Читать книгу Versamelde werk: Sheila Cussons - Sheila Cussons - Страница 89

Hercules Seghers by “De Breede Rivier”

Оглавление

Hy was gelukkig die dag by die breë rivier –

Hy het nie die huise met die swart

twee vensters starend, gesien nie,

die vensters soos oogholtes in ’n kopbeen,

die intense, wyse, swyende swart blik

van twee vensters –

Wat gaan agter hulle aan daar binne

in die futlose skemering, wie sit

vooroorgebuk oor iets, ’n boek of naald en gare

of lê in die diepte binne met hoofpyn

op ’n bed, of in ’n laaste siekte –

Wie woon soos tydelike krappe in skulpe

of trae slakke agter die vensters se oë,

verenig in een verslaentheid oor ’n heelal

te verbysterend groot en onverskillig vir die mens?

Maar die dag by die breë rivier

het hy nie gepeins nie, die wye water en rustige groen

en die hoë somerhemel beminlik en goed gevind:

hy het geneurie die dag by die breë rivier.

Versamelde werk: Sheila Cussons

Подняться наверх