Читать книгу Hartstories - Amore Bekker - Страница 11
ОглавлениеMy en Ouma se pad
Die roete wat ek elke dag ry vandat ek in Coega, aan die buitewyke van PE, werk, vat my verby sekere plekkies en paaie wat ek as kind saam met my ouma geloop het. My ouma is nou een-en-tagtig en ek een-en-veertig. Sy is bedlêend, haar bene is geamputeer, en in haar eie woorde: “Sy wil net doodgaan.” Ironies genoeg, soveel as wat sy bid en vra dat die liewe Vader haar asseblief tog net moet kom haal, net so hard bid ek en vra dat Hy haar asseblief tog net nié moet kom haal nie. Ek weet nie wat ek sonder haar sal doen nie.
So ry ek vanaf Coega, al langs die see af, bo-oor die Blouwaterbaai-brug, verby die stink fabriek waar dit ruik of iemand ’n windjie gelos het, verby die dolosse, tot daar waar die pad vurk. Dan kies ek die Setlaarspad, tot by die Mountweg-afrit. En as ek gelukkig is, dan kry ek die robot groen, en dan hop en vlieg ek oor die bult in die pad, ál nader aan my huis.
Dis hier waar my en Ouma se pad begin: by Sebastiaanstraat en die woonstel waar my man toevallig as jong seun gewoon het. Dan onthou ek hoe ek as jong dogtertjie vir Ouma help sakke dra het nadat ons geloop en inkopies doen het by Constantia (nou Pier 14).
Dan ry ek by die verkeersirkel by die Noordeinde-biblioteek verby, hier waar ek en Ouma baie dae gaan boeke uitneem het; sy haar geliefde Mills & Boons en ek Afrikaanse stories deur van my gunstelingskrywers. Dit was so lekker om saam met my ouma boeke uit te neem, te kyk hoe hulle die boek binne-in stempel, en net die stilte van die plek te beleef.
Dan ry ek om die sirkel, verby die ou mark, daar waar ons “short cut” huis toe gevat het, want teen daai tyd was die sakke al báie swaar, en die vyftig sent se “curry brawn” wat Ouma vir my gekoop het (dit was en is nog steeds een van my gunstelinge!) is al opgeëet. Dan sien ek die woonstelle daar voor en ek weet: ons is amper by die huis. Dikwels was my arms lam en my hande seer, dan het Ouma maar my sakke ook gedra. Terwyl ons loop en gesels oor álles. Soos ek ouer geword het, kon ons nog steeds oor álles gesels.
En dan, as ek verby die woonstelle ry, dan loer ek so regs, kyk na die dakke van die munisipale huise daar onder, onthou Ouma en Oupa se huis, en sluk swaar aan die knop in my keel. Want die huis behoort nou aan iemand anders, ek is groot, Ouma is oud, en daai tye is vir ewig verby.
Linda Rautenbach – Port Elizabeth