Читать книгу Een glas dooswit - Linette Retief - Страница 9

Post-puberteit op die PUK

Оглавление

Ná drie en ’n half traanbedrupte jare in die skoolkoshuis en ’n A-gemiddelde in matriek, beland ek toe by die destydse PU vir CHO (deesdae die Noordwes-Universiteit). Die rede? My pa is in my matriekjaar Kimberley toe verplaas, en ek wou nie so ver van die huis af wees nie.

Die asemrowende oningeligtheid van my aanvanklike kursuskeuse – stads- en streekbeplanning – was plus-minus gelykstaande aan die rigtingloosheid van my latere finansiële bestuur. (Ek het gelukkig ’n maand later na kommunikasiekunde oorgeskakel.)

Terwyl my ma ’n laaste traantjie weggepink het, het my pa my R100 in die hand gestop met die woorde: “Laat weet wanneer jy nog nodig het,” of iets in dier voege. Wat ek toe gedoen het. Die probleem was, of ek een keer per maand of een keer elke ses maande gevra het, ek het elke keer soos die vark in die verhaal gevoel. Of liewer, die klein dogtertjie wat moes toekyk hoe haar pa diep en pynlik sy hand in sy broeksak steek.

Presies hoe ek finansieel deur die vier jaar gekom het, kan ek nie onthou nie. Ek vermoed ek onderdruk dit. Ek was weer eens in die koshuis, en ten minste was kos, kamer en – uiteindelik! – selfs toiletpapier nie ’n oorweging nie. Wat boeke betref, reken ek steeds daar was ’n sameswering wat bepaal dat dosente van studente verwag om ten duurste boeke aan te koop waarvan daar soms net ’n bladsy, paragraaf of sin behandel is.

Ek het dus maar weer gesmeek en geleen, darem nie gesteel nie, en nou en dan ’n wavrag vyfsentstukke aan die bib se fotostaatmasjien afgestaan. O, en immer die modelstudent, het ek elke jaar ’n merietebeurs van R300–R400 gekry omdat ek telkens met ’n onderskeiding deurgekom het – terwyl die manne met die majestueuse sportbeurse op hulle boude deurgeskuur het in kursusse soos Openbare Admin 101, maar dit is ’n ander storie.

Een glas dooswit

Подняться наверх