Читать книгу Hartstories - Amore Bekker - Страница 14

Оглавление

Die Nkosaan in sy vliegtuig

As die aarde so vinnig onder die vliegtuig se vlerke verbygaan dat die motors en diere soos speelgoed lyk, en die son rooi hang in die weste, dan is dit huistoegaantyd. Net gou ’n wye draai vlieg oor ons huis om vir Vroulief te laat weet nog ’n dag se werk is agter die rug.

As die vliegtuig se wiele oor die aanloopbaan rol in die rigting van die vliegtuigloods, staan drie swart mans hom met breë glimlagte en inwag, want hul “Nkosaan” is veilig terug en dit beteken hulle het nog môre ’n dak oor die kop en kos op die tafel. Gou word die giftenk uitgespoel, die brandstoftenk gevul en die voorruit gewas, want môreoggend vieruur begin ’n nuwe dag weer. Daarna word die vyftonner versigtig ingestoot vir die nag.

Dan eers word die rit huise toe aangedurf. Eerste word twee van die mans by die robot afgelaai waar taxi’s mense aflaai en vinnig ’n U-draai maak om hulle volgende groep mense te gaan oplaai.

Rustig ry die laaste twee mans verby groot bome en dan verby mooi huise terwyl groot vragmotors die pad met hulle deel. By die huis skuif die skuifhek oop, die motorhuisdeur glip op en die reuk van ’n lekker aandete kom uit die kombuis aangesweef. Met die belofte van ’n bord kos nadat hy warm gestort het, stap die derde swart man om die huis se hoek. Die motorhuisdeur glip toe vir die nag, en as Pappa by die huis instap, is daar drie kinders wat gelyk op hom afstorm en elkeen hul eie storie oor die dag begin vertel. Mamma moet maar tot laaste wag om ook ’n bietjie van sy aandag te kry.

Vandag, nege jaar later, is al drie kinders uit die huis, die vliegtuig vlieg nie meer oor die huis nie, die skuifhek skuif nie meer oop nie, die motorhuisdeur glip nie meer op nie, die voetstappe het stil geword, daar word nie meer aandete gemaak nie. Die drie mans werk nou elders, want hulle “Nkosaan” en die huis se pappa het net een middag nie weer teruggekom nie.

Nadine

Hartstories

Подняться наверх