Читать книгу Hartstories - Amore Bekker - Страница 21

Оглавление

Dagreis deur ’n gemeente

Ek vertel vandag van ’n dagreis deur my gemeente toe ek in 2006 predikant was in Port Elizabeth.

Vir my eerste besoek is ek hawe toe. Richard is kaptein op ’n treiler en hy kom vanoggend in ná ’n paar dae op see. Hy het my van die see met sy selfoon geskakel en hy het geborrel: “Die skuit is vol, Dominee, die gebed het gewerk ...”

’n Paar dae vantevore was hy baie moedeloos – die vis was skaars en hy kon nie sy kwota vang nie. Ons het saam op die skuit geklim en gebid en om hulp gevra, want dis ’n harde lewe dié, hierdie manne kry swaar. En hier bring hy nou die skuit die hawe in met ’n vol vrag vis na net enkele dae op see – ’n moderne wonder-visvangs soos in Petrus se tyd! Ek dink nie ek het al ooit so ’n breë glimlag op ’n visserman se gesig gesien soos daardie dag nie. Hierdie wonderwerk het daartoe gelei dat daar ’n ommekeer in sy lewe gekom het, want hy het besef Iemand Groots gee vir die vissermanne om.

My volgende stop is by Petrus. Hy is vir my ’n sprekende voorbeeld van die onbeperkte genade vir die mens. Hy maak die deur oop en groet my met sy kenmerkende skewe glimlag. “Hallo, Dominee! Dominee is vroeg aan die gang.” Hy groet met die linkerhand, want die beroerte het sy regterhand gevat. Hy het ook sy lewe uit die see gemaak, ’n visserman, maar toe kom die beroerte en kon hy nie meer visvang nie. Die drank en depressie het toe oorgeneem. “Ek het gedrink, want ek het gevoel ek beteken niks, Dominee. Iets was weg uit my lewe, ek was leeg hier binnekant.”

Dag vir dag vir dag het hy, met geld wat hy gebedel of by mense geleen het, by die sjebeen gaan drink. Dan het hy, dronk en met die een been wat so sleep-sleep saamkom, probeer huis toe stap. Hy het selde die huis gehaal, meestal neer­geslaan en daar waar hy val, daar bly hy lê en slaap, sommer net daar.

Eendag het hy naby ons kerk geval. Sal ek ooit die uitdruk­king in sy oë vergeet toe ek daar by hom kniel en hom wakker maak? Dit was iets van: “Ag, help my asseblief. Meneer, ek is nie nie sleg nie, Meneer, ek is net baie seer.”

In daardie oomblikke gebeur daar iets met jou. Dis asof ’n onsigbare tou jou aan hierdie stukkende mens vasmaak en jy wéét: “Ek gaan jou nie los nie, ek gaan hierdie pad saam met jou stap totdat ...” En deur die genade kon ons hom help. Nou sleep sy been nie meer sjebeen toe nie, nou is dit kerk toe. Ek gee hom ’n drukkie toe ek groet en ek sien sy oë word vogtig. “Ek het nog ’n kans gekry, Dominee.” En ek sluk self maar baie swaar aan hierdie knop in my keel.

Later gaan maak ek ’n draai by die Shelter, ’n straatskuiling vir kinders waarby die gemeente betrokke is. Wil net loer hoe dit met die kinders gaan. Ek groet vir Thabo, ’n oulike tienjarige seun. Hy het in die Transkei gewoon en sy pa het in Port Elizabeth gewerk. Hy het baie swaar gekry by die huis en toe vat hy die taxi PE toe: “Ek gaan na my pa soek.” Maar hoe kry jy jou pa in so ’n groot stad as jy nie die werk- of woonadres het nie? Die gevolg? Hy land op straat, sonder kos en sonder heenkome. Genadiglik is hy op straat gekry en by die Shelter ingeneem. Na ’n aanvanklike moeilike aanpassing het hy ontluik in ’n briljante leerder met uitsteken­de skooluitslae. Sê nou maar net hy is nie gekry nie? Hy sou net nog een van die mishandelde, gemolesteerde kindermoord­statistieke geword het! En daar is ’n refrein hier in my binne­ste: “Dankie, baie baie dankie dat ons Thabo gekry het voor­dat die aasvoëls van die nag hom gekry het.”

Maria is ook in die Shelter. Sy was net twaalf toe sy en haar vyfjarige boetie op straat gekry is – maer, bang, verskrik en honger. Soos ’n moderne Hansie en Grietjie het hulle ouers weens die haglike omstandighede by die huis besluit dat hulle nie meer vir die kinders kon sorg nie en hulle in die stad gaan aflaai. Die opdrag was: “Moenie weer huis toe kom nie.” Toe die gebedel nie genoeg geld vir kos ingebring het nie, was sy gedwing om haar ou liggaampie te verkoop – teen vyf rand ’n keer. “Ek moes vir Boetie kos koop, Oom,” maak sy verskoning, die pyn en verwerping duidelik sigbaar in haar mooi ogies. Jy voel jy wil haar teen jou vasdruk en haar nooit, nooit weer los nie. Jy wens jy kan die seer wegvat, dit ver weggooi ... Boetie praat nie. Hy hou net aan Sussie vas, probeer haar troos, want hy het alles gesien wat met haar gebeur het. Sy is sy sekuriteit, sy is al wat hy in die hele wêreld oorhet.

Dis wonderlik dat hulle gekry is. Nou kan daar vir hulle ’n nuwe toekoms beplan word ... Maar moet ons in Suid-Afrika nie hande vat om die kinders te “kry” wat nog nie “gekry” is nie?

Eddie Botha – Alberton

Hartstories

Подняться наверх