Читать книгу Hartstories - Amore Bekker - Страница 20
ОглавлениеDiep kyk
Onlangs lees Amore Bekker Dawid Pieterse se saamrybrief. Hy skryf uit ’n verre land en ek hoor die verlange in sy brief.
Ek dink aan my jare lange vriend en sy familie in Australië.
Een aand bel hy: verlange en trane breek sy stem. Hy sê hy het vir my die ideale pos; as ek wil, is dit myne. “Hier is geen misdaad nie,” sê hy, “ons slaap met oop vensters en deure.”
Goed so, dink ek, net jammer jou hart is so stukkend verlang.
Ek sal lieg as ek sê ek het nie sy aanbod oorweeg nie.
Die Vrydagaand ry ek en my vrou my gunstelingpad: Waterfront toe. Ek doen wat ek en my verlangende vriend as studente gedoen het: blits Kaapstad met die N2 binne, skiet in Millstraat op na Oranjestraat. Aan die bopunt van die stad woerts ek links in Breestraat af en vind my weg na die Waterfront. Heelpad is die onophoudelike panoramiese blik oor die prentjiemooi hawe en sy bote regs van my.
Aanvanklik ry ek teen die Ses verby, en later is die kunsskool regs en die pragtige, eksentrieke Labia links. Verder links staan die rysige, beligte Tafelberg sonder kleed en vriendelik.
Net voor die opdraai na Breestraat swenk Koningin Victoriastraat links af en soms ry ek daarmee. ’n Nou paadjie neem jou verby die planetarium, die ou argiefgebou, die YMCA-gebou en die hooggeregshof.
Regs van die pad lê die geheimsinnige Tuine diep in onpeilbare gedagtes versonke. Ek draai af in Adderleystraat en ry verby die katedraal, die Kasteel wat ’n entjie in staan, die stasie, die standbeelde, Kunstekaap, tot in die dokke.
By die Waterfront smul ons aan sushi en Genesis chardonnay.
Later sit ons by die opelug-amfiteater; styf teenmekaar ...
“Bly of gly?” vra ek.
“Kan jy sonder die Kaap?” vra sy.
Dan sing sy saggies in my oor: “Van Hunks het weer sy pyp gestop, Tafelberg se hoed is op en die bergies begin al huis se kant toe staan. Groenpunttoring knip sy oog, die suidoos maak so ’n wye boog en die Waalpad help jou as jy huis toe gaan ...
“Vertel my weer van die Kaap,” vra sy. “Vertel hoe julle vriende geword het.”
“Ek het verknog geraak aan hier omdat Cats en Phantom in die Kunstekaap beter is as in Haar Majesteit se Theatre naby Piccadilly’s in Londen. Jare terug het ek in die ‘Toiletrolle’ teen die berg gewoon. Hiér het ons Switserse fondue geëet en laatnag by Groot Constantia se taphuis wyn gaan drink. Een aand het ek die berg bekyk – diep bekyk: verby die materie tot in die misterie van die stapels klip en rots se oë. ’n Engel het gekom en vir my gesê ek het my hart op die Kaap verloor.”
Ons ry terug. By die huis gekom, bel my vriend. “Ek dink jy moet terugkom,” sê ek.
Hugo Geldenhuys – Caledon