Читать книгу Een glas dooswit - Linette Retief - Страница 4

Voorwoord

Оглавление

‘Nothing in life is to be feared, it is only to be understood.’

Marie Curie

Een glas dooswit is ’n boek van kleiner en groter prentjies, van my persoonlike ervarings en hoe dit by die groter wêreldwye prentjie inpas. Dit is ’n poging om internasionale tendense te laat saamsmelt met persoonlike dilemmas om uiteindelik ’n allesomvattender beeld te vorm; amper soos daai invouprentjies wat ’n mens agter in die tydskrif Mad kry.

Want hoewel dit vir elkeen wat met skuld worstel, soos ’n diep persoonlike stryd voel om diep persoonlike redes, het ek gou besef ek is nie alleen nie – en die probleem is amper so oud soos die mens self.

Ek het opnuut ontdek daar is niks nuuts onder die son nie. Ekonome het selfs al in die 1950’s teen gevare en krisisse gewaarsku wat ons vandag ervaar. En die einste dilemmas het reeds in die tyd van die antieke Grieke en Romeine begin afloop.

Uiteindelik het ek geleer dat geld miskien of miskien nié die wortel van alle kwaad is nie; dat skuld en die onderliggende materialisme en daaropvolgende ontvlugting deur wanbesteding bloot die simptome is. Stadig maar seker het ek begin verstaan dat die werklike wortel van kwaad veel dieper lê en dat ’n mens dit daadwerklik dog met deernis vir die menslike toestand moet hanteer.

Les bes is Een glas dooswit ’n rooiligrelaas (cautionary tale), ’n persoonlike verhaal, ’n wêreldwye perspektief en ’n bondel wenke oor hoe om ’n skulddilemma te hanteer of, beter nog, te vermy.

Dit is nié ’n allesomvattende ekonomiese tesis of die antwoord op al jou vrae nie. Vir eersgenoemde, maak ’n draai by ’n universiteitsbiblioteek. Vir laasgenoemde, gesels met jou vriendelike finansiële adviseur.

Een glas dooswit

Подняться наверх