Читать книгу Een glas dooswit - Linette Retief - Страница 18

14.06.2009

Оглавление

‘If you think nobody cares, just miss a couple of payments.’

Anoniem

Sophie Tucker was ’n kabaretsangeres in die 1920’s; ’n sonderlinge ou tannie met ’n stem wat klink soos ’n kruis tussen 30 Texan Plains en ’n rooi fluweelrok, en treffers soos “Vitamins, Hormones and Pills” en “Inhibition Papa (Your Mama’s Just Been Psychoanalysed)”.

Êrens in my prille jeug het ek een van haar langspeelplate in my ma-hulle se versameling gekry en my jare lank verkneukel in haar diep, stout stem en praat-sing-weergawe van lirieke soos “You may hate yourself in the morning, but you’re gonna love it tonight”.

Wel, as geld uitgee ’n paartie is, is skuldberading en die gepaardgaande realiteite ’n enorme finansiële babelas. En dit is waarmee ek nou sit.

Behalwe dat die “love it tonight”-stukkie so uit soos koekies in die weeshuis is, is die nugtere werklikheid van “hate yourself in the morning” nou deel van my lewe vir die voorsienbare en onvoorsienbare toekoms. (Die einste Sophie het ook glo gesê: “I’ve been rich, I’ve been poor. And believe me, honey, rich is better.”)

Wat nou gemaak? Wel, stap nommer 1 is om my toevlug tot selfmotiveringsliteratuur te neem. Aan die een kant het ek ’n broertjie dood aan al die ingewikkelde en tydrowende paadjies na sogenaamde enlightenment – hetsy sielkundig, geestelik of finansieel. Maar aan die ander kant is die sirenesang van selfverbetering ’n aks te sterk vir my Calvinistiese siel.

Met dié pak ek ’n boek aan wat my lankal lok, maar wat nog nooit die stryd teen moordrillers en chick lit gewen het nie: The Art of Possibility deur die dirigent-cum-motiveringsghoeroe Benjamin Zander en sy nou gewese vrou, Rosamund.

Ek lees die grootste deel van ’n week daaraan, en werk nie net stelselmatig daardeur en onderstreep die relevante dele nie (wat eintlik maar die hele boek is), maar ek maak sommer ook ’n opsomming van die 12 beginsels wat hopelik die paradigmas van my wêreld gaan verskuif. En van 1 tot 12 sit ek in stille verwondering voor die wysheid van hulle woorde en omgord my lendene met aanhalings vir elke geleentheid.

Maar juis op dié hoë noot herontdek ek nóg ’n immergroen waarheid, naamlik dat wyse woorde nie rekeninge betaal nie. Dit staan nie tussen jou en paniekbevange bankbestuurders wat wil weet wat aangaan nie. Of tussen jou en die swart hond wat jou wakker blaf in die desperate ure van die oggend nie.

Nie dat die Zanders en hul Kuns van Moontlikheid die enigste is waarop ek kan terugval nie. Ek oefen gereeld. Ek bly ’n liefdevolle en prettige mamma, en hopelik ’n goeie vriendin en mens. My finansiële verdrukking ten spyt drink ek my vitamiene. En ek dink nou en dan aan daai kortverhaal van Jan Rabie met die reël “aanhou beweeg en geraas maak”.

Tussendeur kom kuier my pa en hy word bitter siek, so erg dat hy in die hospitaal opgeneem word en my broer van die Kaap af opvlieg. Nou balanseer ek skuldberading en die Milpark-hospitaal, en nie noodwendig in dié volgorde nie. Dit is baie rof, maar dis lekker om my boetie te sien. En, ten spyte van die trauma, my pa.

Maar toe ek hulle ná sy ontslag by die Lanseria-lughawe gaan aflaai en terug huis toe ry met Johannesburg se wolkekrabbers en ’n broeiende donderstorm voor my, en stof en blare wat in mini-tornado’s verbybaklei, voel ek so alleen. Ek weet my kind wag vir my, ek weet my huishulp en haar kinders wag vir my, en dit is wat ek wil hê.

Maar wat ek ook graag wil hê, is iemand wat my inwag en sê: “Toemaar, dit gaan oukei wees, jy gaan oukei wees. Laat ek vir jou ’n bad intap of ’n koppie tee maak of ’n glasie wyn skink.” Of al bogenoemde.

En so, vir die volgende paar dae, kyk ek my in my meer pessimistiese oomblikke vas teen ’n bitter beker eerder as ’n koppie soet tee vir die skok. Maar selfs die luukse van volgehoue pessimisme is my nie beskore nie. Met ’n huishouding, ’n loopbaan en ’n finansiële kaartehuis wat almal saam fyn bestuur moet word, is dit – durf ek dit sê – ’n kwessie van aanhou beweeg en geraas maak.

Een glas dooswit

Подняться наверх