Читать книгу Versamelde werk: Sheila Cussons - Sheila Cussons - Страница 96

Kwatryne

Оглавление

Repliek

Toe skeur jou spiere, breek jou oë

dat ek iéts mag hê om weifelend te glo,

en dít was jou antwoord vir die vent

wat vir jou gesê het: tibidabo.

Bestemming

Miskien is na die sterf die vagevuur

nóg die grootste avontuur

dié dialoog met God wat ons

tot seëvierend menswees sal uitpuur.

Beslissing

Die oomblik in my hand is: nóú

reeds is die hef van die beitel lou

reeds spring die wit vlam teen die slaap

dog wat mik, en aarsel, om wat te hou?

Ou vrou

Die stom geduld van sommer sit

het hare en die wang gewit

maar beur sy op meteens gedug

krom vuiste, knuppels in haar rug.

Die laaste arend

Toe voel hy meteens in sy gesperde klou die kruis

en verwonderd swenk hy weg om sy wese af te sê

maar verdwynend met die wete tog dat hy

bokant die nuwe aarde getransfigureerd sy aard sal hê.

Laat Karmeliet

Ook die klutskwyt weë ontmoet

uiteindelik dié skerp pad

vir die opklim uit die bloed

kaalvoet na God.

Ompad

Met watter draaie het die bloed geswerf

gebou, gesaai, vertrek, vergeet,

om my na dié olywe terug te lok

en dié klein dorp wat Cussons heet?

Vraag I

My stuiwer, Heer, finansieer

die stryd wat U en ek saam stry

om uit die bose baaierd ons

duur liggaam te bevry?

Pronomen

Hoe word ek van die dwingelandy

van ek en ons, hulle, julle, ooit bevry?

Ek soek ’n op êrens en ’n uit,

ek soek ’n Gy.

Wynruit

Ou Christene het jou genoem genade-kruid

het jou gekneusde blaartjies die wond se pyn gestuit?

en vryf iets ook uit my eendag

’n geur soos rook-in-wilde-heuning uit?

Skelet

I

Al hoe dowwer minder word

tot niks van glans aan my behoort

ek afgevel tot nugter net

’n wit uitdagend laaste woord.

II

Net waan

dat ons skelette van betekenis

met spraak en letter soet uitvlees,

die laaste argument is been?

Gaea

Sy kners op kieste van basalt

en sluk asuur

buk oor die baaierd, geboortestoel

van ys en vuur.

Vraag II

Dertig silwerlinge was genoeg om ’n erf

mee te koop of Christus te verraai,

wat het in hom gepraat toe hy dit neerwerp

om swart aan ’n boom te swaai?

Bedenking

Wat leun hier teen my nek aan

sierlike swaard, seremonieel

om my tot ridder te slaan

of ’n kaler, ’n saakliker staal?

Digter I

Ek praat nie veel, verkies die dink

en skrywe soms iets neer met ink:

van ek my ken knaag dit in my:

die eelt wat in die oester blink.

Pasêla

Kaalvoet herinnerinkie van ver vandaan

wat skielik voetseer voor my staan:

onder hulle klippe uit vlug die klein akkedissies

en onder my ooglede, vinnig, die trane.

Dood van Seghers

Driftig het hy die deur geklap

en opgestraal met ’n donker trap

wynheldersiende, etsnaald! gou!

maar die dood het die groot ets uitgekrap.

Versamelde werk: Sheila Cussons

Подняться наверх