Читать книгу Versamelde werk: Sheila Cussons - Sheila Cussons - Страница 99

Die swart kombuis

Оглавление

Die swart kombuis het balke

die mure is berook

in ’n groot gekraakte erdebeker

woon dags die nagskof-spook

die swart kombuis het luike

skeefgesak en toegesluit

aartappels lê die werf rond

skedels wat loop oog uit

die vensters het geen uitsig

die werf die lug het geflou

die grond is vaal puimpoeier

die aartappels is grou

geen mens beweeg hier binne

geen mens werk op die werf

êrens tussen middag en skemer

het die aarde se lug gesterf

’n middag hoe lank gelede

die swart kombuis is oud

daar wás nooit somer-sonlig

die swart kombuis is koud

daar hang ’n snaakse skottel

met ’n riffel-hingsel aan ’n riffel-rand

en ondertoe twee gate

wat loer aan die een kant

het hekse hier gebak en brou

die swart kombuis die swyg

daar in die hoek lê ’n kat-skelet

die swart geheim bly dig.

Versamelde werk: Sheila Cussons

Подняться наверх