Читать книгу Hartstories - Amore Bekker - Страница 16

Оглавление

As dit vyfuur word ...

As dit vyfuur word, voel ek vinnig of my fiets se wiele nog styf is – dit het immers geduldig vir my gewag van vanoggend halfsewe tot nou, in my kantoor, op sy spesiale plek.

As ek my fiets teen die muur staan maak, is dit net nog ’n paar laaste deure sluit, dan vat ek die grondpad huis toe.

Ek groet my kollegas een-een op hul naam as hulle met hul fietse voor my kantoordeur verbyry. Een man draf saam, want sy fiets se wiel het deur die dag pap geword.

Ek hoor hulle lag, gesels en skerts oor vandag se werk en ek sien hoe hul fietse stofstrepies maak as hulle deur die hoofhek ry. Die laaste man sluit die hek. Aan hul praat kom ek agter hulle is bly om huis toe te gaan, maar tog gelukkig – want hulle het werk, al is dit by ’n graansilo op ’n plaas. Ek glo ook ’n warm bord kos wag vir elkeen by die huis. ’n Traan loop oor my wang, want ek weet hulle is tevrede met wat hulle het.

Wanneer ek die slot van die ander hek op my roete huis toe toedruk en ek hoor my fiets se ketting geduldig kraak, besef ek die sewehonderd-en-vyftig meter huis toe is te kort.

’n Rooikopfisant vlieg verskrik van haar nes af op en ’n kiewiet duik laag oor my kop, want ek waag dit te naby aan haar byna onsigbare eiertjies tussen die gruisklippe.

’n Waaierstertmeerkat hardloop vir my weg in die twee­spoor-plaaspaadjie en swenk rats weg na sy ou, bekende skuilplek.

Ek hoor twee kolganse se ritmiese geknars wanneer hul oor my verbyvlieg en sien hoe hulle in die verte verdwyn. Ek dink weer: die sewehonderd-en-vyftig meter huis toe is te kort!

Ek kry nie my tuinhekkie oop nie, want ek kan nie deur my trane sien nie. Heer, leer my ... hoe sê ek dankie vir al die genade?

Louis – Buckingham, Noordwes

Hartstories

Подняться наверх