Читать книгу Hartstories - Amore Bekker - Страница 5
ОглавлениеVeldpiepie
Daar’s nie Ultra-Shitty’s of 1-stops in die Moordenaarskaroo nie. Dis grond- en stofpaaie en ompaaie; hartspaaie. Lekkerry-paaie met uitsigte wat jou asem wegslaan.
Padkos eet onder eensame bome langs vleitjies en riviertjies wat nie eens op die kaart wys nie – nee, die Karoo is nie vaal nie, dis naas Namakwaland in die lente een van die kleurvolste dele van ons land.
My “kruiskarretjie” (crossover vehicle) was gepak vir die road trip van ’n leeftyd: GPS op die windskerm, padkaart op die sitplek, op die vloer langs my die padkos en genoeg water vir die warm dae agter die passasiersitplek, CD’s, en in die bagasiebak die ander bagasie en die sanitary stop-sakkie. Ek het geweet ek sou langs die pad moet stop as die natuur letterlik begin roep, so ek was voorbereid. Dié spesiale sakkie het toiletpapier, waterlose handreiniger en Wet Wipes ingehad, asook plastieksakkies vir die toiletpapier, want mens gooi mos nie langs die pad weg nie. Wel, dis hoe ek geleer het. Een of ander sotlike stadsjapie het ’n vuil babadoek langs ’n uitkykpunt in die middel van ’n bergpas gelos. Wie het sy nou gedink gaan dit optel en in die asblik – net ’n paar meter verder – gooi?
Dis laatmiddag op die tweede reisdag en my kar is lankal nie meer rooi nie; dis toe onder die wit stof. Dit lyk of ek die voorloper in die Dakar Rally is. Dis warm en ek het liters water gedrink sedert ek by die laaste dorp petrol ingegooi het. Anderkant Fraserburg op ’n tweespoorpad op pad Merweville toe moet ek toe stop vir ’n veldpiepie.
As mens ’n bakkie ry, maak jy die deur oop en maak jou teen die kant sit – maak net seker dat jy nie te diep sit nie, anders piepie jy in die bakkie. My kar is effens laer en as ek met my oorlogknieë moet hurk, gaan ek omval in die stof én die plassie. Ek is nie eens bang vir ander karre of mense nie; dit is so verlate, daar is geen Vodacom nie, geen RSG meer nie – selfs die stemme in my kop is stil.
Dis ’n taamlik grafiese beskrywing, maar dit behoort ook as raad te dien vir ander dames wat nie goed hurk nie. Klere om die enkels maak ek my teen ’n negentig-grade-hoek sit en leun met my agterstewe teen die motordeur. My skoene en klere bly droog en ek kan ook nog die uitsig geniet waar die Noord- en Wes-Kaap mekaar ontmoet. Ek was hande, sorteer die sakkies uit en vat die stofpad.
Tagtig kilometer later spoeg die stofpaadjie my uit op die pragtige klein dorpie Merweville. Buite die kafee staan ’n troppie veldmotorfietse en die bestuurders sit op die stoep, elk met ’n Coke – hulle en die fietse is net so vol stof soos my kar. Hulle lyk trouens soos byeboere, so wit is daai motorfietspakke van hulle.
“Middag,” groet ek.
“Dame,” groet hulle terug. Ja, op die platteland groet mense nog – daar is goeie maniere nog ’n algemene verskynsel.
Ek hoor hoe hulle bespiegel oor my alleenryery en dan hoor ek hoe hulle lag oor die lewe wat makliker is vir mans.
“Ja wat, ons staan mos sommerso langs die pad, nikse boom- of sitpleksoek nie.”
Ek stap uit met my Coke en ons gesels so ’n bietjie oor ons roetes. Hulle is op ’n dag-trip en gaan terugry Kaap toe via die grondpad tot op Leeu-Gamka, dan die N1. Ek gaan nog eers die Engelsman se graf soek, dan die Nuweveldberge oor tot naby Laingsburg, dan Kaap toe.
Ons drink ons koeldrank klaar en gee die botteltjies vir die kinders wat rondstaan vir ’n sakgeldjie.
“Dink Dame nie Dame moet eers by die garage stop nie?”
“Nee wat, my kar is nog nie eens half nie, ek het op Fraserburg volgemaak.”
“Nee, Dame, nie vir die kar nie – om ’n draai te loop, die pad is nog lank.”
Wat bedoel die man? dink ek. Ek weet mos van veldpiepie. Lyk ek vir hom soos ’n poppie wat bang is?
Maar dis toe ek na my kar toe loop en die afdruk in die stof van my boudjies en handpalms teen die deur sien, dat ek so rooi bloos soos die kar onder die wit stof is. Ek wens die aarde wil my insluk.
Ja, dis waar: “Stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” – maar tot dan ...
Veralda Schmidt – Pretoria