Читать книгу Een glas dooswit - Linette Retief - Страница 22

12.07.2009

Оглавление

Ek dink deesdae met deernis hoeveel hoofbrekens ek Claudia in my vroeë skuldberadingsdae moes besorg het. Moedverloor se vlakte het dikwels tussen ons gelê soos die besoedelingswolk oor Johannesburg. En die ergste was toe sy eendag sê: “Ons wil jou nie laat sekwestreer nie.” Ek dink in die wêreld van skuldhersiening is die s(ekwestrasie)-woord die just don’t talk about the war-oomblik.

Maar, soos ek al so dikwels agtergekom het, ek is ’n taaier koekie as wat ek dink. Iets in my weier om moed of hoop op te gee, al smag die res van my na manne in wit jasse om my op ’n drup te sit, gevolg deur drie maaltye wat ek nie hoef te bedink of te beding nie, en besoekers met Oros en druiwe sodra ek gestabiliseer het. Ek dink ook gereeld aan iets wat Claudia aan die einde van ons eerste sessie gesê het: Dit val haar op dat mense met wie dit eintlik baie slegter gaan, dikwels op die ou end beter vaar as dié wat nie so sleg daaraan toe is nie – die groot verskil synde ’n positiewe houding.

Om na die taai-koekie-deel terug te kom: Dit is nie net my innerlike superwoman nie. Ek vermoed ten sterkste my beskermengele werk oortyd.

Tussen alles deur begin dit toenemend bevrydend word om te kan sê: “Sorry, kan nie gaan fliek nie”, “Sorry, ek kan nie gaan lunch nie.” En hopelik is ek vir ewig verlos van een van my nagmerrie-scenario’s: die langtafel-lunch waar elkeen vir homself betaal … Behalwe dat die ou wat die prawns bestel het, eerste loop nadat hy R50 op die tafel gesit het, terwyl die arme drommel wat sy Griekse slaai met kraanwater afgesluk het, R150 moet in-chip om die rekening te laat klop.

Verder is dit maar ’n kwessie van aanhou beweeg en geraas maak. En konstante bestuur en admin.

Een glas dooswit

Подняться наверх