Читать книгу Hartstories - Amore Bekker - Страница 18

Оглавление

Agter op my motorfiets

Die sportverrigtinge by Laerskool Elandskraal is verby en soos gewoonlik op ’n Saterdag-laatmiddag paradeer die vyf kannetjies voor die rondawel waar ek my ysterperd stoor. Hulle ogies blink gedagtig aan die motorfietsrit wat voorlê en waarna hulle al die hele week uitsien.

Ek voel jammer vir dié outjies, wie se ouers dit nie breed het nie – hulle is arbeiders op die plaas Swartkoppies, geleë tussen Brits en Rustenburg. Geleenthede vir die kinders is bitter min in ag genome hul ouers se gebrek aan opleiding en finansiële posisie. Ek kan maar net wonder waarheen die toekomspad hulle sal lei. Dit is veral Sipho wat my hart breek, want hy is skrander en met die nodige geleenthede kan daar ’n blink toekoms op hom wag.

Ongeag my bekommernisse oor die knapies se toekoms ry hulle sorgeloos om die beurt agter op die motorfiets. Ons skiet verby Koos Hoed se opstal, met ’n wip oor die driffie by die Sterkstroomrivier, verby die afdraai Plekkie toe tot waar ons rit eindig by oom David Traut se plaashuis. Terloops, Plekkie is ’n ontspanningsoord wat behoort aan Fanus Botha, destyds lid van die sanggroep Die Ou Menere.

Na die plaasmoord op ons buurman is dit te verstane dat my vrou, Juanita, nie langer deel van die plaaslewe wou wees nie. Die uiteinde is dat ons Brits toe gaan verhuis en ons grond en huis op Swartkoppies gaan verhuur.

Die laaste motorfietsrit breek aan. Ek verduidelik aan die seuns dat ek dorp toe trek en nie meer op Saterdae daar sal wees vir hulle ritjies op die motorfiets nie. Dieselfde roete word vir oulaas gevolg, met Sipho wat aan my vashou asof hy my nie wil laat gaan nie.

Dis groettyd. Elkeen kry ’n drukkie. Die afgelope paar jaar het ons unieke kamerade geword met ’n besonderse band tussen ons. Ek groet vir Sipho laaste, met my oë na die hemelruim, want ek is bang as ek hom in die oë kyk, sien hy die trane in my oë. “Sipho, byt vas en leer hard. Ek weet jy sal eendag bo uitkom,” is my laaste woorde aan hom.

Die jare het verbygevlieg. Ek kry ’n boodskap dat ’n myngroep belangstel om my grond te koop. Die kontakpersoon wat ek moet sien, is ene mnr. Malatji.

Twee dae later staan ek voor mnr. Malatji se kantoordeur en klop aan. ’n Vriendelike dame verwittig my dat mnr. Malatji my verwag en nooi my binne.

Ek staan in die deur en agter ’n groot lessenaar sit mnr. Malatji met ’n spierwit hemp en ’n vrolik gekleurde das. Sy oë is vasgenael op die rekenaar en ek wag geduldig op sy aandag.

Dan stoot hy sy groot lessenaarstoel agteruit en gooi ’n laaste blik in die rekenaar se rigting. Ons maak uiteindelik oog­kontak. “Sipho, jou bliksem, is dit tog nie jy nie?” is al wat ek kan uitkry. Op ’n drafstappie kom hy in my rigting en slaan sy arms om my. En deur my ge­dagtes flits die laaste motor­fietsrit, waar Sipho op lewe en dood aan my vasgeklou het.

Bossie Botha – Brits

Hartstories

Подняться наверх