Читать книгу Hartstories - Amore Bekker - Страница 8

Оглавление

Die ryloper

Ek is ’n rep en gedurig op die pad. Elke dag slaan ek ’n ander rigting in om na my kliënte se behoeftes om te sien en bestellings vir my maatskappy in te bring. Weekliks ry ek lang paaie en dis vir my ’n plesier om weg te kom uit die besige stad met sy baie mense en druk verkeer.

Ek sien gereeld talle mense ryloop langs die pad, maar laai nooit iemand op vir ’n saamrygeleentheid nie. In ons ou moderne wêreld vandag is dit net te gevaarlik om vreemdelinge op te laai.

Een oggend ry ek weer lekker vroeg van die huis af Porterville toe vir besigheid. Toe ek daar naby Saron kom, staan daar ’n ou dame langs die pad en ryloop. Ek kyk die tannie so en my eerste gedagte is: Ek kan haar nie so alleen langs die pad laat staan nie. Met haar spierwit grys hare netjies in ’n bollatjie agter haar kop vasgemaak, lyk sy baie onskuldig en iets in my sê ek moet stop.

Ek is volstoom op pad en redeneer nog met myself dat ek nie kan stop nie; dis net te gevaarlik. Hier sit ek in volle vaart en baklei met myself oor of ek moet stop of nie. Ek slaan brieke aan en bring die motor tot stilstand, ver verby die tannie, wat nog rustig langs die pad staan en wag. Stoksielalleen. “Wat maak jy?” vra ek vir myself. Dis gevaarlik. Sy kan ’n wolf in skaapsklere wees en ’n mes uitpluk sodra sy in die motor klim. So baklei ek aan. Outomaties sit my ander verstand die motor in trurat en ek kom voor die tannie tot stilstand.

Ek maak die motordeur vir haar oop sodat sy kan inklim. Toe sy langs my sit, soek ek net na een ding: die mes in haar hande. Ek skrik so groot, want in plaas van ’n mes of gevaarlike wapen, hou sy ’n Bybel vas.

“Waar gaan tannie so vroemôre heen?” vra ek.

Sy antwoord: “Voorberg toe. Dit is die tronk net ’n entjie hier af in die pad,” beduie sy die pad vorentoe aan.

Ek neem toe aan dat sy seker ’n familielid in die tronk gaan besoek en vra: “Wat gaan Tannie daar maak? Gaan Tannie vir iemand kuier daar?”

“Ja,” antwoord sy. “Ek gaan drie keer ’n week af na die tronk toe om vir die gevangenes te gaan Bybel lees. Hulle almal ken my daar en hulle weet al ek kom.”

Ons gesels toe heelpad lekker en omtrent agt kilometer verder draai ek by die tronk se gronde in en gaan laai haar by die hek af.

Net voor ons tot siens sê, vra ek haar nog ’n laaste vraag: “Nou hoe kom Tannie elke keer hier?”

En sy antwoord: “Die Here stuur elke keer iemand om my op te laai, en vandag was dit jou beurt.”

Soretha – Kraaifontein

Hartstories

Подняться наверх