkoppel is omdat my seuntjie die kattebak oopgelos en die battery afgeloop het.

Dit laat my dink jy is nooit regtig klaar met die dinge van ’n kind nie. Trouens, ek het pas weer ’n amper kinderlike genot gevind in twee ou staatmakers: roetine en grense. Die gemoedsrus en berusting van “dit is soos dit is”: Ek moet in die oggend opstaan, ek moet funky dog funksionele kleertjies aantrek, ek moet vir kooroefening aantree.

En dit is nie net die salaristjek aan die einde van die maand nie. Dit is nie net die wete dat ek my rekeninge kan betaal nie. Dit is die gewaarwording dat ek dit wíl betaal.

Soos vanoggend. Ná maande van beplanning en bedinging, die toemaak van ou rekeninge, oopmaak van nuwes, die opstel van die skuldhersieningsvoorstel, die betaling van regskoste en die stuur van die beëdigde verklaring, het ek agter my getroue skootrekenaar ingeskuif, op my nuwe, nederige internetbankgeriewe ingekliek en met ’n lied in my hart en ’n paradigmaskuif in my gemoed my maandelikse verpligtinge en etlike skuldafbetalings kafgedraf.

Van die twee emosionele ervarings – die lied in my hart en die skuif in my gemoed – is die skuif die interessante een. Waar ek my hele (grootmens)lewe lank verkies het om my teen my bruto inkomste blind te staar, sit ek uiteindelik eerste dinge eerste. Betaal die huis, die kar, die Ontvanger … Betaal die skool, die huishulp, die kos … Betaal die polisse, die petrol, die mediese fonds … Betaal die garagedeur wat oppak, die trip switch wat breek, die honde se inspuitings …

En, bowenal, betaal dit met regtig-egtige geld, nie die R30 000-krediet wat ek op my kredietkaart gehad het in die slegte ou dae van “koop nou en betaal later” nie.

Een glas dooswit

Подняться наверх