Читать книгу Hartstories - Amore Bekker - Страница 12

Оглавление

Die wind se wonderlike geure

Uit Langstraat swaai ek links in Riebeekstraat. Op die sy­paadjies begin die toue al vorm vir die bus na Mitchells Plain en ander plekke op die Kaapse Vlakte. Dis spitstydverkeer en ek probeer in die mense se gesigte lees wat in hulle koppe aangaan.

Dan draai ek regs in Adderleystraat en ek kyk onwillekeurig in die rigting van die standbeeld van die Onbekende Soldaat, waar die laaste ruikers nou besig is om te verdroog. Jan van Riebeeck se standbeeld, waar hy so trots en deftig staan, is so vyftig meter verder.

En skielik is die majestueuse Tafelberg in al sy glorie reg voor my, met die kabelkarretjies wat piepklein teen die berg hang. Wat ’n gesig!

Ek vererg my ’n bietjie vir die horde mense op pad stasie toe wat hulle tyd neem om die pad by die Fifa 2010 Fan Walk oor te steek, en wens dat ons voetgangers meer gedis­siplineerd wou wees.

Net voor ek links draai in Darlingstraat, vergeet ek gou van my ergerlikheid as ek verby die helder geklede blommever­kopers met hulle wonderlike sêgoed ry. My gunstelinggebou in die hele wêreld is op regterkant – die Kaapse Stadsaal. Die bouwerk is elke dag vir my mooier en ek wens al die ou geboue kon behoue gebly het. Aan die linkerkant van die pad, op die Kaapse Parade, is dit ’n miernes van bedrywighede met die vrugteverkopers wat heeldag hul sêgoed kwytraak: “Avokadopere maak die hare mere!” en: “Een byt en die heu­ning spuit!”

Reg voor my is die Kasteel de Goede Hoop met die toe­ristebusse wat elke dag kom kuier en die toeriste met hulle Canon-kameras en sonhoedens. Vandag lyk dit na Chinese of een of ander Verre-Oosterse groep.

Ek hou regs deur die ou Distrik Ses-gebied, al met Keizersgracht langs. Hier en daar lê nog klein hopies bourommel wat herinner aan ’n periode wat ons liefs wil vergeet. Net die kerkgeboue en moskees is gespaar. Maar as jy mooi luister, kan jy nog die nagtroepe en Kaapse Klopse se ghoema-liedjies op die suidoos hoor.

Nou ry ek deur Walmer Estate en daarna University Estate, waar die wind die wonderlike geure van die Maleier­gebied se brijani, samoesas, daltjies en kerriekosse by my oop venster indra.

En as ek uiteindelik my plek inneem agter die ander verkeer op De Waal-rylaan, aan die voet van Tafelberg en Duiwels­piek, en ek sien Tafelbaai uitgestrek lê aan die ander kant en Robbeneiland wat rustig verkeer in die koue Atlantiese Oseaan, dan weet ek: daar is nêrens in die hele wêreld waar ek eerder wil wees nie.

Mervyn Matalie – Kaapstad

Hartstories

Подняться наверх