Читать книгу Voetstoots - Annelie Botes - Страница 22

15. Hoe spietkops kan verskil
23 Februarie 2009

Оглавление

Op pad Olifantshoek toe word ons naby Kimberley deur ’n drilvet verkeersman afgetrek, en die gryse word R500 beboet omdat sy liksenskaart verval het. Ek erg my tot bloedkloppings.

Ander saak as ons roekeloos was, maar alles aan ons Amakeia-Astra werk perfek, en ons het veertig gery in ’n veertigsone. Tog het die Reus van Doringberg nie ophou grawe voor hy iets vind waarmee hy op ons kon toesak nie. Ek het by ’n beroerte gedraai oor die snedige, vermakerige houding van die blinkvet wetter. Tog so oppermagtig met die boek en pen in sy hand.

Vir omtrent vyftig kilometer het ek eierbroodjies ingeryg en die gryse bombardeer met hoe die verkeersisteem in Engeland werk. In my Granny-tyd het ek my verstom as die sesbaanspitsverkeer tot stilstand kom, sodat ek Granny met die rolstoel kon oorstoot. Maar laat ek vertel van ’n ander mooi verkeerstorie.

In 2006, toe ons kind op genade in Engeland rondry met haar nukkerige Vauxhall genaamd Gertie, bel sy een nag. Knap voor middernag, vertel sy, op pad huis toe ná sestien sjef-ure, het die Bobbies haar voorgekeer en Gertie afgetrek. Juis was sy op ’n kamstige studiepermit en het sy haar toegelate werksure oorskry. Haar angs was dat sy gedeporteer sal word. Die Bobby hurk by die bestuurdersdeur en verseker haar sagkens dat hulle bloot álle Vauxhalls saans ná elfuur stop, want die meeste laatnagmisdaad word gepleeg vanuit ouerige Vauxhalls.

Sy snuit haar neus. Terugskouend dink ek die verkeersman het hom vrek geskrik, want toe Nasti in Bellevue-koshuis in Somerset- Oos was, is gespot dat die opstaanklok nie hoef te lui nie, want Nasti snuit almal wakker.

Ewentwil.

Die verkeersman sê sy moet oorskuif na die passasierskant, dan sal hulle haar huis toe neem, agt myl ver. Glo omdat sy so ontsteld voorkom. By die huis begelei hulle haar tot by die voordeur. Toe kom die gróót verrassing. Die verkeersman vul ’n vorm in waarmee sy die volgende dag gratis kan dokter toe gaan, ingeval sy kalmeerpille of terapie nodig het. En ’n magtigingsnota om die volgende dag af siek te boek. Hy belowe dat dit nie weer sal gebeur nie, want Gertie is op die rekenaarsisteem geregistreer as veilig.

Drie dae later kry sy ’n verskoningsbrief van die verkeersdepartement.

Dis nié ’n opmaakstorie nie.

Nes dit waar is dat ek en Granny op ’n bloulugdag met die rolstoel gaan stap het, en oorval is deur gietende reën. Twee verkeersmanne het by ons gestop. Die een het ’n tinfoeliekombers oor haar bene gevou en die rolstoel met ’n spoed gestoot. Die ander het trippelend ’n sambreel oor die oumens gehou. Die ekstra sambreel is vir mý gegee. ’n Myl verder was ek en Granny tuis, saam met twee deurweekte manne.

Die Reus van Doringberg is ’n misbaksel. ’n Mens behoort hom te bejammer. Sy boeteboek is die toppunt van sy sukses.

Voetstoots

Подняться наверх