Читать книгу Hartstories - Amore Bekker - Страница 4

Оглавление

’n Engel met ratte

Baie van ons het maar min genade vir die groot vragmotors op ons land se paaie en hul bestuurders, maar ek sê vir jou, hierdie manne en hulle trokke is eintlik engele.

Deesdae verkies ek om nie meer in die donker te bestuur nie. Maar soms het mens nie ’n keuse nie – en só gebeur dit toe dat ek baie laat uit die Tankwa-Karoo kom en huis toe ry. Dit is donker, dit reën, die wind waai, en die pad is besig. In Michellspas, net buitekant Ceres, beland ek agter ’n groot vragmotor. ’n Ou grote met ’n Windhoek-registrasie­nommer.

Ek ry stadig agter die vragmotor en sug diep sugte, want daar is nie naastenby ’n kans dat ek kan verbykom nie. Ek word gedwing om, baie stadig en baie vies, agter hom te ry.

By die afdraai na Worcester het ek wél ’n keuse: ek kan afdraai en oor Bainskloof huis toe te ry, óf die effe langer pad verby Tulbagh.

Bainskloofpas in die nag? Terwyl dit reën? Nee, dít doen ek nie.

Nou is dit ek agter die groot vragmotor, rigting Tulbagh.

Die groot geneuk is net dat ’n groot gedeelte van die pad tussen Michellspas en Tulbagh op die oomblik opgeknap word. Daar is soveel verleggings dat mens selfs in die dag moet kophou en rigting hou, en daar is géén kans om ’n stadige voertuig verby te steek nie. En hier sit ek nou – agter ’n groot vragmotor wat regtig baie stadig ry.

Ek ry kilometers ver agter die vragmotor, en toe besef ek skielik: in hierdie verskriklike stormnag is ek op die veiligste plek waar ek kan wees! Soos ’n Ouboet ry die groot vragmotor voor my en beskerm my met sy groot lyf. Nie een van die stroom karre wat van voor af kom, skyn hul skerp ligte in my oë nie, die ou grote keer dit alles af. Niemand gaan van voor af oor ’n baan ry en in my vasry nie, want hy is ’n buffer tussen my en die aankomende verkeer, ’n “vaste burg”, soos die Hallelujalied sê. Boonop keer hy met sy lyf die ergste reënvlae van voor, ek is in sy rustige vaarwater. Soos in die Follow the Leader-speletjie ry hy netjies deur al die baie draaie en kronkels, en ek volg sonder enige spanning of angstigheid. Sy agterligte verlig my pad helder; ek volg waar hy gaan.

Toe ons deur die Nuwekloofpas anderkant Tulbagh kom, is ek nog steeds agter hom. Teen dié tyd ry ek al seker amper dertig kilometer ver agter die vragmotor. Hy wys met sy flikkerligte dit is veilig om hom verby te steek, maar ek besluit: Nee wat, dit is lekker hier onder jou blad, ek bly net hier waar ek is.

Toe die vragmotor by Gouda regs afdraai, Namibië toe, voel dit of ek ’n vriend verloor. Oor twintig minute is ek tuis, maar hy gaan dalk deur die nag ry, in reën en wind en koue. Hardop sê ek: “Dankie, Ouboet. Ry veilig! Ek stuur een van my engele saam met jou op die lang, donker pad.”

My raad aan almal wat angstig voel op die pad: Kry vir jou ’n vragmotor en ry agter hom. Dit is ’n engel – een met tyres en baie ratte.

Riana Scheepers – Wildernis

Hartstories

Подняться наверх