Читать книгу Hartstories - Amore Bekker - Страница 17

Оглавление

Die heeldaggemeente

My huistoerystorie verskil so bietjie van die ander stories: myne is ’n heeldagstorie. Ek is ’n predikant in Alberton en my ry is elke dag so tussen my gemeente deur. Ek deel saam met hulle in hulle hartseer, maar ook in hulle vreugde.

In die oggende is dit die bejaardes se beurt en dan luister jy na die gesels oor die pyn en die ou liggaam wat nie meer wil saamwerk nie; die kinders wat nie meer kom kuier nie. “Maar jy moet onthou, hulle is baie besig, Dominee, hulle het vername werke,” maar haar oë sê vir jou dat sy haarself nie glo nie, en sy dink jy het nie die traan gesien nie ...

Die ander oom vertel vir jou hoe sterk hy was, hoe hy gejag het, hoe baie dinge hy kon doen; visgevang. “Maar ai, Dominee, nou vreet die artritis my op en my ou hande wil nie meer nie,” en jy sien hoe hy terugverlang na die dae toe hy nog kon.

Die tannie met die mooi silwergrys hare wys jou die foto’s van die kleinkinders en vertel hoe hulle presteer en hoe lief hulle vir Ouma is, en hulle kom kuier gereeld. En Marietjie is hoofdogter en Ouma is so gelukkig.

Jy dra elkeen van hulle aan die sorg van die Allerhoogste op, maar as jy daar wegry, dan wonder jy tog hoe jóú oudag eendag gaan wees ...

Na middagete is dit so ’n bietjie werk in die studeerkamer en dan so teen 15:30 is jy weer op pad na jou mense. Jy hou stil by Jan en Marie, wat albei al lank werkloos is. “Jan was gister vir ’n interview, Dominee.” En jy sien die hoop in haar moeë oë. Jy dink nie veel van die kos wat jy saamgebring het nie, daar’s niks luuks by nie, maar as die vuil handjies van ’n kleuter styf om jou bene vou en jy hoor: “Dankie vir die kossies, Oom,” dan breek jou hart. En jy tel hom op en druk hom styf teen jou vas en jou hele wese roep na God: “Gee werk, asseblief, Vader.”

Die radio is op RSG gestel en toe ek die motor aanskakel om te ry speel Amore Leon Ferreira se “Stop die wêreld, ek het seergekry ...”

Toe ek by die volgende huis aankom, wag Bernard al vir my buite op die gras. Terwyl ek nog besig is om uit te klim, juig hy: “Ek’s deur, Oom, ek’t dit gemaak, Oom!” My ge­dagtes gaan terug na vyf jaar gelede toe sy pa oorlede is en die kerkraad besluit het om vir hom verantwoordelikheid te neem – skoolfonds, boeke, klere, ekstra klasse – want hy het soveel belofte getoon. En nou is hy matriek deur ... Ek het nooit ’n seun gehad nie, maar op daardie oomblik het ek ge­weet hoe dit voel om die trotse pa van ’n baie spesiale seun te wees. En ek besluit net daar: Ons gaan hom laat studeer!

My selfoon lui en die stem aan die ander kant is benoud: “Dominee, kan jy dadelik kom, die dokter sê Erika gaan nie vanaand maak nie.” Toe ek langs haar bed staan, lyk sy baie ouer as haar sewentien jaar. Die kanker het haar liggaam verniel. Sy was so ’n oulike mens; so mooi geleef, so moedig. Sy lyk nes haar pa en nou verlaat sy ons ... Hoe hartroe­rend was dit toe Pappa en Mamma snikkend groet. Toe ek daarna my arms om hulle skouers vou, was dit asof ek hierdie twee mense se pyn kon voel en ek het geweet die pad vorentoe gaan baie, baie lank en baie, baie moeilik wees, maar deur die genade gaan hulle daardeur kom. En ek gaan die pad saam met hulle stap – hulle is mý mense.

Van daar af gaan loer ek by die kraamsaal in en kry Debbie met haar nuwe babatjie in haar arms: die mooiste ou dingetjie, so pragtig, so volmaak. Pa is ook daar en dit lyk asof sy hemp nie knope het nie. “Dis hierdie keer ’n laaitie, Dominee!” Wat ’n voorreg om saam dankie te sê vir so ’n groot wonderwerk.

Toe ek donkeraand moeg by die huis kom, lui my selfoon. Dis Jan. “Dominee, ek het die job gekry, Dominee.” Vir ’n wyle kan ek niks sê nie. Trane rol oor my wange en ek sien ’n kleutertjie met vuil handjies wat van nou af elke dag kossies gaan hê. Net môre vat ek vir hom ’n groot tjoklit.

Eddie Botha – Alberton

Hartstories

Подняться наверх