Читать книгу Hartstories - Amore Bekker - Страница 6

Оглавление

Blessie se kalf

Woensdag sou ’n dag soos enige ander dag wees op die plaas in Noordwes, maar vanmiddag luister ek na niks wat jy sê nie, want my een vers is weg van die trop. Sy’t gaan plek soek om te kalf, maar waar?

Ek loop, want die ou bakkie is in om herstel te word – en wat is ’n boer sonder ’n bakkie? Deur die veld, soek tussen die bloekombome. In die oop veld tussen lang gras van ’n oorlêland gewaar ek haar drie ure later deur die verkyker se lens. Nou is ek op ’n drafstap na haar toe.

Haar kalf lê agter haar net soos sy gebore is, maar Blessie, my vers, staan nie op nie. Ek trek die kalfie weg. Dankie, liewe Heer, ons is ’n versie ryker – haar naelstring nog vas aan haar ma. Sy nies en roer haar oortjie. Dit skiet deur my: sy lewe ... Ek trek haar instinktief om na haar ma se voorkant. Sy begin dadelik aan haar lek en roep haar saggies. Die kalfie tel haar kop op, maar my vers is moeg, dors en uitgeput.

Ek bel huis toe: “Bring gou ’n kan water en ’n bak, ek het haar gekry!” Minute later is my wederhelf daar met die nodige. Blessie kyk vir my met vraende oë. Ek praat met haar en sê: “Ma kan nie met die kar in die oorlêland ry nie. Wees rustig, Pa gaan net gou jou watertjies kry.”

Ek drafstap om die water te gaan haal by die motor. My vers drink in ’n japtrap twintig liter water op. Sy bly lê ...

Weer haal ek my foon uit. Nou soek ek by ou beesboer­vriende raad – goeie raad. Ek hoor wat ek nie wil hoor nie: agt uit tien maak dit nie, hulle het seergekry met geboorte en staan nie weer op nie.

Ek lui af en bel weer huis toe: “Bring spuitstof, ’n beker vir melk en ’n tiet; ek moet die klein kalfie probeer biesmelk gee.” My gemoed is vol en my gebede begin vir my vers, sy moet asseblief net opstaan.

Weer drafstap ek om te gaan help om alles wat ek nodig het, by die motor te gaan haal. Ek melk haar met moeite, want sy lê op haar uier en ek moet haar oorstoot sodat ek by die spene kan uitkom. Ons lig haar een been op. Soos ek melk, kry die kalfie dit bietjie vir bietjie om te drink.

Ons is nou al ure die nag in; my gebede hou nie op nie. Ek is reg om by haar te bly deur die nag, want die jakkalse skree en kan skade veroorsaak. Ek spuit haar in die nek in sodat die spuitstof vinniger kan werk. Sy hou nie van die spuit nie, staan wankelrig op en val ’n paar treë verder neer. Haar agterbeen wil nie trap nie.

Ek melk nog ’n slag bietjie melk uit en haar kalfie loop om na haar voorkant. Sy staan op, en my dankgebede skiet op. Dankie, Here, dankie ...

Sy loop met ’n draai. Seer en wankelrig, maar sy loop om nie weer op te hou nie. Ek dra later haar kalfie agter haar aan, maar sy loop. Toe ek nie meer kan nie, besluit ek om die kalfie in die kattebak te laai, en klim by haar in. So ry ons saam huis toe. Ek dra haar uit en sit haar in die kraal. Terug veld toe, kry ek vir Blessie en so kom ons stadig huis toe, kraal toe ... Sy’s seer, maar sy het opgestaan – een van die twee uit tien wat opgestaan het.

Dankie dat ons kan boer, al is ons boerdery nog so klein en in sy kinderskoene. Dankie, Amore, vir al jou hulp vir ons boere in die droogtetyd; jy het geen idee wat dit beteken nie. Ons waardeer dit ongelooflik baie.

Lardus en Petrusa – Noordwes

Hartstories

Подняться наверх