Читать книгу Hartstories - Amore Bekker - Страница 10
ОглавлениеDie man op die N2
Dit het Sondag 8 Januarie gebeur toe ek, my man en ons twee kinders van Groot-Brakrivier af Wildernis toe gery het om daar te gaan ontbyt eet. Langs die pad sien ek ’n man loop met ’n lang stok oor sy skouer waaraan al sy aardse besittings hang. Ek het hom diep jammer gekry omdat dit baie warm was en die humiditeit geweldig hoog.
Op Donderdag 12 Januarie reis ons weer na Kaapstad met die N2. En so waarlik, hier stap die man nog steeds en hy is al by Albertinia verby. Ek sê vir my man dat ek hom geweldig jammer kry omdat dit so warm is en hy nog steeds stap. Op daardie tydstip, om tienuur, was die temperatuur alreeds dertig grade.
In my stilligheid besluit ek om ’n bottel water te vries en dit saam te bring as ons op Saterdag 14 Januarie terugkeer na Groot-Brakrivier – om dit vir hom te gee as ek hom weer teëkom.
Sowaar. Ons kry hom weer langs die pad net buite Heidelberg aan die Kaap se kant. Ons hou stil en ek groet en vra of ek met hom kan praat. Hy antwoord baie beleefd in Engels: “Yes.” Ek vra toe hoe dit gaan en al wat hy sê, is: “I’m very thirsty.” Met dié gee ek vir hom die bottel gevriesde water en sommer ook die kossies wat my dogter vir ons ingepak het, saam met twee appels en twee piesangs. Ek vra toe vir hom waarheen is hy op pad? Sy antwoord is dat hy Kaapstad toe gaan, na ’n “missionary school to study for minister”.
Ons ry tot op Heidelberg, en by die Wimpy koop ek vir hom ’n hamburger en aartappelskyfies en ’n bottel koeldrank. Ons ry toe terug om dit vir hom te gee. Toe ons weer by hom kom, het hy sommer daar langs die pad in die kokende son (twee en dertig grade) gesit en sy piesangs en appels geëet.
Toe begin ek hom peper met die vrae:
Waarvandaan kom hy? Peddie in die Oos-Kaap.
Hoe lank is hy al op die pad? Hy al op 7 Desember weg uit Peddie.
Wat is sy naam? Sy naam is Michael.
Wat so besonders is, is dat hy nooit gevra het vir geld of enige iets anders nie, maar te dankbaar was vir dit wat hy ontvang het.
Dit het my laat skaam kry dat ek in ’n lugversorgde motor ry en kla oor die hitte. Ek het kos en water. Ek het vanaand ’n bed om in te slaap en ek is veilig.
Al wat ek vra, is dat reisigers op die N2 in die Kaap se rigting sal uitkyk vir hom en net vir hom water en iets te ete sal gee en vir hom sal bid dat hy sy bestemming veilig sal bereik.
Antoinette Richter – Pretoria