Читать книгу Een glas dooswit - Linette Retief - Страница 8

My tienerjare in Die Sop

Оглавление

Intussen het my tienerjare aangebreek, en meer as enige hormoonstorm is die era vir my gemerk – gebrandmerk! – deur my ouers se besluit om my en my oudste suster weens gebrekkige akademiese prestasie na die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad te pos – sommer ook as koshuisgangers in die meisieskoshuis, Huis Jordaan, alias Die Sop.

Ons kon net twee keer per kwartaal huis toe gaan, al was die huis in daardie stadium net 20 km van die skool af. Ek was hartgebroke. En die enigste ding wat vir my naastenby so erg soos die koshuislewe was – en my tweeweeklikse rol toiletpapier wat keer op keer feitlik onmiddellik gesteel is – was my sakgeld, waarmee ek alles van fliekkaartjies tot toiletware moes koop (en dan is ons nog verbied om kopermuntstukke in die kerkbordjie te gooi). Daar was net nooit genoeg nie.

’n Beter, ondernemender mens sou waarskynlik vernuftige planne beraam het om meer geld te maak. Maar pleks daarvan het ek jammer vir myself gevoel en op ander gesponge.

Wat ek oorgehou het, is ’n bietjie van ’n leëkas-mentaliteit: Daar-is-nie-genoeg-nie, daar-gaan-nie-genoeg-wees-nie, en in die onwaarskynlike geval dat daar genoeg is, sal ek dit gou genoeg uitgee dat ek weer kan wees waar ek begin het, in die ongerieflike geriefsone van “daar-is-nie-genoeg-nie”.

Een glas dooswit

Подняться наверх